My ma is vandag 'n jaar oorlede. Dit los 'n leemte wat mens moeilik verwoord en verwerk. Maak nie saak hoe jy jou daarop voorberei het nie. Mense vertel my ek lyk soos sy, klink soos sy, kyk soos sy. Ek aanvaar dit as komplimente. Behalwe die kyk. Sy was 'n wiskunde juffrou...
Wanneer iemand eers dood is, vervaag die herinneringe van enige foute wat hulle gehad het. So word ek vertel. Maar selfs toe sy gelewe het, kon ek min fout in haar samestelling opspoor. Sy het geluister. Sy het so diep geluister dat sy nie net jou verhaal nie, maar ook al die emosies wat ingesluit daarin is, bygehoor het. Haar standaard respons op diep lewensvrae soos watter man/beroep/lewensrigting die beter keuse is, was "Het jy al gebid daaroor?". Tog het sy goeie raad gegee. Miskien juis oor sy diep gelowig was.
Sy was baie lief vir gesels. Praat oor al die interessante boeke wat sy gelees het. Nie fiksie nie. Boeke oor mense, oor die wêreld, oor geskiedenis, oor fisika, oor geloof. Sy het elke jaar ongeduldig gewag vir die Sunday Times se Finders Keepers - net sodat sy 'n rede het om die biblioteek deur te grawe opsoek na nog inligting.
As student was haar hoofvakke Chemie en Wiskunde. Ek was al self derdejaar, met chemie I reeds twee maal op my rooster, voor ek besef het hoe moeilik daardie kombinasie is. Niks om 'n student se respek bietjie op te stoot as om die werk self te moet doen nie. Na sy geswot het, het sy'n rukkie voor sy getroud is in Duitsland gaan werk. Ek het geen illusies oor waar my wanderlust vandaan kom nie. Die Barnards hou van hulle voete op die aarde en wend daadwerklike pogings aan om hulle daar te hou. My ma se mense se pooie wil ongebonde rondswerf. En na dit alles het sy besluit om 'n onderwyseres te raak. Met daardie vakke! Met daardie voete! Maar sy was lief vir mense. Nie lief soos ek vir kinders is nie: gebak, gebraai, gekook... Regtig lief vir mense. Ten spyte daarvan dat hulle mense is.
Mens kan nie jou ma - en jou gevoel vir haar - opsom in 'n bladsy nie. Jy kan nie objektief kyk na die gemis wat minder maar nie weg raak nie. Jy kan nie vergeet hoeveel ure en ure julle op die telefoon deurgebring het nie. Jy kan ook nie vergeet hoeveel liters tee julle saam uitgedrink het op die volmaan-nagte wanneer nie een van julle tot rus kon kom nie. Jy kan nie vergeet nie, want jy wil dit nie uit jou geheue wis nie. Dis dan deel van wie jy is. Saam met die seer van die verlies, is daar 'n oop trommel vol herinneringe.
Goeie herinneringe.
Ai Nelle, Jy het my nou somme in trane. Die foto van jou ma, nes ek haar onthou.
ReplyDeleteDankie,
Lekker om haar weer te sien.