Sunday, August 17, 2008

En ek onthou


Ek kyk na die foto's wat Rods oor die naweek geneem het. Hulle is meesterlik. Tussen die dyke en mere, deltawerke en skepe, strande en windmeule is daar ook 'n paar van my. Dis moeilik om objektief na jouself te kyk. Maar wat vir my opvallend is, is die frons. Miskien as ek gelukkiger lyk, sal dit deursyfer na die binnekant. Miskien as ek die frons wegforseer, sal die vrede terugkom. Miskien as ek hard genoeg werk en my naweke besig genoeg is, sal ek vergeet om te verlang na 'n land met berge en son, na familie met bekende gewoontes en gesigte en na vriende wat weet hoe ek van my tee hou.

Wanneer ek my oë toemaak, onthou ek die Kalahari waarvan, as die rooi stof jou voete een maal geraak het, dit nooit weer afwas nie. My neus onthou die reuk van reën op stof en die wind wat deur 'n sleutelgat kan huil in die Karoo. Montagu se druiwe en rooiwang appelkose kan ek vandag proe. Die geur van lusern wat gebaal word. Die reuk van rou aarde onder 'n ploegskaar. Ek onthou Grahamstad met sy menigte kerktorings en die reën wat in vlae neerdaal; Bloemfontein se donderstorms, Johannesburg se lieflike elketriese storms; die Augustuswind in Kaapstad... Die enigste teerstraat in Steytlerville wat in die Februariehitte smelt.

Maar meestal onthou ek mense. Ek onthou my kindervriende, my familie, my paar goeie skoolvriende wat nou nog my paadjie deel. Ek onthou emmersvol koffie saam met die studentepelle en omtrent net so veel trane wanneer ons liefdeslewens juis die weg van minste weerstand gevolg het. As pienkbeer kon praat... Die herinneringe is soet en sout en onkoopbaar duur en meer werd as enigiets wat ek in my 27kg ingepak het hierheen. Maar waar ek kon, het ek herinneringe ook ingebondel. Op die foto hier bo is my nagapie wat ek as 'n verjaarsdag geskenk gekry het op 'n onvergeetlike vakansie in die wildtuin. 'n Klein stukkie Afrika wat kon saamkom. As jy dié blog lees, weet dat ek iewers ietsie van jou ook bewaar. Dat ek vandag verskriklik - na veral jou - verlang.

No comments:

Post a Comment