Hoe kaal staan die bome
En yler die gras
Hoe grou word ‘n kouer hemel gewas
As die najaar gedwee verval tot
Die grys onverbiddelike dae in mei
Hoe moeg van reis en droom was ek
Te veel het ek trotseer
‘n swerwerster verskiet tot niet
As vriendskap rus na jare bied
En Junie se swartryp was ‘n warm karos
En geraamtes van bome was ‘n landkaart wat bros
Teen die wolke versprei en ons vrae verklaar
Ja die winter was tydlose dae
Kosbare dae
In Julie se kaggel en vretende wind
is die somer se soelte in vriendskap gevind
Was die rooiwyn belee na ure se weef
Aan die drome wat more sou leef
Maar illusies en ambisies vrek
Soos die jare kom en gaan
Word drome ook soos bronsbeslaande skoene
Op ‘n rak geplaas
Vandag lê die winter veel dieper in my
Vandag lê die vlaktes kaler gewei
Maar augustus se winde wat troosteloos maal
Het die lente dalk iewers gaan haal
- Johan Horn
No comments:
Post a Comment