Friday, April 8, 2016

'n Tjankbalie by 'n informatiebalie

En so staan ek toe Dinsdag by die ziekenhuis en snik.  Natuurlik was daar 'n aanloop tot die gebeurtenis; mens doen dit nie sommer so vir die lekker nie.  Veral nie.

Vorige week Donderdag voel ek die tandvleis bo een van my voortande is seer.  Ek dink dit is interessant, want daar het ek 'n kroon met 'n pen in my kaak in (ek dink nog steeds die woorde vir kakebeen en bekkenbeen behoort omgedraai te word).  Nou por por ek my nep tand met my tong en dan is dit seer, so my tong gaan terug om seker te maak dat dit dan ook daadwerklik seer is.  

Vrydagnag rond drieuur word ek wakker met tandpyn.  'n Beer met tandpyn.  Vyfuur kyk ek nog na die plafon.  Halfses gaan bad ek maar en gaan ek werk toe, want probeer slaap is onproduktief en my tandarts is in Leiden. Half nege toe sy praktyk oopgaan, bel ek en ek mag daar om 11uur wees.

Toe is daar 'n infeksie in die wortel van die tand waarop die kroon ooit geplaas was - en die wortel het nog al sy senuwees in.  Nou moet ek van tandkwale noem dat ek ook al my senuwees daaroor het. Hy vertel my toe hy gaan my antibiotika gee, maar ek moet 'n afspraak by die hospitaal maak, want die behandeling is iets wat hy nie kan doen nie.  Hy bel toe eers die hospitaal waar ek werk, maar hulle vertel hom ek kan eers oor drie maande gehelp word.  Hy vertel hulle toe dat ek teen daardie tyd al dood is.  (Hoop ek nie) Toe bel hy een van die hospitale in Den Haag en hulle kan my Dinsdag al sien.  Ek kry toe die foon om al my inligting te gee.  En toe was daar pawpaws en fans.

Wat is uw naam.  Dit weet ek.  Wat is uw achternaam.  Ook dit weet ek.  Wat is uw meisjesnaam?

Nederlandse hospitale het 'n obsessie met nooiensvanne en dit is vir my 'n probleem want gee ek dit vir hulle, skryf hulle vir my fakture vir Mev Barnard.  (Barnard beteken juis aard na 'n beer en in die geval 'n beer met 'n seer tand.) Dit sou minder erg wees as ek hier gebore was, maar nie een van my reisdokument of ID dokumente het my nooiensvan op nie, so my mediese fonds wil dan geen uitkering maak nie en dan moet ek weer alles met hulle uitsorteer.  Dit is 'n schlep.

Nou vertel ek die hospitaal dat hulle my meisjesnaam nie nodig het nie.  Nee, ek moet dit gee.  Nee ek wil nie, nee ek moet ens ens ens.  Uiteindelik vertel ek hulle Barnard.  Bernard? Nee, Barnard.  Bernard? Nee, Barnard.  B AA rnard.  oh ok.  Mev Baaarnard u mag Dinsdag om net na 12 kom, meld u eers by die balie aan en kom dan na kaakchirurgie. En moenie agteraf self probeer om 'n auto te bestuur nie.

So sluk ek toe die naweek maar my antibiotika, sny my ete in baie klein stukkies en dit is Dinsdag en dit is nog 'n dag. En ek kom mooi vroeg, want ek het goeie maniere.  Staan ek by die informasiebalie. Gee hulle my mediese fonds kaart en ID.

Sorry, mevrou, maar u het geen afspraak by ons vandag nie.  Ja ek het, nee jy het nie, ja ek het, soek onder my meisjesnaam, nee ook nie.

En toe wil ek huil.

Ek is doodbang vir tandartse - nie vir die mense self nie, maar vir die feit dat hulle in my mond rondgraai en pyn doen en ek hulle nie mag slaan nie.  So ek het myself nou al die hele naweek opgewerk na die oomblik en nou het hulle my afspraak opgedinges.  

Nou... Almal wat al TV gekyk het, weet hoe vrouens huil.  Daar is 'n biggelende traantjie oor 'n perfek gemake-upte wang en volgens die ou Afrikaanse vrystories wakker dit 'n beskermingsdrang by (veral) manne aan.  Ek huil nie so nie.  Ek wakker ander emosies aan. Ek kry demoniese oge, rooi kolle in my  nek en 'n zeer ongelukkige mond.   Die arme vrou agter die balie sien toe dat sy met hierdie wese opgeskeep gaan word as sy my nie vinnig wegstuur nie.  Ek kry toe wel 'n hospitaalkaartjie by haar en 'gaan maar na kaakchirurgie, miskien vind hulle jou gegewens daar iewers'.  In ander woorde 'ek sien nie kans vir jou nie, gaan word iemand anders se probleem.  Asseblief!'

Kaakchirurgie het toe middagpouse en ek sit daar vir 15 minute myself en jammer kry.  En toe daag die sekretaresses op en ek staan in 'n lang ry met ander hulpeloses en uiteindelik vooraan.

Nope ek het geen afspraak by een van hulle horde dokters nie.  Is ek seker ek moet nie die tandarts sien nie? Nope. Is ek seker ek is by die regte hospitaal? Yup. En ek vertel hulle hoe laat ek hulle Vrydag gebel het, al die inligting wat hulle my gegee het en hoeveel keer ek my meisjesnaam moes uitspel voordat hulle dit reggekry het.  En die lig gaan vir hulle aan, hulle gaan deur die uitprint van pasiente en daar is ek:  Mev Bernard!!!

