Sunday, August 31, 2008

Dordrecht

Dordrecht is Nederland se oudste stad. Die kerktoring word op wikipedia as onvoltooid en skeef beskryf. Wikipedia jok nie. My foto is self nie heeltemal reguit nie, maar daardie toring lê kwaai na links. Ek sou hom ook nie klaar gebou het nie. Hoekom hy onvoltooid is, moes ek gaan Google. iIn meeste gevalle as 'n kerktoring onvoltooid is, is dit oor die geld halfpad opgeraak het. In die geval het die gewig van die toring die sanderige grond waarop dit gebou is, laat skuif . Dit gebeur heeltemal te dikwels hier; Delft se kerktoring het ook al gaan skuinslê. Ek skat die Bybel was reg. Die wyse man bou sy huis op die rots... Dordrecht se kenmerkende halwe toring huisves die mooiste klokkespel denkbaar. So al om die ander uur, speel hulle deuntjies wat mens amper kan saamsing. Ek was maar bly die kerk was toe teen die tyd wat ons daar aangekom het. Want die toring sou ons klim en as daardie klomp klokke reg langs my ore moes lostrek, dink ek ek sou dalk 'n probleem met balans hê die volgende week of twee.

Harseer engeltjie hou oor spinnerakke en tralies die wag.

Die gevoel van Dordrecht is heeltemal anders as wat ek nog in enige ander Nederlandse stad ervaar het. Rods reken dis oor dit nie so 'n groot toeriste-aantreklikheid is nie. Ek dink hy het 'n punt daar beet. Die mense is vriendelik en rustig. Behalwe die klomp by die Jazz-festival. Hulle was vriendelik en vrolik. Wat wel 'n ongelooflike stuk ingenieurswese is, is die spoorwegbrug. Soos meeste brûe in Europa, kan die een ook oplig om skepe deur te laat. Maar daar is seker 4 of vyf treinspore wat daar oorgaan en daar moet vir daardie gewig gekompenseer word. Die uiteinde van die saak is 'n brug waarvan net die ratwerk al my verstandjie te bowe gaan.

Kinderdijk


In een van die Buffy-episodes praat sy van "the boy who put his finger in a duck". Wanneer sy vertel word dat dit eintlik 'n dyk was, is haar komentaar daarop dat die storie nou heelwat meer sin maak...

Kinderdijk is nie, sover ek kan aflei, waar die verhaal van die seuntjie afgespeel het nie. Dit is wel waar die grootste konsentrasie windmeule geleë is. Ek dink daar is 19 binne 'n km, maar die meeste wat ek op 'n slag gesien het, was 14. Een van die meule is 'n museum waar besoekers (teen 'n tarief natuurlik) kan gaan rondloop, maar in die res woon daar mense en hulle hang wasgoed en verf en werk in die tuin terwyl die toeriste (en ek natuurlik) klik klik klik met die kameras. Ek dink nie as een van hulle ryk en beroemd (rich and shameless) raak, dat die paparzzi hulle eintlik sal pla nie.

Daar loop twee riviere net tussen die windmeule deur en die een se watervlak is sigbaar hoër as die ander een s'n. Maar dis tog waarvoor die windmeule daar is. Om die water uit die polders terug op te pomp rivier toe. Eendag, as ek lank genoeg hier gewoon het, gaan ek nog gewoond raak daaraan dat jy onder die riviervlak woon. Maar daardie dag is nog 'n entjie die toekoms in.



Sunday, August 24, 2008

Naarden en 'n Top Deck

Een van die ses bastions (wat op die foto soos 'n groen pyl lyk) van Naarden.

Die kerk domineer Naarden se argitektuur. Dit is diagonaal met die huisies gebou.

Ons buit by die Spens.


