Saturday, May 31, 2008

Die duif

Vannaand het ek gesien hoe ‘n duif in die kanaal spartel. Die kanaal is so ‘n halfmeter onder die wal, so daar is geen manier uit nie. Ek het die besem gegryp, kaalvoet die trappe afgehol en oor die heining in die honde-uitlaatplaats ingeklim en teen die steilte afgeskarrel. Eers was die duif ver buite bereik; selfs oorgeswen na die ander kant van die kanaal. Heeltyd stroomop geswem. In daardie yskoue water. Toe trek die stroom hom terug na my kant toe. Ek het die besem onder hom laat insak en hom stadig opgetrek. Hy het ‘n paar keer afgeval, maar uiteindelik kon ek hom neersit op ‘n overflow-sementlysie. Op daardie plek is ek nogal ver bo die water – meer as ‘n meter – en die lysie so ‘n halfmeter. Die lysie gaan diep in (is ‘n overflow after all). Ek kon seker plat op my maag lê en die duif probeer optel en huis toe dra. Maar as hy net effentjies gespartel het, was hy weer terug in die water in, so ek het hom daar gelos.

Nou vir die million dollar question. Hoekom het ek twee stelle trappe afgehardloop en kaalvoet deur ‘n hondetoilet gehardloop om ‘n duif te gaan red; ‘n duif wat dalk ten spyte van my moeite steeds sal sterf? Dieselfde spesie wat hulle merke hier teen my ruite kom maak. Ek weet nie. Dink dis die soort mens wat ek graag wil wees. Dink dis die soort mens wat ek op alle gebiede in my lewe wil wees. Die soort mens wat daadwerklik help. Die soort mens wat nie net stilstaan en ‘n slegte ding toelaat om te gebeur nie. Die soort mens wat dinge beter probeer maak waar ek kan – al vra dit opofferings.

Probleem is dat mens nie altyd is wat jy graag wil wees nie. So, bepaal ons ons aksies, of bepaal ons aksies ons?

Ons vir jou Suid-Afrika

Vandag is die laaste dag van Mei en sou Republiekdag gewees het as die klok 'n hele paar jaar teruggedraai word. Ek onthou die laaste skooldae voor Republiekdae goed. Ons het ons landsvlaggies ingekleur en op stokkies gegom. Klas vir klas is die vlaglied in ons ingedril. Die skool het altyd 'n hele seremonie van die saak gemaak en ons het in stilte geluister hoe die sangjuffrou dawerend 'O hoor jy die magtige dreuning?' op die klavier uittokkel.

Daarna is die vlae gehys - die grotes wat van lap gemaak is - teen daardie tyd het die helfte van die laerskoolkinders lankal hulle s'n geskeur,laat val of die stokkie uitgehaal om darem iets te hê om aan te kou. Met die hys van die skoolvlag het ons (natuurlik op aandag) die skoollied gesing. Vir een maal in die jaar het die gehys van die landsvlag nie gepaard gegaan met Die Stem nie, maar met die Vlaglied. Hiervoor is ook op aandag gestaan, maar met die laaste sterwensnote, is die vlae op stokkies lustig gewaai. Nou by nadenke is daar baie ironie in die vlaglied se woorde, maar die wysie was pragtig. Is nog, maar niemand gaan hom nou meer sing nie. Nie openlik nie. Die verrigtinge het altyd 'n goeie dosis "Vir Volk en Vaderland" ingehad en is afgesluit met Die Stem.

Hoekom het ek nie toe gesien wat ek nou sien nie? Dis seker waar dat sinne wat vir "Volk en Vaderland" inhet jou rasionele denke onderdruk. Maar het ons almal nie nodig om in iets te glo nie? Glo aan die goedheid van die mens - of ten minste aan die goedheid van jou eie mense...

Beste van als is dat ons op daardie dag vroeg huis toe kon gaan.


Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
"Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika?"
Ons weet hy's die seël van ons vryheid en reg
Vir naaste en vreemdling, vir oorman en kneg;
Die pand van ons erf'nis, geslag op geslag,
Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;
Ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
Die vlag van ons eie Suid-Afrika.


Batcat


Sy regte naam is Tacco en hy kom uit Indië uit. Volksname is Batflower of Cat's wiskers. For obvious reasons. Is dit nie lieflik nie? Die plant staan so heuphoog (seker so 'n meter?) met blom en al en die blom is so groot soos my twee hande teen mekaar - as mens die duime weglaat. Dis fluweelswart met 'n skaduwee van rooi en die langste snorbaard is net 'n klein bietjie langer as 'n liniaal.

Ek het toe ons hier ingetrek het al my vroulike lis opgebruik om Roderick te (probeer) oortuig dat wanneer mens in 'n vreemde land is, jy nie noodwendig die vreemdelinge moet doen nie, maar darem doen wat hulle doen. Wat dan seker weer die vreemdelinge is, as mens regtig tegnies wil raak, maar dis nie vandag se punt nie... Hier sien mens heel dikwels 'n ou rondloop of selfs sy fiets bestyg met 'n groot bos blomme. Ek is nou al amper verby die punt om te wonder oor wat hy verkeerd gedoen het. Amper. Anyways om terug te kom na die oorspronklike train of thought - ek wil graag vars blomme in die huis hê en Rods moet hulle vir my koop. Hier in Nederland is hulle maklik bekombaar en goedkoop. Goedkoop relatief tot kaas. Rods het uiteindelik geswig en ter wille van stilte vir my pragtige rooi blommetjies gekry twee weke terug. En nou breek ek die gewoonte... Ek het onderneem om my regte op blomme vir 'n hele maand op te gee net om vir Tacco te kry. Dink dit was 'n goeie deal, maar nou moet ek oor 'n maand weer van voor af met die oortuigingsproses begin. Arme Rods.

Friday, May 30, 2008

How small we are


How small we are, how little we know...

