Sunday, August 24, 2008

Naarden en 'n Top Deck

Een van die ses bastions (wat op die foto soos 'n groen pyl lyk) van Naarden.

Die kerk domineer Naarden se argitektuur. Dit is diagonaal met die huisies gebou.

Ons buit by die Spens.


Gister was 'n lekker rondry dag. Ons het eers Almere toe gery en 'n draai by die Suid-Afrikaanse winkeltjie gemaak. Daardie Top-Deck het nie lank gehou nie... Na dit is ons ook Naarden toe. Naarden is die mooiste ou middeleeuse dorpie. Die gedeelte binne die riviere en gragte word die Vesting genoem. Dit is 'n hele eiland omgewe met 'n muur met ses bastions. Daar is twee hekke (met draw bridge en al) om in te kom en 'n wye dubbele grag om die stadjie. Dit is absoluut pragtig en ek wil nie weet hoe dit in die 1400's al gebou kon word nie. Hoe het hulle kerke en mure en bunkers sonder skopgrawe en hyskrane gebou?

Ons het bietjie in die kerk gaan rondloop. Dis die vreemdste argitektuur. Mens kyk daarna en jou eerste indruk is Rooms. Die dak is beskilder en daar is gesnede houtmeubels. Daar is ook die opsie om kersies aan te steek. Maar verder is die plek minimalisties soos wat mens van Calviniste verwag. Gelukkig het ons besluit om die 237-trappe hoë toring te klim en die omie wat ons op die toer gevat het (ons moes saam met hom klim - seker om seker te maak ons skryf nie grafitti teen die mooi ou mure nie) het ons heelwat van Naarden se geskiedenis vertel oppad op en af. Soos dat die kerkie oorpronklik wel Rooms was, maar die laaste paar eeue Protestants. Dit het darem die argitektuur verklaar.

Die Spanjaarde het op 'n stadium die dorp aangeval en elke man doodgemaak. (Nie vrouens en kinders nie.) Ek dink dit was toe daar nog net 5 bastions was. Napoleon se army het dit oorrompel en die kerkklokke gesteel en verkoop om sy army te kan betaal. Hitler se manne het dit ook eeue later gesteel, maar van die Nederlanders het 'n gips-beeld gemaak en die nuwe klokke lyk dus presies soos die oues.

Ons gids het ook verduidelik hoekom die lang strate in die dorpie almal suid-oos geleë is. Dis omdat die diere in die winter ook in die Vestingstad moes bly en na 'n paaar maande begin sleg ruik het. Die Suid-oos wind het die reuke dan weggewaai. Primitiewe lugversorging. Onder die mure aan die buitewyke van die stadjie, is die ou bunkers en amunisie arsenale omskep in eetplekke en huise. Dit lyk kompleet soos hobbithuisies met slegs die skoorstene wat uitsteek.


No comments:

Post a Comment