Gister was 'n lekker rondry dag. Ons het eers Almere toe gery en 'n draai by die Suid-Afrikaanse winkeltjie gemaak. Daardie Top-Deck het nie lank gehou nie... Na dit is ons ook Naarden toe. Naarden is die mooiste ou middeleeuse dorpie. Die gedeelte binne die riviere en gragte word die Vesting genoem. Dit is 'n hele eiland omgewe met 'n muur met ses bastions. Daar is twee hekke (met draw bridge en al) om in te kom en 'n wye dubbele grag om die stadjie. Dit is absoluut pragtig en ek wil nie weet hoe dit in die 1400's al gebou kon word nie. Hoe het hulle kerke en mure en bunkers sonder skopgrawe en hyskrane gebou?

Ons het bietjie in die kerk gaan rondloop. Dis die vreemdste argitektuur. Mens kyk daarna en jou eerste indruk is Rooms. Die dak is beskilder en daar is gesnede houtmeubels. Daar is ook die opsie om kersies aan te steek. Maar verder is die plek minimalisties soos wat mens van Calviniste verwag. Gelukkig het ons besluit om die 237-trappe hoë toring te klim en die omie wat ons op die toer gevat het (ons moes saam met hom klim - seker om seker te maak ons skryf nie grafitti teen die mooi ou mure nie) het ons heelwat van Naarden se geskiedenis vertel oppad op en af. Soos dat die kerkie oorpronklik wel Rooms was, maar die laaste paar eeue Protestants. Dit het darem die argitektuur verklaar.

Die Spanjaarde het op 'n stadium die dorp aangeval en elke man doodgemaak. (Nie vrouens en kinders nie.) Ek dink dit was toe daar nog net 5 bastions was. Napoleon se army het dit oorrompel en die kerkklokke gesteel en verkoop om sy army te kan betaal. Hitler se manne het dit ook eeue later gesteel, maar van die Nederlanders het 'n gips-beeld gemaak en die nuwe klokke lyk dus presies soos die oues.

Ons gids het ook verduidelik hoekom die lang strate in die dorpie almal suid-oos geleë is. Dis omdat die diere in die winter ook in die Vestingstad moes bly en na 'n paaar maande begin sleg ruik het. Die Suid-oos wind het die reuke dan weggewaai. Primitiewe lugversorging. Onder die mure aan die buitewyke van die stadjie, is die ou bunkers en amunisie arsenale omskep in eetplekke en huise. Dit lyk kompleet soos hobbithuisies met slegs die skoorstene wat uitsteek.


Rijwiele



Wednesday, August 20, 2008

Vertroue

Die grootste winkelgroep hier is seker Albert Hein. Hulle is kosgewys soortgelyk aan die Woolies Food by die huis. Die enetjie hier naby ons het laasweek skielik toegemaak. Toe ons een aand wou gaan brood koop, het ons voor 'n dolleë winkel te staan gekom. Baie verbaas natuurlik., want ons was twee aande tevore daar en toe het alles nog normaal gefunksioneer Maar toe kry ons eergister 'n dingetjie deur die deur wat ons vertel hulle het vannaand 6uur weer 'n grand opening. En hulle maalvleis is 2 euro 'n kg...

Ons is toe maar te bly om te weet hulle is weer oop en is toe wel vannaand daarheen. My arme diëet is nou in sy peetjie :) Oral was daar goedjies om te proe en saam te neem. So het ons elkeen 'n klein magnum roomysie, lekker kaas, vleisies en koekies daar geproe en ook 'n appelkoos-en-appeltertjie pasella gekry om saam te bring huis toe. Was yummy.

Maar eintlik wil ek skryf oor hulle nuwe till-sisteem. Die Hollanders glo, soos Anne Frank, in de innerlike goedheid van de mens. By die ingang, is scannertjies. Jy vat enetjie en dra hom deur die winkel saam, scan alles wat jy reeds in jou winkelsakke (tasjes) pak, swipe jou bankkaart oppad uit en dis dit. Hulle het darem iewers genoem dat jy wel aan 'n spot check onderwerp mag word, maar dis net die wonderlikste siteem. Niks se ge-in-die-ry-stanery nie. Ek kan daarmee saamleef. Hup Holland!