We laugh, we cry,
We live, we die,
and when we're gone
the world goes on.
We love, we hate,
We learn too late
how small we are,
how little we know

We hear, we touch,
we talk too much
of things we have
no knowledge of.
We see, we feel,
yet can't conceal
how small we are,
how little we know.

See how the time
moves swiftly by,
we don't know how,
we don't know why.
We reach so high
and fall so low
the more we learn,
the less we know.

Too soon the time
to go will come,
too late the will
to carry on.
And so we leave,
too much undone,
how small we are,
how little we know.

- Earl Wilson Jr

Goodbye my friend

Hoe breek mens die verslawende greep wat die internet jou bied? Skakel mens jou rekenaar - en daarmee saam alles wat bekend en bemind is - af en gaan aan met jou lewe? Hoe kry jy dit reg? Vergeet mens ooit hoe geduldig en meelewend jou vriende op die chatprogramme kan wees? Of is dit een van daardie illusies wat jy oor virtuele vriende bou; fantasië waarmee werklikes nie regtig kan kompeteer nie. Daar is seker een manier om uit te vind. Maar voor ek die rekenaar afsit, dink ek ek moet net gou-gou kyk wie ingelog is en die Stumble-knoppie nog net een keer druk; net nog een keer...

Thursday, May 29, 2008

Pochemuchka

Nie lank terug nie het ek oor die Nederlandse nieuwsgierigheid geglimlag. Vandag het ek uitgevind ek is 'n Pochemuchka. Dis nie die enigste interessante woorde wat ek geleer het nie. Hier is 'n hele lys woorde wat mens nie in die Engelse taal kry nie.

1. Waldeinsamkeit (German): the feeling of being alone in the woods

2. Ilunga (Tshiluba, Congo): a person who is ready to forgive any abuse for the first time, to tolerate it a second time, but never a third time

3. Taarradhin (Arabic): a way of resolving a problem without anyone losing face (not the same as our concept of a compromise - everyone wins)

4. Litost (Czech): a state of torment created by the sudden sight of one’s own misery

5. Esprit de l’escalier (French): a witty remark that occurs to you too late, literally on the way down the stairs…

6. Meraki (Greek): doing something with soul, creativity, or love

7. Yoko meshi (Japanese): literally ‘a meal eaten sideways’, referring to the peculiar stress induced by speaking a foreign language:

8. Duende (Spanish): a climactic show of spirit in a performance or work of art, which might be fulfilled in flamenco dancing, or bull-fighting, etc.

9. Guanxi (Mandarin): in traditional Chinese society, you would build up good guanxi by giving gifts to people, taking them to dinner, or doing them a favour, but you can also use up your gianxi by asking for a favour to be repaid.

10. Pochemuchka (Russian): a person who asks a lot of questions

11. Tingo (Pascuense language of Easter Island): to borrow objects one by one from a neighbour�s house until there is nothing left

12. Radioukacz (Polish): a person who worked as a telegraphist for the resistance movements on the Soviet side of the Iron Curtain

13. Selathirupavar (Tamil): a word used to define a certain type of absence without official leave in face of duty



Wednesday, May 28, 2008

We've got tonight

"I know its late, I know you're weary
I know your plans dont include me
Still here we are..."

"Don't fall in love with a dreamer, for he'll always take you in..."

"You gotta know when to hold 'em, know when to fold 'em..."

Ek het al gebieg oor my liefde vir ou hartseer liedjies. Soppy liefdesliedjies om my te herinner aan wie ek 20 jaar terug was. Om my terug te sleep na 'n tyd toe Radio Suid-Afrika se musiek en middagstories die hoogtepunt van my middag was. (Die Mannheim sage, Newels oor Nooitgedagt... ah good times) Btw dis seker voor die hand liggend ons het nie TV gehad nie.

Wanneer die grondleggers van Youtube sien waarvoor ek hulle voortreflike uitvinding gebruik, gaan sit en huil hulle dalk op maat van die ewe hartseer musiek wat ek elke dag van hulle site af luister. Ek weet dat hulle nie primêr 'n video-Mp3-speler is nie, maar dit werk vir my.

"Don't you love her madly as she's walking out the door?"


Twiet squeek

Hier digby ons huis groei 'n boom. Ek het nie veel probleme met die boom nie. Hy ritsel bietjie in die wind, maar dis nie eintlik steurend nie. En omdat hy groen is, vergewe ek hom maar. Maar die boom dien as verhoog en ouditorium vir so 'n klein voëltjie. Die dingetjie squeek so erg dat Rods hom vanoggend wou gaan olie het.

Ek het vandag daadwerklik op my agterent sit en werksoek. Dis moeiliker as wat ek onthou. By die Leiden universiteit was daar twee posisies oop, maar by navraag is die een reeds gevul en die ander een verwag van my om in 'n herbarium te gaan werk. Gerperste plante en taksonomie klink nie heeltemal so erg as daar 'n salaris aan gekoppel is nie. Nog nie. Sal maar hoor wat hulle te sê het.

Die busdrywers (chauffeurs) staak, so ons kan nie voor Vrydag uit Den Haag uit na plekke soos Delft (en Ikea) nie. Die tremdrywers blyk darem nog op hulle sitplekke te wees, maar mens weet nooit wanneer hulle dit ook in hulle hoofde kry om die drywersstoel vir een by die huis te verruil nie. Ons sal straks moet loop...

Ag, ek geniet die Nederlandse taal. My nieuwsgierigheid oor baie woorde in ons taal word hier selfs verder geprikkel. Hulle gebruik woorde soos vogels, lievelingstoel en tegengestelde (teenoorgestelde). Jy hoor straks ipv binnekort. Ek wens my ore kon soos 'n hond s'n draai om dit wat ek wil hoor selfs beter te hoor - en natuurlik om weg te draai van die geswets af. Solank jy in Engels vloek, tel dit nie hier as vloek nie. Selfs jong kinders trek maklik los en niemand kyk eens twee keer na hulle nie. Niemand behalwe ek nie... Ek gee hulle my Juffrou's kyk. Dink nie dit pla hulle nie, maar ten minste voel ek dan beter.

