Dis die een ding van Afrikaans - en my Noordkaap familie - wat ek verskriklik mis: Die manier om 'n ding so grafies te beskryf dat jy nie anders kan as om 'n duidelike (en heel dikwels) ongewenste beeld voor oë te kry nie. Om iemand aan te jaag, maak jy sambrele in sy agterent oop. Jy skop brieke as dinge te vinnig gaan. Jy bewierook mense met jou liegstories. Niemand is perfek nie en as jy dit sou waag om aan en aan te gaan oor iemand se voortreflike karaktereienskappe, kan jy verseker wees om iewers (en glad nie so onderlangs nie) te hoor dat jy nog gaan uitvind dat sy stront ook stink. Natuurlik is agterent en stront eufimisties gestel.
Maar my gunsteling is my oom se verduideliking oor die nagevolge van 'n onlangse griep en sinusaanval wat ontydig sy verskyning gemaak het. 'Jy ken mos daardie meerkaaie by die plaas se hek?' Nou nie by name nie, maar ja. 'Hulle is mos 'n pes. Nee, eintlik moet jy nie dink aan die meerkaaie nie... Veldmuise... Jy ken mos veldmuise?' Ja, veldmuise weet jy ook van. 'Mens kry mos verskillende gesinne van daardie pestilensies. Daar is daai vales en sulke geletjies en natuurlik daais met die strepies so al op die rug af.' Ek sal maar Oom se woord daarvoor moet vat, want ek spring ewe hoog vir hulle almal. 'Nou vandag is hier agter in my keel, bietjie meer na die regterkant toe soos mens van voor af kyk, so 'n krapperigheid. Dit voel kompleet asof een van daardie muise - een van die gestreeptes - se stert hier in my keel afhang en so elke dan en wan bietjie kriewel...'
Ek is maar net dankbaar dis nie een van die meerkaaie s'n nie... Dis 'n beeld waarsonder ek kan leef.

No comments:
Post a Comment