Sunday, January 18, 2009

want my Mommy

Rods is al die hele week knieserig. Hoesserig, heserig. Ek het simpatie daarmee, maar redelik oppervlakkige simpatie. Mans word mos altyd in die oortreffende trap siek, so ek reken die vierkantswortel van hulle sigbare siekte uit, en handel daarvolgens. Vanoggend het ek egter met 'n krapperige keel en 'n ooreenstemmende gemoed ontwaak. Moenie eens daaraan dink om vir my jammer te voel nie. I've got that job covered. Maar die oomblik as die liggaamlike weerstand laag raak, volg die emosies dieselfde weg en dan wil ek my ma hê. Nou dadelik, asb.


Om die dag om te kry, het ek kwaliteittyd met die binnekant van die huis deurgebring. Eerstens het ek 'n pakkie opgemaak. Hoop daar is 'n paar glimlaggies in SA.

Die kershouer was 'n present van Thinus. Wanneer die kers binne aangesteek word, skitter die kamer in derduisende gerefrakteerde gekleurde liggies. Tog te fraai. Die sonskyn daarop is self vrolik.
Vroegoggend het dit gesous en het die wind nuwe landspoedrekords probeer opstel. Later vanmiddag het die son uitgekom, maar die wolke nie gewyk nie. Die voëls het uiteindelik kansgesien om ook hulle vlerke bietjie te rek. Die eindresultaat is iets wat Rods my verduidelik ek 'n HDR foto van sal moet neem. By gebrek aan geduld en wysheid, het ek maar net gepoint and shoot. Kyk hoe wit is die gebou teen die moerige grys lug.

Iewers, ' n dekade of meer gelede, het iemand 'n broeipaar of dalk selfs meer van 'n groen pappegaai-soort losgelaat. Deesdae sien mens hulle in swerms (troppe, kuddes) van tot 50 oral in Den Haag. Ek kry hulle nogal jammer in die wintermaande. Hulle is somer en winter lief daarvoor om in die boom oorkant die kanaal te gaan speel. Daar hop hulle van tak tot tak en maak 'n groot hoeveelheid geraas. Ek moet sê dat hulle makliker afneem in die winter wanneer hulle nie die kamoflering van die blare het nie. Die foto is op maksimum zoom geneem.

No comments:

Post a Comment