Sunday, March 21, 2010

Dis heerlike lente

Lentedag 2010

Die is toe - na deeglike ondersoek - 'n eierverwarmer en nie 'n vingerpoppie nie

Sunday, March 14, 2010

Saturday, March 13, 2010

Linner in Scheveningen



Het wapen van Scheveningen se venster-kuns laat my baie lus voel om daar 'n dop te gaan drink.

My pizza is lief vir my - en ek vir hom


Ek dink Donkey se kunstenaar en Het Wapen s'n is dieselfde persoon. Ook hier voel ek genoop om 'n draai te kom gooi.

Ek weet die karakter is uit Up uit, maar vir wie wil regtig dié verjaarsdagkoek eet?

Die ete tussen ontbyt en middagete, is brunch. Op die weg van dieselfde logika, het ek en Rods vandag in 'n klein, vibrant koopstraatjie by Scheveningen (die woord het 'n g-klank; regtig!) gaan linner eet. Die Italiaanse restaurant het gewen en ons is gevra of ons so in ons tweetjes kom uiteet. Toe die pizza opdaag, was daar baie liefde op die tafel. Woordspeletjies ook. We ate our hearts out. Om die kos te eet, was hartverskeurend. Ons harte is gebreek. Daar het 'n lem deur my hart gegaan. Aan die einde van die ete was ons albei harteloos. Ek moes oor my hart - die een wat ek so graag op my mou dra - waak, want Rods is 'n hartedief. Pizza is regtig my hart se punt. Die ete was hartstikke hartlik. Dit was hartseer om daar weg te gaan - hartverskeurend eintlik maar ons was van harte bly vir die hartlike maaltyd...

Die onder-rok en die bo-rok

Driekwart klaar onder-rok. Hy moet nog soom kry.

Patroon vir die onderste rok

Die patroon vir die bo-rok vra tussen 10 en 15 meter lap, 11m van die een soort lint en 'n verdere 5 meter van die ander soort. Dit sluit nou nie die 30 ogies en die riempie wat daar deurgeryg moet word in nie...

In April is die Fantasy Fair. Die jaar gaan ons in uniform. Wel, soortvan. Natasha se rok is al in Februarie klaargemaak. Roderick kry 'n mooi rooi mantel. My skepping het vandag eers begin vormkry - die onderste gedeelte in elkgeval. Dit het makliker in teorie geklink. In praktyk moes die pante presies reg geplaas word om daardie donkerder en ligter gedeeltes van die materiaal perfek op te line. Ten spyte van ernstige beplanning en uitknip, is daar tog 'n keer of vier uitgerafel en oor begin. Vandag was ook my eerste kennismaking met balyn (balein?). Dit is nou die harde goed wat die rok vanself laat bobly. As geheel is ek zeer tevrede, maar ek dink my rok gaan skouerbandjies kry. Vir my eie gemoedsrus. Al word alles wat moontlik kan ontsnap met 10-15 meter lap bedek. Ek sit en wonder nou wat die finale produk gaan weeg en of ek sal kan beweeg daarin. Maar dit is gelukkig April se worry daardie.

Friday, March 12, 2010

Close-ups



Waar ek besig is



My werkplekkie. Versamelplek van foto's. Van kaartjies. Van almanakprente. Van verjaarsdagposters wat die kollegas vir my gemaak het. Van post-its en Niet vergeten. Van streefdatums en deadlines - al maak hulle nie wooshing sounds nie. Van lewe.

Lang winter


Dit is al middel Maart.
maar die bome bly naak
en ek wag

Kuns by die LUMC

Die opblaas dikkedarm

Ingang na die derm met, uhm, interessante uitbeeldinge van poliepe. Daar is ook heel veel inligting en foto's op posters daar binne beskikbaar.

My kollegas

poliepe
dermkanker en poliepe


Ek werk diagnosties op die geen APC, siekte FAP. Oorerflike dikdermkanker. Vir net die week is die opblaasderm by die LUMC sodat mense daar kan deur loop en die onderwerp makliker kan benader. My kollegas en ek het besluit om ook te gaan kyk wat aangaan. Maar die gesprek het vinnig suid gedaal. Mens moet immers humor ook in jou werk inwerk...

Sunday, March 7, 2010

Pcycling

Saterdag het ek gaan fietsry. 'n Sessie wat nie net my bene nie, maar ook my siel goedgedoen het. Van daar die nuwe woord. Pcycling.

Die oorspronklike plan was om Wassenaar toe te ry. Daar waar die kroonprins woon. Of Hoek van Holland toe. Daar waar die groot ferry vanaf Engeland rivier-op rigting Rotterdam mik. Die twee eindpunte is presies in teenoorgestelde rigtings, maar ek het gereken as ek by die deur uitry, mik ek wind-op en hou aan tot ek nie meer kan nie. Terug huistoe sal dus maklik wees.

