Dis bitter koud hier op die oomblik. Vandag se max was 'n volle 1 graad. Môre lyk nie veel beter nie. Vrydagaand was self nader aan Eskimoweer as wat ek gewoonlik van hou. Maar dit het ons nie gekeer om Dordrecht toe te gaan nie. Merel van my kantoor speel (tweede) viool in die Dordrechtse amateur simfonie orkes en toe sy met kaartjies by die werk opdaag, het ek sommer vinnig gekoop. Dis kos vir die siel.
Dit was ysig daarso. Ons het sommer dadelik gery toe ek by die huis opgedaag het en was dus albei moeg en moeilik en redelik honger. Gelukkig was daar 'n restaurantjie by die teater en ons het daar nogal lekker geknibbel voor ons gaan orkes luister het. Soos dit met alle Nederlandse do's gaan, was daar 'n lang speech aan die begin. Eers deur die orkesleier en daarna deur die burgemeester. Die orkes is die jaar 125 jaar oud en ons het 'n lang relaas aangehoor oor die geskiedenis - soos dat die ouens in die oorlog op volmaannagte moes oefen agv 'n verpligte ligte-uit alle nagte. Voor al die gepratery het die hobo-speler opgestaan en almal het hulle instrumente ingestem. Rods weet ook nie waar die tradisie vandaan kom dat dit juis die hobospeler moet wees nie, maar ek is seker as ek oom Google vra, sal dié wel weet.
Die eerste stuk was nie so mooi nie en die mense het maar polite hande geklap. Die tweede stuk, was 'n stuk van Rachmaninov en is deur 'n solis (op die klavier) Eliane Rodriques gespeel. Sy was absoluut briljant. Die musiekstuk begin op dieselfde wysie as Celilne Dion se All by myself tot net voor die koortjie. Dit was amazing. Die klavierspeler het die interessantste skepping gedra. Dis 'n griekse rok met die twee los stukke wat voor afhang tot op die grond, maar in 'n diep en kleurvolle oranje wat van kleur verander soos sy beweeg. Die encore daarna, was heeltemal eg.
Na pouse het ons na die laaste twee stukke (beide deur Russiese komponiste) geluister. Die dirigent is 'n Rus wat seder 76 (my geboortejaar) al by die orkes betrokke is, so dis seker te verstane dat hy van Russiese musiek hou. Na afloop van die konsert het ons ons baadjies van die oorvol rakke gaan afhaal en huis gekry. Dis vir my die vreemdste gedagte. Omdat die vertrekke almal verwarm is, hang mens jou baadjie aan die kapstokke by die deur op en glo vas dat as jy 'n paar uur later dit gaan soek, dit steeds daar sal wees. En dit is. Ek dink ek het vertrou-issues wat ek saamdra. Mensbagasie. Maar ek dra ook ligte note en vreugde met my saam. En dié is lig.
No comments:
Post a Comment