Sunday, August 31, 2008

Dordrecht

Dordrecht is Nederland se oudste stad. Die kerktoring word op wikipedia as onvoltooid en skeef beskryf. Wikipedia jok nie. My foto is self nie heeltemal reguit nie, maar daardie toring lê kwaai na links. Ek sou hom ook nie klaar gebou het nie. Hoekom hy onvoltooid is, moes ek gaan Google. iIn meeste gevalle as 'n kerktoring onvoltooid is, is dit oor die geld halfpad opgeraak het. In die geval het die gewig van die toring die sanderige grond waarop dit gebou is, laat skuif . Dit gebeur heeltemal te dikwels hier; Delft se kerktoring het ook al gaan skuinslê. Ek skat die Bybel was reg. Die wyse man bou sy huis op die rots... Dordrecht se kenmerkende halwe toring huisves die mooiste klokkespel denkbaar. So al om die ander uur, speel hulle deuntjies wat mens amper kan saamsing. Ek was maar bly die kerk was toe teen die tyd wat ons daar aangekom het. Want die toring sou ons klim en as daardie klomp klokke reg langs my ore moes lostrek, dink ek ek sou dalk 'n probleem met balans hê die volgende week of twee.

Harseer engeltjie hou oor spinnerakke en tralies die wag.

Die gevoel van Dordrecht is heeltemal anders as wat ek nog in enige ander Nederlandse stad ervaar het. Rods reken dis oor dit nie so 'n groot toeriste-aantreklikheid is nie. Ek dink hy het 'n punt daar beet. Die mense is vriendelik en rustig. Behalwe die klomp by die Jazz-festival. Hulle was vriendelik en vrolik. Wat wel 'n ongelooflike stuk ingenieurswese is, is die spoorwegbrug. Soos meeste brûe in Europa, kan die een ook oplig om skepe deur te laat. Maar daar is seker 4 of vyf treinspore wat daar oorgaan en daar moet vir daardie gewig gekompenseer word. Die uiteinde van die saak is 'n brug waarvan net die ratwerk al my verstandjie te bowe gaan.

No comments:

Post a Comment