Tuesday, May 27, 2008

Nostalgie



Die verlange huis toe het ek al meer as twee weke gelede verwag. Daarom het ek my reggemaak om dit vinnig in die kiem te smoor. Reëndae is outomaties 'n groter gevaar en daarom moet hulle versigtig benader word; besig geprop raak met soveel interessanthede dat daar nie tyd vir herinneringe is nie. Ek moes natuurlik van beter geweet het as om op besig bly te bargain. Niks stop nostalgie nie. Nie eens die lou lenteson hier nie.

Vannaand (son is nog nie onder nie en dis nou net na 9) sit en vergelyk ek die windpompe wat ek vir windmeule verruil het. Dit tel hewiglik teen die meule dat die dag wat ek hulle afgeneem het, die agtergrond grou was terwyl die windpomp ware warm somerlug agter hom het. Ek kyk en kyk en onthou en onthou - en my hart sleep suid.

Sunday, May 25, 2008

Kunstenaar vir 'n paar minute

Skets van 'n dooie wilger naby die sterrwag by Sutherland

Van die talente wat ek nie gekry het nie, is kunstigheid redelik hoog bo-aan die lys. Die wat wel die gawe het, probeer troos en vertel my die waardering van kuns is ook 'n kuns. Dit help darem 'n bietjie - maar net 'n bietjie. Ek het 'n teorie oor my onkunstigheid. Wanneer ek my oë toemaak, kan ek nie die beeld wat geteken moet word vir langer as 'n splitsekonde sien voordat dit met ander beelde vervang word nie. Dese gebrek aan konsentrasie skakel my dus ook onmiddelik uit as 'n towneraares of telekinetikus. Hulle moet mos op 'n spesifieke ding kan fokus. Hoop hulle geniet dit.

Net omdat ek dit nie met my hand kan doen nie, beteken dit nie dat ek nie 'n skets kan maak nie. Een van my foto's gevat en die potloodskets-opsie gekies en bg is wat die rekenaar gewillig uitgespoeg het. Die skets is ongelooflik mooi, (julle moet die oorspronklike foto sien!) maar dit kort warmte. Warmte van 'n regte potlood.

Roses

Verwerpte liefde


Dark love

Keuses

Keuses, keuses...
Ek het as student ge-overdose op koffie. Dit gebeur as jou woonstel tussen die universiteit en technikon is en as kuierplek dien vir almal opad van en na klas. Deesdae drink ek uiteindelik weer die hoë kaffeïendrankie, maar nie baie sterk nie en met ten minste 'n paar weke as buffer tussen koppies. Tee aan die ander hand... In ons kombuis is nou een van daardie houtboksies met die verskillende vakkies vir die verskillende tee's in. Dit op die foto is onder andere wat die boksie tans bewoon. Daar is natuurlik ook - darem nie in die boksie nie - twee soorte ystee, hot chocolate, Cola light, koffie en pienk melkies. Laasgenoemde is sulke strooitjies met pienk suiker in. Jy druk dit in die glas melk en hoe stadiger jy suig, hoe soeter is dit wat in jou mond ingaan.



'n Stokroos in die speke




Friday, May 23, 2008

My ma


My ma is vandag 'n jaar oorlede. Dit los 'n leemte wat mens moeilik verwoord en verwerk. Maak nie saak hoe jy jou daarop voorberei het nie. Mense vertel my ek lyk soos sy, klink soos sy, kyk soos sy. Ek aanvaar dit as komplimente. Behalwe die kyk. Sy was 'n wiskunde juffrou...

Wanneer iemand eers dood is, vervaag die herinneringe van enige foute wat hulle gehad het. So word ek vertel. Maar selfs toe sy gelewe het, kon ek min fout in haar samestelling opspoor. Sy het geluister. Sy het so diep geluister dat sy nie net jou verhaal nie, maar ook al die emosies wat ingesluit daarin is, bygehoor het. Haar standaard respons op diep lewensvrae soos watter man/beroep/lewensrigting die beter keuse is, was "Het jy al gebid daaroor?". Tog het sy goeie raad gegee. Miskien juis oor sy diep gelowig was.

Sy was baie lief vir gesels. Praat oor al die interessante boeke wat sy gelees het. Nie fiksie nie. Boeke oor mense, oor die wêreld, oor geskiedenis, oor fisika, oor geloof. Sy het elke jaar ongeduldig gewag vir die Sunday Times se Finders Keepers - net sodat sy 'n rede het om die biblioteek deur te grawe opsoek na nog inligting.

As student was haar hoofvakke Chemie en Wiskunde. Ek was al self derdejaar, met chemie I reeds twee maal op my rooster, voor ek besef het hoe moeilik daardie kombinasie is. Niks om 'n student se respek bietjie op te stoot as om die werk self te moet doen nie. Na sy geswot het, het sy'n rukkie voor sy getroud is in Duitsland gaan werk. Ek het geen illusies oor waar my wanderlust vandaan kom nie. Die Barnards hou van hulle voete op die aarde en wend daadwerklike pogings aan om hulle daar te hou. My ma se mense se pooie wil ongebonde rondswerf. En na dit alles het sy besluit om 'n onderwyseres te raak. Met daardie vakke! Met daardie voete! Maar sy was lief vir mense. Nie lief soos ek vir kinders is nie: gebak, gebraai, gekook... Regtig lief vir mense. Ten spyte daarvan dat hulle mense is.

Mens kan nie jou ma - en jou gevoel vir haar - opsom in 'n bladsy nie. Jy kan nie objektief kyk na die gemis wat minder maar nie weg raak nie. Jy kan nie vergeet hoeveel ure en ure julle op die telefoon deurgebring het nie. Jy kan ook nie vergeet hoeveel liters tee julle saam uitgedrink het op die volmaan-nagte wanneer nie een van julle tot rus kon kom nie. Jy kan nie vergeet nie, want jy wil dit nie uit jou geheue wis nie. Dis dan deel van wie jy is. Saam met die seer van die verlies, is daar 'n oop trommel vol herinneringe.

