Sunday, November 30, 2008

Kaal voetjies in die sneeu

Ek het vannaand na 'n optrede van Karin Hougaardt gaan kyk. Nou moet ek bieg dat ek van haar goed slegs vir Bly en vir Lui lui telefoon ken. Weet nie hoe oud sy is nie, weet nie hoe sy lyk nie, weet net sy het 'n asemrige stem. En weet dat sy Afrikaans is en dat sy hier in Den Haag is.

Vanmiddag bel ek toe SA toe. So vind ek toe by tannie Max uit dat Karin haar shows altyd kaalvoet hou. Na ek vertel het van die sneeu van vanoggend sê die tannie toe so ewe droog "Ag siestog met haar ou kaal voetjies so in die sneeu..."

Na vannaand kan ek sê dat Karin ongelooflik talentvol is en dat sy waaragtag kaalvoet by ons 2 grade max was. Haar lirieke is rou en emosioneel en openlik verdedigend vir hulle reg om daar te wees. Die soort eerlikheid wat mens bewonder in ander, maar wat jou vir hulle part skaam maak. Maar ek het dit geniet. Sy kan maar terugkom hierheen.

Teetijd



Kleintyd se poppespel met al die poppe om die tafel en die kat onwillig op 'n kussing
Teetyd met minatuur koppetjies en pieringtjies
Denkbeeldige tee wat versigtig - pinkie in die lug - geproe word
Onsubstansiële koekies vol kersies en versiersels...

Net omdat ek grootgeraak het, beteken nie dat teetyd nie steeds 'n tyd van verbeeldingsvlugte mag wees nie. Dis net jammer die egte tee en koekies is nie so vullend nie.

Nog sneeu

Daar is die naweek 'nat sneeu' voorspel. Ek het gereken dit sal seker maar ysreën wees en dis ook hoe dit vanoggend begin het. Ek het gekyk hoe die reën mooi soet in lyntjies afkom terwyl daar tussendeur 'n enkele vlokkie uit gelid gedryf het. Later het die reën moeg geraak en die sneeu gelos om self te speel. Hulle dwarrel hier verby die raam, elkeen op sy eie paadjie, elkeen teen sy eie spoed. Daar is vettes en slankes, dié wat langsaam hulle weg vind, dié wat haastig is om hulle nuwe, tydelike blyplek te beset en die wat stroomop probeer talm.

As sneeuvlokkies kon dink, wat sou dit wees? Sou hulle bly wees dat hulle vir 'n rukkie in 'n ander waterfase is? Sou dit hulle behaag om te weet dat in hulle vorm hulle gravitasie teëgaan? Sou hulle onverstoord hulle weg grond toe vind in die wete dat hulle deel is van die ewige waterkringloop of sou dit hulle pla dat hulle skoonheid verlore sal gaan met die eerste druppel wat val of die eerste sonstraal wat deurbreek? Dalk is hulle gelukkig in die wete dat as hulle goed en lief is soos die Sinterklaas-kindertjies dat hulle dalk eendag weer 'n kans sal kry om 'n sneeuvlokkie te mag wees.

Sinterklaas






In plaas van Kersvader, het die Nederlanders vir Sinterklaas. Hy kom einde November per boot uit Spanje met sy helpers; die swartpiete. Hulle werk is om presente uit hulle streepsakke aan die kinders wat lief was die jaar, te gee en om die stout kinders eers 'n loesing te gee en hulle dan in die sakke te stop en terug te neem Spanje toe. Dit verklaar vir my nogal heelwat van die Spanjaarde...

Tot redelik onlangs het die swartpiete nog met latte (roede) rondgeloop, maar die ouers het gevra dat dit liewers afgeskaf raak. Van die kinders was te bang om van die koekies (pepernoten) by die swart mannetjies en vrouetjies met die rooi lippe te vat. Ek kan my goed indink hoekom daardie kinders bang was. Selfs op 'n jong ouderdom is 'n geheue 'n swaar ding om rond te dra.

Daar is net een ding waaroor ek nog wonder. Ek verstaan dat Sinterklaas al sy geld op presente (en seker lone aan die swartpiete) uitgee. Maar waarom die arme man agterop 'n 1950 trokkie gelaai moet word, gaan my verstand te bowe. Weet hy dan nie daar is sneeu voorspel vir die naweek nie?

Tuesday, November 25, 2008

Najaarsdroom

nog 'n najaar in die vreemde
met my drome sonder tal
en ek weet die winter kom weer
met sy sneeu wat ewig val

ek ken die Rynland-nagte
die Alpe met sy sneeu
die Swartwoud se geheime
en die liedjie van 'n meeu

maar hier buite sterf die somer
en ek sien die blare val...
en iewers skyn die somerson
op die velde van Transvaal
en erens dreun die branders
aan die strande van Natal

ek sit soms en ek luister
of ek dalk in die wind
die Vrystaat en die Boland
se stemme terug kan vind

ek ken die Spaanse nagte
die Alpe met sy sneeu
ou Amsterdam se gragte
en die liedjie van 'n meeu

Geskryf deur Koos du Plessis
beleef deur Nelle

Sunday, November 23, 2008

Sneeu!