Tuesday, August 19, 2008

Something old, something new


The not so new, but slightly improved me. Ek het sedert Augustus laasjaar 15kg verloor . Daar is omtrent nog 15 wat wil af, maar ten minste voel ek 'n slag goed oor hoe ek lyk. Al is my broek kwaad vir my skoene...

Sunday, August 17, 2008

En ek onthou


Ek kyk na die foto's wat Rods oor die naweek geneem het. Hulle is meesterlik. Tussen die dyke en mere, deltawerke en skepe, strande en windmeule is daar ook 'n paar van my. Dis moeilik om objektief na jouself te kyk. Maar wat vir my opvallend is, is die frons. Miskien as ek gelukkiger lyk, sal dit deursyfer na die binnekant. Miskien as ek die frons wegforseer, sal die vrede terugkom. Miskien as ek hard genoeg werk en my naweke besig genoeg is, sal ek vergeet om te verlang na 'n land met berge en son, na familie met bekende gewoontes en gesigte en na vriende wat weet hoe ek van my tee hou.

Wanneer ek my oë toemaak, onthou ek die Kalahari waarvan, as die rooi stof jou voete een maal geraak het, dit nooit weer afwas nie. My neus onthou die reuk van reën op stof en die wind wat deur 'n sleutelgat kan huil in die Karoo. Montagu se druiwe en rooiwang appelkose kan ek vandag proe. Die geur van lusern wat gebaal word. Die reuk van rou aarde onder 'n ploegskaar. Ek onthou Grahamstad met sy menigte kerktorings en die reën wat in vlae neerdaal; Bloemfontein se donderstorms, Johannesburg se lieflike elketriese storms; die Augustuswind in Kaapstad... Die enigste teerstraat in Steytlerville wat in die Februariehitte smelt.

Maar meestal onthou ek mense. Ek onthou my kindervriende, my familie, my paar goeie skoolvriende wat nou nog my paadjie deel. Ek onthou emmersvol koffie saam met die studentepelle en omtrent net so veel trane wanneer ons liefdeslewens juis die weg van minste weerstand gevolg het. As pienkbeer kon praat... Die herinneringe is soet en sout en onkoopbaar duur en meer werd as enigiets wat ek in my 27kg ingepak het hierheen. Maar waar ek kon, het ek herinneringe ook ingebondel. Op die foto hier bo is my nagapie wat ek as 'n verjaarsdag geskenk gekry het op 'n onvergeetlike vakansie in die wildtuin. 'n Klein stukkie Afrika wat kon saamkom. As jy dié blog lees, weet dat ek iewers ietsie van jou ook bewaar. Dat ek vandag verskriklik - na veral jou - verlang.

Saturday, August 16, 2008

De Vleselijke Woning


"Die mens woon in sy liggaam, maar hy het dit maar te huur..."
-Laurika Rauch

Die ark is toe

Ons het vandag (weer) rondgery. Die keer verby Amsterdam en om die Yselmeer (wat die Nederlanders IJselmeer sal spel - twee hoofletters en al) gegaan voor ons oor die afsluitdyk terug huistoe is.

Windmills of your mind. Van my mind ten minste. Kyk hoe klein is die stropertjie langsaan. Nederland het heelwat meer moderne windmeule as die meer tradisioneles waarvoor die land juis beroemd is.

Dié was nogal impressive. Dis 'n replika van Noag se ark. Een vyfde van die werklike se grootte anders het dit nie in die kanale gepas nie. Ongelukkig was die ark reeds toe. Ons het bietjie later geslaap vanoggend as beplan. Dis vir my tog ironies dat daar 'n ark is in 'n land waar 'n enkele oorstroming 'n derde van die land se bevolking kan uitwis.

"De strijd tegen het water blijft een strijdt door en voor de mens"
Inskrikpsie op die plek waar die afsluitdyk in Mei 1932 gesluit is.


Sonsondergang vanaf die afsluitdyk. Aan die see se kant is die watervlak 'n paar meter hoër as in die binneland. Oor die laaste paar dekades heen het die meer ook in 'n varswatermeer verander van dit van die see afgesluit is.