Goeie herinneringe.


To act your age and not your IQ

Ek het die Artemis Fowl boeke ontdek. Wonderlike kinderstories vir grootmense. Maar ek skat dat die Harry Potters ook in daardie klas val. Soos borste en treintjies wat eintlik vir Kleinboet bedoel is, maar Pa speel daarmee. Ons grootmense (ons groot mense - het vanoggend die skaal aangedurf) wil ook mos saam met Aremis worry as sy planne om die wêreld se rykste krimineel te word, misluk.

Maar ek het lankal agtergekom hoe mens jou in boeke kan inleef. Ek het Langenhoven se Krismiskinders gelees seker 'n jaar voor ons die Kango-grotte gaan besoek het. Volgens die storie sal die kindertjies weer wakker word as iemand met 'n liggie - selfs 'n dowwe liggie soos die van 'n kersie - by hulle kan uitkom. My ma het my nie vir 'n oomblik buite sig gelaat nie. Sy het natuurlik geweet ek het die oggend spesiaal 'n nuwe batterytjie in my flitsie gesit... Sy het natuurlik ook die Krismiskinders gelees...

Iemand anders wat die feite meesterlik bewimpel, is Leon Uris. Sy feite blyk korrek te wees, maar in Exodus verstaan jy die Jode en het hulle jou volle simpatie in 'n wêreld wat teen hulle is. Jy verstaan waar hulle vandaan kom, verstaan hulle dryfveer en begryp hoekom hulle is soos hulle is. As jy 'n sê gehad het, was die Jode bo-aan jou stembriefie. En toe gaan meneer Uris en skryf vir The Haj. Selfde feite. Maar die keer uit die Arabier se oogpunt. En nou skuif die emosies stadig aan in die ander rigting. Ek weet hy het ook boeke oor Iere en Skotte geskryf, maar ek het net soveel emosies om te versprei tussen die volke van die aarde.

Dis die prag en gevaar van met feite rondspeel. Hulle kom neuk net mooi hipoteses en vooropgestelde ideologië op. Daarom gaan ek my hou by kinderboeke waar emosies hulle nie hoef te laat hinder deur die harde werklikhede nie. En waar mens kan verdrink in die meesleuring van 'n storie wat dalk 'n gelukkige einde het.

Thursday, May 22, 2008

Die wonders van Photoshop

Trappe van vergelyking. My blogger-ID-foto geneem in Keukenhof. Mooi kleurvol.
Lackcolour. Al my sproete, moesies en geboortevlek uitge-edit. Now who needs make-up or plastic surgery?
Addcolour. Dit lyk nogal nice met die bietjie kleur. Tnx Rods

Wanneer jy met niks begin

Gifappeltjie
'n Nessie fietse
Kyk die renstrepies langs die kant

Ons het hier met niks begin - en het nog meeste daarvan oor... Ons is nou al vir 'n week in ons eie nessie. Dis 'n avontuur om sonder dit waaraan ek gewoond geraak het, klaar te kom. Wasmasjien en tuimeldroër; maklik. Yskas; minder maklik. Internet; amper onmoontlik. Amptelik word ons internet en telefoon die 3de Junie geaktiveer, maar vanoggend was daar 'n lyninspekteur hier en hy het alles gekoppel en voila! Ek voel amper weer mens.

Wanneer ek my eie werk en dus my eie geld het, is die eerste ding wat ek vir my koop stapskoene. My trusty old hitechs het nou heeltemal gladde sole. Dis nogal iets om reg te kry; om stapskoene se tred af te loop.

Praat van werk. Dis seker nie die beste voorbode as mens by 'n skool aansoek doen en hulle nommer een voorvereiste is nie 'n goeie opleiding, ondervinding of references nie, maar 'wel n baie goeie sin vir humor...



Wednesday, May 14, 2008

Van Gogh se oor

Het Van Gogh drie dae voor die tyd gedink dat hy in 'n oomblik van waansin sy oor sou afsny? En hoe sou sy lewe verander het as hy wel sou weet? Hoe sou sy laaste paar dae van twee origheid anders gewees het as hy wel oor die inligting beskik het? En die mollige meisie wat 'n been verloor het. As sy net 'n week voor die tyd kon weet, sou die drillende bobeen haar weerhou het daarvan om 'n bikini te dra?

Ek is vir die volgende week of twee dalk offline. Internet het vir my 'n ledemaat geword; 'n verbinding met my vriende en familie, 'n versekering dat ek nog nie heeltemal gek is nie. 'n Onooglike, onaantreklike onlosmaakbare deel van my daaglikse roetine. En nou weet ek ek gaan dit verloor. So hoe verander die wete my weë? Moet ek emails uitstuur vir almal? Moet ek my status op Facebook, msn en gtalk stel na 'verlore vir die wêreld'?

Ag dis net tydelik. Oor 'n week of twee groei die konneksie weer soos 'n akkedisstert terug. Sal seker maar vroeg gaan slaap vannaand...

Tuesday, May 13, 2008

Sketse teen die mure


Die is amper soos pampoene op die dak; nog nie banke nie, maar prentjies teen die mure.

Monday, May 12, 2008

Om sambrele in hulle agterente oop te maak

Dis die een ding van Afrikaans - en my Noordkaap familie - wat ek verskriklik mis: Die manier om 'n ding so grafies te beskryf dat jy nie anders kan as om 'n duidelike (en heel dikwels) ongewenste beeld voor oë te kry nie. Om iemand aan te jaag, maak jy sambrele in sy agterent oop. Jy skop brieke as dinge te vinnig gaan. Jy bewierook mense met jou liegstories. Niemand is perfek nie en as jy dit sou waag om aan en aan te gaan oor iemand se voortreflike karaktereienskappe, kan jy verseker wees om iewers (en glad nie so onderlangs nie) te hoor dat jy nog gaan uitvind dat sy stront ook stink. Natuurlik is agterent en stront eufimisties gestel.

