Wanneer die bome soos verlepte Afrikanerblommetjies lyk
En die strate in dik bruin tapyte gehul word
Wanneer die afgewaterde lug met wolkkomberse bedek word
en die hoeke met huilwind gevul word
Wanneer die byt in die lug vennyniger hap
en die baadjie gerits word tot bo
En die stewels en serpe hul buiging kom maak
dink ek aan liefde, hoop en glo
Liefde so breekbaar so teer, tog so sterk
Geloof wat jou selfs uit die hel uit kan trek
Maar hoop, sy's 'n helsim, 'n brute barbaar
en tog bly ek hoop op nog 'n voorjaar
No comments:
Post a Comment