Saturday, March 6, 2010

Spore van die druppels


Ek het gister in die gietende reën onthou hoe ek as kind in die bad teen die teëls sit en speel het. Versigtig -soos met dominoes - enkele klein druppeltjies teen die gestoomde teëls gedruk. Die badwater gebruik om soms gevaarlike groot druppels teen gravitasie te laat baklei. Uiteindelik wanneer genoeg reisgenote opgestel is, is beide hande natgemaak en 8 vingers bo teen die betrokke teël gedruk. (Die duime mag nie saamgespeel het nie.) Dan het die druppels resies gejaag tot onder. Waar hulle oppad 'n ander voorafgeplaasde druppel ontmoet, is die momentum aangehelp, natuurlik. Maar wat ek eintlik onthou, is dat water 'n geheue het. Want as jy later op dieselfde plek 'n resiesdruppel loslaat, volg dit steeds dieselfde weg as die baanbreker. Die weg van die minste weerstand.

Gister het ek die treinruit so sit en dophou en die verskillende waterweë van die druppels probeer interpreteer. As mens 'n computer-model wou maak, sou gravitasie, maar ook die rigting en sterkte van die wind en die rigting en spoed van die trein in ag geneem moes word. Moontlik - maar waarom? Want in my gedagtes hardloop die druppels nog steeds resies. En om die uitkoms vooraf te ken, plaas nou een maal 'n demper op die spel.

No comments:

Post a Comment