Gepantser teen die koue

Ons kar

Die groot yskas

Flentertjies kleur in 'n wit landskap

Kook en gegiggel


Ek het 'n wyse man. Hy kom seker iewers uit die ooste vandaan. Synde Kalahari.com so gaaf is om tot by ons voordeur af te lewer, het ek twee juwele van boeke gekry. Die Kook en Geniet hoef ek nie veel oor te skryf nie. Afrikaanse kookbybel. My ma het een gehad en Gesina het lankal deps op hom geplaas. Daar is resepte in hoe om beesvleis soos wildsvleis te laat proe, hoe om gemmerkoekies te bak en hoe om die verlange in jou hart te lawe met bekende geure en teksture. Jan Spies se stories is net so bekend. Daar is die sterre met hulle sterte en die tierwolf op die toilet. Sy verhale maak draaie deur die Kalahari, Karoo en die beter natuur wat wegkruip in elke mens. Dit is lag-met-'n-traan stories wat my wortels in Afrika hou.

Ek het nog altyd gereken as mens kan lees kan jy kook. Nou weet ek as mens kan lees, kan jy lag ook.

Sunday, November 9, 2008

Maastricht

'n Gedeelte van Onse Liewe Vrou kerk.

In die stories lees mens altyd van die meulenaar se dogter; gewoonlik sy jongste dogter. Hierdie meul is die Biskopsmeul en in die middeleeue was die brouwers verplig om of dié een of die graaf s'n te gebruik. Demokrasie het sy voordele.


Helpoort

St Pietersberg. Die bergie is as ek reg onthou 180m bo seevlak en het 'n fort bo-op.


'n Kasteeltjie naby Drielandepunt.

Birthday Boy

Roderick het Saterdag verjaar en nadat al die mense wat ons goed genoeg in Nederland ken om te nooi na sy partytjie (albei!) besig was, het ek besluit om darem ietsie interessants met die dag aan te vang. Toe boek ek ons in 'n boot-hotel in. Toe ons klein was, het ons na Die Beertjieboot geluister en daar was 'n Hotel de Botel in. So nou het ek darem in die plek geslaap. Ons kajuit was op die onderste vloer en die gang het geruik soos wasgoed wat mens 'n week in die masjien vergeet het. Moenie vra hoe ek weet hoe sluke wasgoed ruik nie. Die kamertjie self was piepklein en darem reukloos. Maar dit was 'n plekkie om die nag te rus.

Maastrich is 'n pragtige stad. Dit dateer, soos amper alle Europese stede, ook uit die Romeinse tyd uit en daar is 'n hele doolhof van grotte onder die stad waar mens kan gaan rondloop. Dit is ook die setel van bourgondische leefstyl in Nederland. Maastrich is naby die Belgiese sowel as die Duitse grens en die kos daar is regtig lekker. Die pryse natuurlik nie.

Ons het deur Helpoort geloop en ek moes glimlag, want hoewel die Bybel ons waarsku dat die poort na die hel breed is en dat vele daar deurgaan, is Helpoort deel van die oorspronklike stadsmuur en is die poort te nou vir 'n kar om ordentlik te pas. Wat my natuurlik toe hard laat wonder hoe nou die smalle weg se poort dan moet wees. Daar is 'n magdom kerke en katedrale in Maastricht. Van hulle is omskep in teaters en boekwinkels. Vir my bly dit 'n verkeerde gedagte dat 'n kerk in onbruik verval.

Vanoggend is ons na Liége toe. Dis in België. Oppad daarheen het ek die mooiste mooiste kasteel gesien, maar daar was nie plek om te stop en 'n foto te neem nie. Dit was langs die water en 'n paar honderd meter lank met toringtjies, hoë mure en 'n berg agter waarvan al die bome herfskleurig is. Dit was so mooi. Volgende keer loop ek daardie pad... Liege self was 'n teleurstelling. Dit is 'n mooi 'vertical village' soos Rods dit noem, maar die strate was so toegebou en die verkeer was nogal erg. Ons het nie eens gestop daar nie. Nou is ek natuurlik spyt daaroor, maar op daardie stadium wou ek net uit die plek uitkom en asemkry.

Van daar is ons drielandpunt toe. Dit was pragtig. Ons is met die toring op en het vir Duitsland, België en Nederland van bo af besigtig. Onder het ons frites, bockwurst en pepermunte gehad, so die drie lande is ook daar mooi verteenwoordig.



Daar is die mooiste doolhof by Drielandepunt, maar ons het dit nie vandag gaan besoek nie. Miskien volgende keer.



Monday, November 3, 2008

Misty Monday

Vandag is 'n grys en wit dag. Dit is so mooi. Dit lyk of die wolke afgesak het tot in my wêreld en nou moet ek tussen hulle werk en loop en treinry. Soos 'n mengsel van spookasem en watte dryf hulle hier en whirl en twirl in die lugstrome wat langs die gebou rondbeweeg. Ten minste reën dit nie (nou nie) en kan ek die bleekwit sprokiesland goed waardeer.