Friday, August 15, 2008

Die Monster naby Hoek van Holland


Spoilsports...
Rods by die deltawerke. Die groot sluise sluit tydens storms. Handig vir 'n land wat meestal onder seespieël is.

Een van die reuse by die deltawerke. Hulle tol hulle Mercedes-teken arms om en om. Wonder wat dink hulle.

Wolbeeste by Monster. 'n Bees is hier enige gedierte en Monster is regtig die dorpie se naam.

Vuurwerke


Intens, ontploffend, meesterlik magtig
Sensories, uitstekend, magies en kragtig
Meesleurend, meevoerend, hipnoties, kortstondig
absoluut ongelooflik, asemrowend; te bondig


Wednesday, August 13, 2008

Three more

DNA vir aandete

Vandag het ek 'meegekijk' hoe om die sequencer te behartig. Ek dink nie dis so erg nie. Dis dan soos kook. As jy kan lees, kan jy kook. In teorie natuurlik. Jy moet nog steeds weet wat 'smoor' of in die werk se geval 'eppendorf' beteken. Wanneer my agterent wel sitgekry het, was daar geen rus nie. Ek moet, noudat my babysitter weg is, al die inkomende werk self op die rekenaar invoer en ek weet dit moet ten minste 100% reg wees. Putting the heat up a bit.

Dis omtrent tyd om die hitte in die kombuis ook te gaan opdraai. Was 'n lang dag en my maag begin wonder of my keel 'n lekasie het. Ek is bly om te rapporteer dat beide ek en Rods nou die ligste is wat ons in 5 jaar was. In teorie kan mens net new of improved wees. Na nog 10kg af herken julle ons dalk nie meer nie. Rods begin nou goed lyk. Amper te goed. As dinge so aanhou, sal ek my naam iewers op hom moet begin tatoëer... Dalk net met 'n permanent marker skryf. Ek kan nie eintlik agterkom of hy eens weet dat ek gewig verloor nie, maar dis mos maar hoe mans werk; of so word ek verseker.

Nou toe, laat ek gaan groente (sug) kook. Dis jammer mens kan nie in die lab ook die DNA-mengsels so met die oog skat en slegs 'n Knorr-pakkie bygooi as die nie heeltemal so lekker uitwerk nie.

Sunday, August 10, 2008

Cologne deur Rods se lens

Gedeeltes van die ou stadsmuur (uit die Romeinse era) geïnkorporeer in 'n meer moderne gebou.
'n Baie interessante deurknop.

Cologne is 'n stad van kerke en katedrale. Duidelik. Dit word in twee gedeel deur die Reinrivier.

Lekker moeg trappe geklim

Van die loodglasvensters in die kerk.


Cologne-uitsig bo vanuit die toring van die Dom.

Eau de Cologne

Ons is gister Köln toe. Ander name en spellings vir die vierde grootste stad in Duitsland is Cologne of Koeln. Die uitspraak, omdat dit in Duits 'n o met 'n umlaut op is, is Keulen. Dit is een van daardie stede waaraan die geskiedenis kleef. Die stad is in die Christus-tyd deur die Romeine gebou en is in 50AD al as 'n Romeinse stad erken. Deur die jare was dit onder andere 'n vrye stad, onder Franse beheer, platgebom in die wêreldoorlog en so aan. Gaan lees op Wikipedia as julle nog wil weet.

In SA het my pa by 'n vroutjie op Gamtoos 'n skuur vir haar perde gebou. (Dis relevant. Hou maar aan lees.) Die vrou vertel my toe (in Brits) van Cologne en hoe mooi dit is en hoe sy eintlik absoluut niks van Europa en sy toegeboude stede hou nie. Maar as ek ooit in Cologne uitkom, moet ek na die Dam gaan kyk. 'The wall was built in the twelve hundreds...' So google ek vir Cologne en damwal, maar kry niks nie. Kry wel heelwat van die Katedraal en die Romeinse mure wat nou nog; 2000 jaar later, gedeeltelik bestaan. My ore blyk my toe in die steek te gelaat het. Waarvan sy gepraat het, was die Dom; nie die Dam nie. Dom is 'n Duitse (of Europese) woord wat kerk of katedraal beteken. Ons het daardie Dom intimately leer ken...

