Van ek in Nederland woon, was ek in drie situasies waar ek gewonder het of die ou nie in 'n gestig hoort nie. Drie in byna 4 jaar is statisties gesien seker nie sleg nie. Maar dit bly baie weird en goor en los my met 'n wrang nasmakie en 'n gewonder of ek iets kon doen om dit te kon verhelp.
Eerstens was daar die 'baas' by die mark wat vir my en Laura weggejaag het uit sy materiaalstalletjie, want 'hy is die baas en hy is die enigste een wat hier besluit wat gedoen mag word...' Soos wat se materiaal wie mag koop nou byvoorbeeld. Lekker weird.
Die tweede ou het Nederlandse Tourette's gehad. Dit is wanneer jy iemand in Nederlands liederlik vloek en dan heel vriendelik in Engels gesels en dan verder in Nederlands slegsê. Daai knaap was by Grote Markt toe ek en Margie sit en koffie drink het.
Nommer drie was die 'Spitter'. Hom het ek en Laura gister op die trein raakgeloop. Ons was onderweg na Tilburg en by Dordrecht het 'n interessante karakter opgeklim en op die sitplek aan die anderkant van die paadjie van ons kom sit. Hy het so half hygend asem gehaal en ek het klaar gedink oe oe oe, maar het nie eens in sy rigting gekyk nie. Die vibes was net vreemd.
Net buite Dordrecht ry ons toe by 'n pragtige begrafplaas verby. Regtig mooi. Oud. En ek en Laura kyk daarna en bespreek hoe ons dit graag sal wil besoek, want dit is so mooi; die ou begrafplase. Nuwe begrafplase interesseer ons nie regtig nie, want die grafte is bietjie boring, maar die ou begrafplase is wel te besoek.
Toe bulder die ou van oorkant af dat ons hom 'disgust' en hoe durf ons so van die dooies praat. Ons kyk toe in sy rigting om seker te maak hy praat wel met ons en nie met sy foon nie en Laura het lank genoeg gekyk om te sien hy het 'n traan onder sy oog getattoeëer. Ek het net geglance. Ons ignoreer hom toe en praat verder. Toe vlie hy op en ek kon sweer hy gaan vir Laura slaan, maar hy spoeg toe so 'n groot sluk pienk yogisip tussen ons twee deur teen die ruit vas en storm weg met vloeke en skelle van hoe ons hom disgust; so al asof om in die openbaar mense te probeer spoeg nie disgusting is nie.
Ek sit en sif toe nog in skok deur my moontlike reaksies, toe sê Laura heel rustig: That boy has issues.
Nou ja, toe moes ek maar ontlont en met haar saamstem. Ek wonder wat ek sou maak as hy ons fisies sou aanval of sou raakspoeg. Aan die een kant hoop ek ek sou 'n tierende vegter wees, maar ek weeg actually nie of ek myself tot op daardie vlak sou laat daal het nie. Bly ek hoef nie uit te gevind het nie.
No comments:
Post a Comment