Mens kan sien ek was 'n arm student. Na een van my groot universiteitsliefdes in eenrigtings uitgeloop het, het ek 'n hartroerende gediggie geskryf waarin ek hom vertel dat al word 'n paar sokkies in die was geskei, dit niks verander aan die feit dat hulle bymekaar hoort nie; selfs al word hulle later saam met 'n ander halwe paar gedra. As ek toe geld gehad het, sou ek van onderklerestelletjies ipv sokkies gepraat het...
Maar dit was dae van cross your heart and really hope to die as iemand jou daarin sou moes sien. Ek dink die helfte van my selfbeeldprobleme is Woolies se skuld. Daardie cross your hearts gee jou 'n soliede voorkoms, druk jou in rare vorms in en veroorsaak dat as die dag ietwat koud is - wat Bloem nou nogal in die winter word - dat jy 'n dim en bright het. Verskriklik. Dat ek daardie jare oorleef het, is net te bewys aan die feit dat ek nog hier tik. Skaamte is 'n verkriklike ding om aan te sterf en nog erger om aan te oorleef.
Gelukkig het ek die wonderwêreld van bedrade onderklere en die selfs wonderliker skat van kant en satyn ontdek. Die enigste ware liefde wat ek van my (laat) studentedae oorgehou het, is die liefde vir mooi onderklere. My selfvertroue het inderdaad met 'n paar sentimeter gegroei. En ek het ook wyser anderkant uitgewandel. Want nou weet ek ten minste dat daar baie opsies is wat perfek kan werk en as mens in die winkel 'n keuse kry van 'n bypassende volle broekie, high cut, bikini of g-string, hoeveel meer keuses kan mens nie in die lewe kry nie? Rods sal bly wees om te verneem dat ek hom nie as 'n halwe paar sien nie, maar as 'n perfekte pasmaat. Rods sal seker ook bly wees om te sien hoe my nuutste aankope lyk...
No comments:
Post a Comment