Maar my gunsteling is my oom se verduideliking oor die nagevolge van 'n onlangse griep en sinusaanval wat ontydig sy verskyning gemaak het. 'Jy ken mos daardie meerkaaie by die plaas se hek?' Nou nie by name nie, maar ja. 'Hulle is mos 'n pes. Nee, eintlik moet jy nie dink aan die meerkaaie nie... Veldmuise... Jy ken mos veldmuise?' Ja, veldmuise weet jy ook van. 'Mens kry mos verskillende gesinne van daardie pestilensies. Daar is daai vales en sulke geletjies en natuurlik daais met die strepies so al op die rug af.' Ek sal maar Oom se woord daarvoor moet vat, want ek spring ewe hoog vir hulle almal. 'Nou vandag is hier agter in my keel, bietjie meer na die regterkant toe soos mens van voor af kyk, so 'n krapperigheid. Dit voel kompleet asof een van daardie muise - een van die gestreeptes - se stert hier in my keel afhang en so elke dan en wan bietjie kriewel...'

Ek is maar net dankbaar dis nie een van die meerkaaie s'n nie... Dis 'n beeld waarsonder ek kan leef.

Sunday, May 11, 2008

The naked truth

"There are few nudities so objetionable as the naked truth" Agnes Repplier (1855 - 1950)

Ek sal maar Agnes Repplier se woord moet vat. Sy het immers 95 geraak as my wiskunde my nie in die steek gelaat het nie en ek is nou eers 'n derde van haar ouderdom. 33.33%. Mind you, van die straat af is daar 33 en 'n derde trappies op na ons woonstel. So wanneer kom kuier julle?

Rods het vir my 'n link gestuur van die Uncylopedia oor hypergraphia. Volgens hulle is dit a psychological disorder whereby one continues writing and writing even though one really has nothing to say. Dan gaan dit aan en aan (hele bladsy lank) oor hoe mens dit nie kan verhelp nie en ook nie kan stop nie... (http://uncyclopedia.org/wiki/Hypergraphia) Nou kyk ek na my blog en ek wonder oor die waarheid en gesondheid van my psige.

Ons is vandag toe weer Kijkduin toe en ek het 'n vermoede bevestig. Groot verskil tussen naak en kaal, maar dit het ek lankal geweet. Naak is die een met die emosionele konotasies. Kaal is die een sonder klere en die bewysste vermoede is dat ek makliker so voor vreemdes sal rondwandel as voor bekendes. Behalwe as die bekendes wil join, maar dis 'n storie vir 'n ander dag en nou dat ek daaroor nadink, nogal 'n bietjie jiggie... Nudistestrande is nogal fun. En moet asb nog steeds nie vir my pa vertel nie... Wat nie soveel fun is nie, is om op dieselfde dag wat jy besluit jy 'n nudis vir die middag gaan word, ook die Noordsee aan te durf. Daai water is leeukoud! Dink my drakie het met 3cm gekrimp. Maar dit was nog steeds lekker en bevrydend in meer as een opsig em el weet ek wou eers 10kg verloor, maar netnou tel ek dit op, so carpe diem. Of carpe towel. Sal volgende keer bietjie vroeër in die dag daar opdaag en dalk my kamera saamsmokkel. Maar ek wil nie regtig deur 'n trop tôtties gejaag word nie, so moenie kwaad raak as die foto's nooit hier uitkom nie :) Dit was nogal opvallend hoeveel meer ouens as meisies daar was en dat die meeste mense ouer as 30 is. Ek het natuurlik 'n paar teorieë daaroor en as jy vir my goeie SOET Suid-Afrikaanse wyn saambring, kan ons een aand die teorieë sit en uitmekaar- en terugryg. Om sake binne perspektief te sien, kan ons altyd die middag 'n draai op die strand gaan maak... Of nie.

Behalwe vir die strande en die tremme (om daar uit te kom) gaan daar op die oomblik nie veel hier aan nie. Ek soek nou desperaat werk, want Rods het vanmiddag ons plek gestofsuig en as ek by die huis bly, raak dit dalk my werk en jy kan sien hoe dit 'n probleem kan raak veral met die 17 van die 33 en 'n derde trappie wat binneshuis en met mat bedek is. Sal môre my CV regkry en seker teen die aand se kant begin pos op banen-websites. 'n Baan is 'n werksrigting soos ek dit verstaan. Ok, genoeg gehypergraaph vir een aand.


Saturday, May 10, 2008

'n Man wat kan kook

Gelukkige meisie, ek. Kyk wat het ek vir aandete gekry...

Moenie vir hulle sê nie...



Ek het vandag met Thinus se BMW teruggery huis toe. Moenie vir hom sê nie, asb. Seker net so oor die 2km, maar hou in gedagte dat ek aan die verkeerde kant van die kar, aan die verkeerde kant van die pad, in 'n kar waarvan die wipers en flikkers aan dieselfde kant van die stuurwiel sit, waar die son sit daar waar ek 'n middelspieëltjie verwag en waar my regterhand moet ratte en handbriek vind. Ook aan die verkeerde kant van die kar het die desibels elke dan en wan opgegaan wanneer daar gereken is dat die randsteen dalk - net dalk - te naby kom. In hierdie omstandighede is 2km sonder 'n skrapie en reg geparkeer glad nie sleg nie, is dit? Die adrenalienrush was so groot dat ek wraggies weer die trappe uitgeklim het. Snaaks, die keer het ek net 253 getel. Ek sal hulle seker nou nog 'n keer moet klim net om seker te maak. Ai.

