Vannaand het ek gesien hoe ‘n duif in die kanaal spartel. Die kanaal is so ‘n halfmeter onder die wal, so daar is geen manier uit nie. Ek het die besem gegryp, kaalvoet die trappe afgehol en oor die heining in die honde-uitlaatplaats ingeklim en teen die steilte afgeskarrel. Eers was die duif ver buite bereik; selfs oorgeswen na die ander kant van die kanaal. Heeltyd stroomop geswem. In daardie yskoue water. Toe trek die stroom hom terug na my kant toe. Ek het die besem onder hom laat insak en hom stadig opgetrek. Hy het ‘n paar keer afgeval, maar uiteindelik kon ek hom neersit op ‘n overflow-sementlysie. Op daardie plek is ek nogal ver bo die water – meer as ‘n meter – en die lysie so ‘n halfmeter. Die lysie gaan diep in (is ‘n overflow after all). Ek kon seker plat op my maag lê en die duif probeer optel en huis toe dra. Maar as hy net effentjies gespartel het, was hy weer terug in die water in, so ek het hom daar gelos.
Nou vir die million dollar question. Hoekom het ek twee stelle trappe afgehardloop en kaalvoet deur ‘n hondetoilet gehardloop om ‘n duif te gaan red; ‘n duif wat dalk ten spyte van my moeite steeds sal sterf? Dieselfde spesie wat hulle merke hier teen my ruite kom maak. Ek weet nie. Dink dis die soort mens wat ek graag wil wees. Dink dis die soort mens wat ek op alle gebiede in my lewe wil wees. Die soort mens wat daadwerklik help. Die soort mens wat nie net stilstaan en ‘n slegte ding toelaat om te gebeur nie. Die soort mens wat dinge beter probeer maak waar ek kan – al vra dit opofferings.
Probleem is dat mens nie altyd is wat jy graag wil wees nie. So, bepaal ons ons aksies, of bepaal ons aksies ons?