Monday, January 12, 2009

Die innerlike goedheid van die mens



In Maritza se kamer het 'n poster van Anne Frank gehang. Die presiese woorde het my jare gelede al ontgaan, maar dit kom daarop neer dat ten spyte van alles, sy steeds glo aan die innerlike goedheid van die mens. Ek dink my man is bietjie soos Anne Frank. Hy los sommer maklik goed waar ander mense dit sou kon wegdra, want, omdat hy so is, verwag hy van ander mense om ook eerlik te wees.

Ons is die naweek Luxembourg toe. Saterdagoggend is ons getas en geserp hier by die deur uit; om die sneeu te gaan aandruf net om by die kar agter te kom dat iemand oornag die klein ruitjie gebreek het, en met Rods se bril en Garmin fort is. Ergste van alles is dat diƩ in die cabio was en nie eens binne sig nie. Toe word ons trippie bietjie uitgestel. Ons was omtrent 'n uur by die polisiekantoor en 'n uur en 'n half by die kwikfit wat vir ons 'n plastiekruit ingesit het. Vir eers.

Dit help nie mens gooi klippe oor wie se skuld dit is nie. Al wat klippe aanrig, is om nog vensters te breek. En die vensters van die gemoed, verdra nie om met perspeks vervang te word nie. Miskien moet mens maar soos Anne glo in mense (en vergeet waar haar geloof haar laat opeindig het) of miskien moet mens katvoet deur die lewe loop. Die probleem van niemand vertrou nie, is dat mens dan soveel mis. Ek is nou baie lus om 'en soveel gespaar bly' in hakkies by te tik, maar die optimis in my weier. Want ten spyte daarvan dat ons 'n paar goed kwyt is, was die naweek 'n sukses. Rods het 'n nuwe bril en satnav en ek het 'n sak vol herinneringe - en die kans om 'n I told you so te laat verbygaan. Dan is die prys nie regtig so buitensporig nie. En dan bly glo mens maar in die innerlike goedheid van die mens.

No comments:

Post a Comment