Vanoggend het ons spesifiek park toe gegaan om die swane te gaan afneem. Dis my droom om 'n foto te neem wat vir beide Rods en Deneys na drank en trane sal dryf. Hulle twee wil mos aanhoudend foto's neem wat National Geographic sal koop - en dan kritiseer hulle die goed ook nog! Ondankbare twee skepsels daardie. As ek sulke foto's in my portefeulje gehad het, het ek lankal opgehou ander werk soek. Maar eendag is eendag...

En nou kom ek by die eintlik rede vir vandag se blog. Ons was vandag strand toe. Het by Kijkduin se nommer 4 ingang ingeloop en in die rigting van Noorderstrand gewandel. Daar was die meeste seilskepe wat ek al ooit bymekkar gesien het. Bietjie gegiggel oor daar so hier en daar 'n topless meisie lê en tan. So stap ons later by 'n paar verby wat so topless in die water en op die waterrand (waar ons stap) ronddwaal. Dit begin lyk toe vir my al lekkerder en ek wonder nog oor my Calvinistise grootword en of ek dit sal kan oorkom, toe kom ons by die nommer 8 ingang. Daar kry ek toe 'n opvoeding binne 'n paar sekondes. Nommer 8 blyk 'n nudistestrand te wees.

Dis nie dat ek nog nooit kaal mense gesien het nie. Ek het darem die internet, magtag, maar so baie van hulle! En in soveel ouderdomsklasse en shapes en sizes. Genugtig! Ek het heel overdressed gevoel. Hulle loop en lê op die strand rond. Hulle plas in die water. Hulle kom na my toe aangestap en ek het nie 'n idee van waar om te kyk nie. Kyk mens na hulle gesigte? Kyk mens of die koue noordsee se water 'n effek het op hulle... erm... of kyk jy na al die mooi seilskippies op die water?

Nou het ek 'n nuwe missie. Wil 10kg verloor sodat ek gelukkig in my vel kan wees en ook 'n dag op strand 8 kan gaan spandeer. Dink net aan die mooi egalige bruin vel waarin ek dan gelukkig sal kan wees... Dink net aan wat ek die hele dag kan lê en gadeslaan. Dink net hoe lekker dit kan wees. Maar moet net nie vir my pa sê nie...

Die lelike eendjie en die prins






Friday, May 9, 2008

274 trappies


Ek het vandag die trappies na Thinus se woonstel geklim. Al 18 vloere. 62 meter. Al 274 trappies. Verveeldheid het sy vreugdes...

Vandag die Haagse Markt ordentlik gaan ontdek. Vars groente en vrugte is daar sommer baie goedkoop en ek en Rods het met 'n behoorlike vrag 'boodskappen' teruggekeer huis toe. Selfs 'n waatlemoentjie tussen in. Arme Rods moes dit dra. Die dat ek hom toe maar met die inkopies opgestuur het en die trappe self aangedurf het. Partykeer moet mens jou onnoselhede en gek giere op jou eie aanpak en nie onskuldiges daarby betrek nie.


So, gaan ek dit weer doen? Mens wen niks deur twee keer vir jouself dieselfde ding te bewys nie. So hoor ek. Maar ek sal seker weer as die opgeboude potensiële energie weer kineties van aard wil word.

When

When you are lost and lonely in the arms of the one who loves you
When your eyes get moist and the emotions you usually keep constricted oh so well find crevices to seep out of
When your body and mind remembers the unexpected closeness of mine
When you know that you need God to make sense of this because it is too deep and too much for you alone to work through
When you try to pencil down your dreams and heart's desires, but they die a martyr's death in your numb fingers
When you think of me...
When you think of me, do not blame me for leaving
Do not resent me, but think of me as autumn
and see the amazing landscape of the winter you now are part of

Thursday, May 8, 2008

Wanneer jou neus onthou

Sonsondergang - 8 Mei 2008

Vandag in 'n supermark is ek deur my neus na 'n vaag onthoude geur gelei. Tussen die blomme deur, verby die Baberton daisies (wat na niks geruik het nie) verby die mengselbosse (wat na nies geruik het) verby die rose en tulpe (drie bosse vir 5 euro) na die vier kleinerige bossies pronk-ertjies. En sonder keuse, sonder waarskuwing, sonder voorbereiding was ek skielik weer 'n tweedejaar wat moeg van die middag-prakties af terugkom by die woonstel om 'n onverwagte, maar baie waardeerde pakkie in my wasbak te vind. 'n Sekonde of twe was ek weer 'n blosende langhaar tiener wat die bossie blomme in 'n waterglas na haar kamer gedra het. Vir 'n rukkie was ek weer herinner aan my drome van toe en aan die sorgelose dae van kennis oor mense, dinge en selfs bietjie akademie in my kop inkry. Was nogal lekker; die nostalgie.

Was ook lekker om terug te keer na wie ek nou is. Met wat ek nou weet. Was goed om te weet dat my sintuie en geheue darem nog werk hier op my oudag :) My bene ook. Ons het vannaand die Den Haagse koopavond gaan geniet. Al die winkels bly tot 9uur toe oop. Dis heerlik, maar dit verloor 'n bietjie van sy charm as dit son eers half 10 ondergaan en die koopavond meer na 'n koopmiddag voel.

My probleem is dat ek so gekondisioneer is dat as dit donker raak, my maag my daaraan begin herinner dat hy nog daar is. Nou, wanneer die son sak, is al die winkels lankal toe en kan mens nie eens 'n koeldrankie iewers koop nie. As dit so aanhou sal ek met 'n horlosie moet begin rondloop. Wat 'n wrede gedagte! En nes ek my maag oorreed het om na die horlosie ipv die son te luister, is dit winter en sak die son al net voor 4. Chaos, chaos chaos... My arme maag.


Tuesday, May 6, 2008

Te voet

Noordsee. Branderloos. Yskoud. Pragtig.