Die Dom is inderdaad in die 12-honderds begin bou en eers laat in die 18-honderds klaargemaak. Net om so 50 jaar later weer massiewe skade te ly met die oorlog. Van die claim to faim van die Dom, is dat dit die relics en shrine of the Magi huisves. (Die drie wyse manne van Jesus se geboorte.) Ook is daar onder in die vaults (skatkamer) die staf en twee skakels van die ketting van Paulus. Ek wonder of dit die regte staf en kettings is. As dit is, is die implikasies nogal fenominaal.


Een van die opsies, is om die (een) toring te klim. Roderick het die inligting iewers, maar as ek reg onthou, is dit 509 trappies tot bo. Steil trappies en nou trappies soos wat op die foto duidelik is. Ons is natuurlik tot heel bo. Ongelukkig is daar verskriklik baie graffitti. Ek kan verstaan dat nie almal Christene is nie, but you do not have to go desecrate other people's holy places. Al die pad teen die trappe op, in die klok-kamer en veral heel bo, is die graffitti in pen, verf, tip-ex en so meer, teen die mure geskribbel. Dis een van die oudste geboue in Europa, dis die belangrikste Roomse kerk in Duitsland... Bietjie respek sou gaaf wees.

Soos dit met alle katerale gaan, is ook die een enorm. Daar is mense wat dit kan regkry om die skaal van die grootsheid van hierdie geboue in 'n foto te kan weergee. Ek is nie een van hulle nie.

Holland en SA is beide Calvinistiese lande. Thinus het 'n teorie daaroor en sê dat minimaliteit en Calvinisme hand aan hand gaan terwyl die Rooms-Katolieke van tierlantyntjies hou. Hoe dit ook al sy, die detail op iets soos die Dom, is fenominaal. Elke deur, elke nissie, elke steentjie, elke vensterbank het 'n stukkie detail wat dit uniek maak. Hier is een van die ongebruikte buitedeure. Beautiful.

Besoedeling in Europa is 'n groot probleem. Heelwat stede begin nou karre uit die middestad verban - of ten minste minimaliseer. Die sandsteengeboue is vol van 'n swart aanpaksel. Dit is nie so sigbaar as hulle nie begin skoonmaak aan die gebou nie. Dan is die een helfte pragtig blank en die ander helfte liederlik vuil. Seker een van die nadele van beskawing.

When in Germany... Regte schnitzel. Dit was een van die lekkerste maaltye ooit. Ek weet nie of dit was oor ons so honger was en of dit was oor ons die toring se 509 trappies op en af is en daarna die twee verdiepings trappe na die skatkamer af en op is (en moenie die verdieping na die grafkelder vergeet nie) - en btw, het ek die 40 trappies van die Dom na die begane grond en die 71 trappies terug na die vlak waar die eetplekke is, vergeet? Ek oordryf nie as ek sê dat ons gister 800 trappies geklim het nie.

Die is van 'n uitkykpunt (bo-op 'n gebou) oorkant die rivier geneem. Die brug met die drie boë, is 'n treinbrug. Die hele Cologne het skade gely in die oorlog. Die katedraal (met die twee torings) moes gerestoureer raak (groot stukke klip het van die torings afgekom) en 'n paar van die brûe is verwoes. Mense weet almal dat Duitsland verantwoordelik was vir die oorlog, maar dieselfde mense vergeet dat die Duitse stede ook verwoes is. Heelwat van die oorspronklike Romeinse bouwerk is in daardie tyd vernietig. Dis nogal jammer.

Die riviere in Europa is lankal makgemaak. Mure is gebou om hulle binne te hou. In die droër seisoene is die riviere vlakker en maak dit 'strandtjies' - kompleet met klein brandertjies. Hier sit ek op een van die muurtjies seker so twee verdiepings bo die watervlak. My Hi-Techs het ek in 1996 gekoop. Dis nou 12 jaar later. Hulle het amper soveel universiteitsklasse as ek deurgesit, het al groot gedeeltes van Afrika en al die stede van Europa waarin ek al was, gesien. Hulle sole is glad, maar die veters werk nog.

