Wednesday, August 6, 2008

Grootmenswerk


Gewoonlik as ek foto's met oranje ondertone neem, het dit of iets met sonsondergang, of iets met 'n Nederlandse vakansiedag uit te waai. Nie die een nie. Het nou die oggend die sonsopkoms so gekyk en besluit om dit te dokumenteer. Net om te wys dat ek darem soms die regte kant van die dag ook sien.

My nuwe werk hou my allerverskrikliks besig. Om soggens 8uur daar te wees, moet ek al tien oor sewe by die huis uitwandel. Dis heeltemal te vroeg. Vanoggend was die trem wat ek moes vat, 4 minute te vroeg en sy opvolg wat veronderstel om 10 min later daar te wees, was meer as nog 10 min laat. Ek mis my Corolla. Gelukkig verwag die werk dat jy vir 8.5 ure per dag daar moet wees, so as jy eers 9uur daar wil inwandel, moet jy net seker maak dat jy nie voor half ses weer daar uit nie.

Dis lekker om weer te kan sĂȘ dat ek 'n wetenskaplike is. Ek sal seker binne die volgende paar maande begin moan oor die handskoene en die jas en die reaksies wat nie werk nie en die masjiene wat breek, maar vir nou is dit 'n droom wat bewaarheid is.

Ek doen vir die eerste maand of twee nie navorsing nie. Vir nou moet ek al die tegnieke aanleer en oor ons lab-opset redelik kommunisties is, word alles gedeel. Elkeen kry ook 'n week op bloeddiens. Dan moet jy alle inkomende bloed in DNA omskep. DNA is soveel skoner. Die buisies lyk of hulle net met water gevul is. Bloed aan die ander hand, is nogal yukkie. Nog 'n ander week, is ek op sekwensie-diens. (Dan moet ek die sequencer behartig.) Die res van die tyd screen ek vir dermkanker. Die Nederlanders praat van dikke darm kanker.

Die week loop ek soos 'n stertjie al agter die outjie wie se posisie ek vul, aan. Die prinsiep van die lab is dat jy een of twee keer meekyk, dan 'n paar keer die reaksies self doen terwyl jy aangestaar (of aangegluur as jy dit verkeerd doen) word. Daarna moet jy dit self doen, maar iemand kontroleer al jou resultate. Eers na dit mag jy self werk. Hoewel ek nie hou van die idee om gebabysit te raak nie, verstaan ek hoekom. Ons werk immers met mense se lewens. Hulle lewens en hulle dikke darms.

No comments:

Post a Comment