I'll take the high road and you'll take the low road...
ek vat die port kat en jy vat die pang lat...
Die seuntjie met sy vinger in die dyk by Madurodam



Brandnetels
Vredespaleis Den Haag

Monday, May 5, 2008

Die land van Honing en halfvolle melk

Die winkels hier het nie die verskeidenheid waaraan ek gewoond is in SA nie, maar hulle is baie interessant. (Interessant: een rok, twe skoene) Die volroom (volle) melk is bietjie duurder as die halfvolle melk wat natuurlik weer duurder is as die magere melk. Heuning is volop en ek kon nie die pot met die bloemen honing weerstaan nie. Bloemen land met hulle bloemen snaakse name vir bloemen gewone kos wat hulle in keukens gaarmaak.

Wanneer mense aan Nederland se kos dink, skat ek stroopwafels is die eerste gedagtes. Na dit baklei poffertjies en wafels (hoewel meer Belgies in oorsprong) seker vir tweede plek. Maar ek reken die lekkerste ding wat ek hier tussen my tande en tong kon kry, was 'n pannekoek. Die deeg-resep lyk my het eeue terug presies net so SA toe getrek. Die voorbereidingsmetode het egter agterweë gebly. Het nou die dag savoury pannekoeken bestel. Toe dit opdaag was ek redelik verbaas om 'n groot plat bord gevul met 'n ewe groot plat middagete te kry. Die kok het duidelik die ham, uie en sampioene eerste in die pan gegooi en dalk 'n bietjie gebraai voor hy die deeg bo-oor alles uitgegooi het. Na dit gaar geraak het, het hy die stukke kaas net bo-op gesit en toegelaat om te smelt. Yum-yum. Lyk my die soet pannekoeke word op die meer tradisionele manier voorberei. Dink nie gebakte piesang lyk so leuk nie.

Op die oomblik is my lewe nie so opwindend nie. Die dat ek nou al by resepte trek. As dit so aanhou, kry julle een van die dae breipatrone...

Saturday, May 3, 2008

Valkenboskade

Aan die sonkant van die huis het ons lekker breë vensterbanke.

Work in progress
Die vorm waarin ons ons meubels kry. Mooi plat om agter in die kar se 'boot' te pas. Die Nederlanders noem die kattebak 'n gulp...
Glo dit of nie. Die is 'n werkende rekenaar :)

Friday, May 2, 2008

James Blunt en die bubblebath

"Al sê jy my songs maak jou blou, al lag jy vir my in jou mou..."
- Steve Hofmeyr se My Diefie my Duifie liedjie

Wanneer ek so aan die blou kant is, hou ek van tranetrekker-liedjies. Ek luister aandagtig na die woorde en sing nog luidrugtiger saam as ek hulle wel ken. Dit help my net so vinnig uit die depro uit as wat tee of 'n bad sou doen. As ek 'n dokter was, het ek net disprins voorgeskryf. Daardie goed is sterk genoeg om selfs 'n gebroke hart se pyn weg te vat. Saam met die pille sou ook 'n koppie tee (Engelse tee, maar as jy dan nou moet ander variate ook) en 'n diep, lang warm bad op die doktersbrief wees. When all else fail, hou ek vir Slaap (die wondersoete ding) in reserve. My voorskrif sou dus min of meer luit: Gaan lê in 'n diep warm bad, luister na 'bad elevator music', drink tee, drink 'n disprin as dit nodig is - en bel my môreoggend.

Praat van tranetrekker-liedjies. Wat is dit met James Blunt en sy te-klein-onderbroek-stem wat my so intens na sy lirieke laat luister? Het nou al vandag deur al die youtube videos gegaan. En hoekom kom sangers daarmee weg om hulle heel diepste heel seerste heel weerlooste gevoelens sommer so oop en bloot voor ander se voete en ore neer te gooi sonder dat hulle klaarblyklik daardeur geaffekteer raak? Goeie magtag, hoeveel mense kan -met 'n bietjie selfrespek- na iemand sit en kyk en die volgende kwytraak?

"I'm watching you breathing for the last time"

Of as jy dan nou nie lus is om iemand se laaste asemteue te besigtig nie, wat van die harverskeurende openhartigheid in Goodbye my lover?

" I am a dreamer and when I wake,
You can't break my spirit - it's my dreams you take.
And as you move on, remember me,
Remember us and all we used to be
I've seen you cry, I've seen you smile.
I've watched you sleeping for a while.
I'd be the father of your child.
I'd spend a lifetime with you.
I know your fears and you know mine.
We've had our doubts but now we're fine,
And I love you, I swear that's true.
I cannot live without you"


Daar is baie waarsonder ek kan lewe, maar soppy musiek, blyk nie een te wees nie. Hoop James bly openhartig en 'blunt' in sy lirieke. Dit raak ten minste 'n snaar hier. Dink ek moet sommer vir Billy Joel en Neil Diamond ook uitgrawe na ek die ketel aangesit het. Dan kan ek rustig hier sit en waddle in my mysery. Of dalk moet ek net gaan bad. Gonna soak that man - lyrics and all - right out of my head. Hmmm, tee, bad, en Mr Blunt ....... Will call you in the morning. Hou maar vir my 'n disprin gereed.


Thursday, May 1, 2008

Wag net 5 minute - en begin weer

Ons het op skool vir die meisie gelag wat gebid het "Gee my geduld asseblief, maar gee dit nou." Ek moes van beter geweet het toe ek vanoggend so gekla het. Ons het mos laasjaar al op die houdluiperd-toer vasgestel dat as mens nie van die weer hou nie, jy net 5 minute moet wag of 5km moet ry. Vandag was toe verder glad nie so erg nie.

Met 'n hele kattebak (die Hollanders noem dit 'n gulp...) vol goed is ons na ons nuwe plek toe en ek het actually self die twee badkamerkassies aanmekaar gesit. Die Nutsvrou, ek. Ons het ook 'n tafel met vier stoele in 'n plat boksie gekry. Dit was nogal amazing om te sien hoe vinnig my man die affêre aanmekaar kon kry. Daar is regtig 'n vreugde daarin om jou eie meubels te maak. Ok, om hulle aan mekaar te sit.