Ek het gehoor dat die Duitsers 'n ongeskikte nasie is... As dit is hoe hulle wil hê dat ek by hulle moet kom eet, moet hulle van uitgangspunt verander...


Köln of Cologne is die stad waar parfuum vandaan kom. Die oorspronklike Eau de Cologne. Die 4711 is die straatadres waar die oorspronklike winkel was. Persoonlik verkies ek vanilla-geure...

Three

Wednesday, August 6, 2008

Grootmenswerk


Gewoonlik as ek foto's met oranje ondertone neem, het dit of iets met sonsondergang, of iets met 'n Nederlandse vakansiedag uit te waai. Nie die een nie. Het nou die oggend die sonsopkoms so gekyk en besluit om dit te dokumenteer. Net om te wys dat ek darem soms die regte kant van die dag ook sien.

My nuwe werk hou my allerverskrikliks besig. Om soggens 8uur daar te wees, moet ek al tien oor sewe by die huis uitwandel. Dis heeltemal te vroeg. Vanoggend was die trem wat ek moes vat, 4 minute te vroeg en sy opvolg wat veronderstel om 10 min later daar te wees, was meer as nog 10 min laat. Ek mis my Corolla. Gelukkig verwag die werk dat jy vir 8.5 ure per dag daar moet wees, so as jy eers 9uur daar wil inwandel, moet jy net seker maak dat jy nie voor half ses weer daar uit nie.

Dis lekker om weer te kan sê dat ek 'n wetenskaplike is. Ek sal seker binne die volgende paar maande begin moan oor die handskoene en die jas en die reaksies wat nie werk nie en die masjiene wat breek, maar vir nou is dit 'n droom wat bewaarheid is.

Ek doen vir die eerste maand of twee nie navorsing nie. Vir nou moet ek al die tegnieke aanleer en oor ons lab-opset redelik kommunisties is, word alles gedeel. Elkeen kry ook 'n week op bloeddiens. Dan moet jy alle inkomende bloed in DNA omskep. DNA is soveel skoner. Die buisies lyk of hulle net met water gevul is. Bloed aan die ander hand, is nogal yukkie. Nog 'n ander week, is ek op sekwensie-diens. (Dan moet ek die sequencer behartig.) Die res van die tyd screen ek vir dermkanker. Die Nederlanders praat van dikke darm kanker.

Die week loop ek soos 'n stertjie al agter die outjie wie se posisie ek vul, aan. Die prinsiep van die lab is dat jy een of twee keer meekyk, dan 'n paar keer die reaksies self doen terwyl jy aangestaar (of aangegluur as jy dit verkeerd doen) word. Daarna moet jy dit self doen, maar iemand kontroleer al jou resultate. Eers na dit mag jy self werk. Hoewel ek nie hou van die idee om gebabysit te raak nie, verstaan ek hoekom. Ons werk immers met mense se lewens. Hulle lewens en hulle dikke darms.

Sunday, August 3, 2008

Die wakker werker

Ek het Vrydag begin werk. Dit was nogal oorweldigend. My brein moes in trurat gesit word om alles wat ek as student moes leer, weer op te roep. Daarby saam moet ek toe ook nog 'n nuwe hoop goed byvoeg. Was nogal moeilik, synde ek Donderdagnag elke paar ure wakker geskrik het. Ek was natuurlik bang ek gaan verslaap.

Vandag is Maandag. Maandagoggend. Vroeg Maandagoggend. Ek het seker 3 ure se slaap in. Het so 11uur die lig afgesit, maar helaas... no rest for the wicked or the worker.

Die week moet ek 8uur by die werk wees. Sander, wie ek vervang, is nog net die week daar en hy moet al sy kennis in die tyd oordra. Gewoonlik moet ek tussen half 9 en 9uur daar wees, so van volgende week af sal dit seker rustiger gaan. Mens kan net hoop. Mens kan seker op meer slaap ook hoop.