Op die ou end het ek Scheveninge toe gery met Wassenaar as my bestemming. Ek het bospaadjies gevat en tussen die boom-skelette deurgevleg. Gewonder of hulle weet dat volgens die Nederlandse kalender dit oor twee weke Lentedag is. Gewonder wat hulle van plan is om daaromtrent te doen. Op die grond was daar sulke mooi pers bolplantblommetjies en hier en daar 'n sneeuklokkie. Maar die bome is nog bar.

Die wind was sterker as wat ek verwag het en teen die tyd dat ek by die kasteelpoort verby die Duinwater suiwerings gebied in is, was ek reeds poegaai. Twee kilo's verder op die bo-kant van 'n aansienlike bult, moes ek afklim en aan die heining vashou. Soms weet mens jy gaan opgooi. Of doodgaan. Of beide. En die volgorde waarin dit gebeur, is nie meer relevant nie. Na 'n lang ruk en by gebrek aan enige van die twee dreaded reaksies, het ek die voorwiel weer rigting Den Haag gedraai.

Maar toe gaan dit voor die wind - en nie net by wyse van spreke nie. Met die wind teen my rug, is die afdraand wat ek in die wind-op rigting moes aftrap net om die fiets aan die gang te hou, se opdraand toe sommer kinderspeletjies. Met die nuwe woema ry ek toe al langs Scheveninge se strand af. Dit is 'n miernes van werkers. Op Lentedag mag die restaurante op die strand weer oopmaak. Hulle moet net eers gebou word, want die tydelike geboue word elke herfs uitmekaar gehaal.

Ek het op die hawemuur uitgery tot by die ligtoring. Die see was bolangs kalm met sy klein brandertjies. Die modderbruin kleur van die water het egter iets weggegee van die onderstromende emosies van die oseaan. Binne die twee hawepoorte het twee surfers hard probeer om binne te swem. Volgens wet mag mens nie daar swem nie, maar ek skat 'n seestroom het hulle ingedra. Ek het hulle lank sit en dophou - die twee wat soos blinkswart goggas lyk met hulle lywe op die surfboards en hulle arms aan die roei het hulle gelyk of hulle op die water le en kruip. Dit was nie baie effektief nie. Maar interessant om dop te hou.

Die huistoepad van daar af was ook net 'n vreugde. Met die wind meestal van agter maar soms van die sy, het ek die huis ligter betree as wat ek hom verlaat het. Die spinnerakke uitgewaai, my gedagtes georden, my emosies uitgewoed en my bene lam.

Saturday, March 6, 2010

Wintervreugde


Om op 'n koue wintersdag in die onverwagte sonnetjie 'n koppie tee te kan geniet - dit is vreugde. En vrede.

Spore van die druppels


Ek het gister in die gietende reën onthou hoe ek as kind in die bad teen die teëls sit en speel het. Versigtig -soos met dominoes - enkele klein druppeltjies teen die gestoomde teëls gedruk. Die badwater gebruik om soms gevaarlike groot druppels teen gravitasie te laat baklei. Uiteindelik wanneer genoeg reisgenote opgestel is, is beide hande natgemaak en 8 vingers bo teen die betrokke teël gedruk. (Die duime mag nie saamgespeel het nie.) Dan het die druppels resies gejaag tot onder. Waar hulle oppad 'n ander voorafgeplaasde druppel ontmoet, is die momentum aangehelp, natuurlik. Maar wat ek eintlik onthou, is dat water 'n geheue het. Want as jy later op dieselfde plek 'n resiesdruppel loslaat, volg dit steeds dieselfde weg as die baanbreker. Die weg van die minste weerstand.

Gister het ek die treinruit so sit en dophou en die verskillende waterweë van die druppels probeer interpreteer. As mens 'n computer-model wou maak, sou gravitasie, maar ook die rigting en sterkte van die wind en die rigting en spoed van die trein in ag geneem moes word. Moontlik - maar waarom? Want in my gedagtes hardloop die druppels nog steeds resies. En om die uitkoms vooraf te ken, plaas nou een maal 'n demper op die spel.

Thursday, March 4, 2010

Groet sonder woorde

Groet sonder woorde

Laat ons nie praat nie,
die tyd is verby
niemand is kwaad nie,
en albei is vry
kom kyk deur die ruite,
die nag staan en blom
woorde hoort buite,
want hartseer is stom

Lê jou kop hier teen my skouer
laat jou hart sy paaie gaan
stilweg word ons wys en ouer
eendag sal ons dalk verstaan
maar tot die ryp kraak onder skoene wat geen
ander haat of tuiskoms ken
gun ek my nog visioene van een
wat die hele wereld wen

Jy hoor my nie meer nie
ek sê maar totsiens
ek sal jou nie steur nie
ek loop ongesiens
want jy is in oorde
waar drome nog blom
ek groet sonder woorde
want hartseer is stom
en jy is in oorde
waar drome nog blom
ek groet sonder woorde
want hartseer is stom.
Koos du Plessis