Nou het ons 'n opgeblaaste bed in ons kamer. Die regte een kom oor minder as 'n maand - hoop ek - saam met 'n hele wall unit. In die sitkamer is 'n klein vierkantige tafeltjie (waarop die laptop vir ons musiek maak terwyl ons timmerman speel), 'n groter langwerpige een met vier stoele, en twee staanlampe. Die badkamer het 'n staande kassie met 8 handoeke op en 'n lêende kassie wat wag vir muurskroewe.

Van die klomp vertrekke lyk die spaarkamer en kombuis seker die beste. Die spaarkamer het mos propvol kaste gekom. Daar is amper plek vir 'n enkelbed. Die kombuis het ons s'n geword met 'n stoof en skottelgoedwasser in. Ruby het eendag gesê met 'n skottelgoedwasser is mens heeltyd op honeymoon. Sal die waarheid daarvan binnekort toets. Ek het vanmiddag al ons glase en borde en die Keuken-starterkit uitgepak. Nou is die plekkie sommer al heelwat voller en die eggo's heelwat minder.

Toe ek netnou kom sit het om my blog te skryf, wou ek eintlik oor tweede kanse skryf. Van mens begin redeneer, wil mens graag tweede kanse hê. Hoop mens soms op 'n tweede kans en wens jy dat jy 'n kans het om oor te begin. Ek kan die storie nou uitrek met staaltjies van kleintyd se kunsklasse, maar ek is seker jy volg die denkpatroon. Hier sit ek nou in Holland en het 'n tweede kans; het 'n kans om oor te begin. Ek het daardie kans om my huis van voor af te beplan en vol te maak. Daar is die reuse moontlikhede voor my om my loopbaan oor te begin. Daar is 'n kans vir my en Rods om van voor af te besin en begin. En gaan ek die tweede kanse gebruik? Oh yes!

In Jhb het dit vir my begin voel die hoeveelheid goed wat ek het, kniehalter my. Ek moes worry oor die honde en die kat. Het hulle kos, het hulle water? Wanneer laas het ek met hulle gaan stap? - die honde, natuurlik. Haar majesteit Umbra hou haar nie op met 'n stappery nie. Wanneer gaan my kar gestamp/gesteel word. Wie wil my handsak gryp? Wie wil my TV/haardroër k0m wegdra? En so aan en so meer. Toe verkoop ons die huis met alles in hom en skielik is ek vry.

Met my Kaap-vakansie was ek vir die eerste keer in baie jare regtig ontspanne. Jobless, homeless, worryless. Die feit dat ek op vakansie was, het natuurlik baie bygedra tot die sorgvrye gevoel. Maar aan die einde van my vakansie het ek met Hennie, wat 'n jaar op Marion eiland deurgebring het gepraat. Daar het jy nog minder verantwoordelikhede en as jy terug in die 'beskawing' is, onthou jy dit. Dan weet jy dat al jou verpligtinge (betaal die W&E, koop die groceries, gaan haal jou kind by die rugby) selfopgelegd is. En dan knel dit jou eers!

So, wat is die oplossing? Raak 'n hippie? Moet sê, die kleurvolle rokke en die lang gevlegde hare is tempting, maar die min bad.... Jiggie. So wat is die oplossing? Nee ek sal ook nie weet nie. Dalk moet jy maar vyf minute wag...

When we were small and Christmas trees were tall

"... Now we are tall, and christmas trees are small,
And you don't ask the time of day.
But you and I, our love will never die,
But guess we'll cry come first of May

Dont ask me why, but time has passed us by..."

Bee Gees liedjie First of May uit die jare toet. Weet nie hoekom dit vir my so roerend is nie.

My wyse vriendin in die Kaap sê mens moet so dan en wan jou ou dagboeke lees sodat jy kan onthou wie jy was. Ek het vandag, na twee weke in my nuwe land, nodig om te onthou. Miskien is dit die weer. Vandag reën dit so 'n mistroostige nat reën. Ja, ja ek weet alle water is nat, maar hierdie reën is vaal en mismoedig en ek dink ek wil terug in my bed inklim.

Ons moet vandag vir ons nuwe plek nog meubels gaan koop. Dink ek het onlangs 'n lysie gepost oor wat ons nou al alles het. Dit was 'n redelike kort lysie. Ons wag nou maar geduldig vir ons SA-huis se geld om oor te betaal sodat ons al die groot goed kan gaan kry. Dis nou beddens, yskas, tuimeldroër, wasmasjien, banke en so aan. Vandag kry ons die (plat in 'n boksie) tafel en stoele by Ikea. Dit behoort die hele agterkant van Thinus se kar vol te lê. Ek wonder nog steeds hoe die mainbrain agter Ikea besluit het dat alles in plat boksies moet kan pas. En wie die bright spark was wat besluit het dat alle aflewerings in Nederland net tot by die voordeur gemaak word...

Mens sou sweer dis al weer volmaan. My oë bly oopgaan en frankly, die kamer waarin ons slaap, is nou nie eintlik so intressant nie. As ek daarmee kon wegkom, het ek Ikea vir vandag uitlgeos en rustig weer in die bed gaan kruip. Dan kon ek dalk vannag heel uitgerus die plafon lê en bestudeer het. Maar helaas... ek sal maar my skoene moet gaan soek.

Vandag is ek morbied. Dink aan vreemde quotes wat ek die laaste tyd gehoor het. Die Nederlanders reken as mens jou agterent verbrand, moet jy bly wees jy het nie andersom gestaan nie. Uit SA kom 'n onlangse onverwagte maar onomseilbare redenasie dat jy versigtig moet wees en mense so moet liefhê dat jy hulle nie seermaak nie. Die Chinese reken verder dat dit wat jy nie vir jouself toewens nie, moet jy ook nie na ander moet uitstrek nie.

Hierdie skrywery raak nou bietjie diep vir my. Sal wanneer die son weer skyn en die hart weer ligter is, my vingers op die keyboard sit.