Die apex behandeling self was traumaties.  Hulle sny jou tandvleis oop, klap dit oop soos 'n koevertjie, doen onnoembare dinge in jou mond, boor selfs, klap dit toe, ryg jou toe en stuur jou al trillend en huilerig na huis.  

As enigiemand in hierdie land my ooit weer vra wat my nooiensvan is, gaan ek hulle op die voortand punch sodat hulle ook by die informatiebalies kan gaan huil.  

Sunday, September 20, 2015

Klim partners







Triathlon vir die goeie doel

 Team XX en team XY


Ons het twee spanne ingeskryf om geld in te samel vir Duchenne.  Dit was 'n belewenis!  Maar as ek hierdie spelletjie weer speel, gaan ek defnitief harder oefen.

Volvo vs VW


Een van daai dinge wat mens nie wil oorkom nie.  Daar ry ek lekker op die snelweg met my geskiedenisonderwysersauto en die ou voor my doen 'n noodstop.  Gelukkig het ek 'n lang genoeg volgafstand gelos en kon ek 'n paar meter voor hom tot stilstand kom.  Helaas was die kar agter my bietjie nader aan my.  Toe is ek plots ook bietjie nader aan die ou voor my.  Ek het uiteindelik so 'n meter of twee agter die ou voor my gestop. 

Bietjie whiplash, baie skrik.  Nou maak dit nie meer saak wat ek van die Volvo se uiterlike dink nie; my goodness dit is 'n fantastiese sterk kar!

Saturday, September 19, 2015

Going Places



Dit is 'n fantastiese fiets.  Normale grootte, maar dit is 'n voufiets wat beteken dat aan die einde van so 'n lang en boudseer dag, kan ek gewoon in die trein klim en huistoe gaan.  En my hempie is onmiskenbaar Suid-Afrikaans.  Snaaks hoe, nou dat ek 'n Nederlander is, ek my Afrikaansheid selfs meer omarm; hoe ek jaloers daaroor waak.  

Genant


Vanaf Maandag mag wilde diere soos leeus, tiere en olifante nie meer in sirkusse deelneem nie.  Ek het geen idee wat van hulle gaan word nie.  Gaan hulle na dieretuine, na wildparke miskien?  Ry hulle nou verder saam met die sirukus en word as bewonderingswaardighede gesien ipv as deel van die show?  Ek het regtig nie 'n idee nie.  Gaan dit moet google.  Maar so gaan ek toe wel na een van die laaste vertonings van 'n sirkus met olifante.  Dit was sielig en goed en na die tyd het ons 'n opsie vir 'n foto met die olifant. My redenasie toe, is die kans kry ek nie weer nie.  En dit is toe waar die popo en die fan mekaar ontmoet.

Ek dog hulle gaan 'n foto van ons langs die olifant maak terwyl ons op die ronde tafeltjie staan.  Nope.  Bo-op die olifant dus.  Nou maak ek somme van wat hy weeg en wat ek weeg en ek reken as ek op 'n perd kan klim, kan 'n olifant ook my gewig hou.  Toe maak ek 'n tweede ongegronde aanname.  Dat daar 'n leertjie langs die olifant is of dat hy bietjie sal afsak.  Weereens nope dus.  Die knaap in die blou hemp; die sterk knaap in die blou hemp, maak so 'n bakkie met sy arm en dan moet jy maar self sien bo uitkom.  Maar ek is van Afrika - en ek word soms deur die mure uitgedryf.  Dit is dus ook geen probleem.  Geen vernederende of embarassing; wat op aarde is embarassing in Afrikaans? oomblike nie.

Behalwe een klein stukkie detail.  Ek het 'n rokkie aan.   Toegegee, onder die rokkie was darem Ouma-broekies, want ek sit nie altyd mooi nie.

Maar ja, daar sit ek toe mooi op die foto en die olifant kyk droewiger na die lewe en lens as ek en toe moet ek afklouter.  Ek het 'n goeie plan gehad.  Langs die olifant se oor, loop die harnas met 'n lus daarin.  As ek nou albei bene na een kant gooi, en aan die lus bly hang, is my tone byna op die tafeltjie en dan spring ek die laaste paar sentimeter indien nodig.

 Maar die galante heer besluit toe hy gaan my help en my mooi om my middel pak en op die tafeltjie neersit.  Dit werk in die boeke.  Dit werk ook as die damsel in distress ietwat minder weeg as die heer wat haar te hulp wil snel.
Dit is wel baie snaaks as jy met jou rok half oor jou kop op die grond opeindig.  Dit is later snaaks...

Werkonsekerheid

Tja, so beteken 'n permanente pos deesdae ook nie meer wat dit vroeĆ«r beteken het nie.  Die pos/amp/werk/roeping het nie veel in betekenis verander nie, maar permanent het 'n rakleeftyd gekry.  

My werk sit in die middel van 'n reorganisasie.  Eers sou ons in Junie hoor wie weg moet.  Junie het September geword en September word nou deurgeskuif na die mooiste, mooiste maand.  Intussen hou ons ons besig sonder om te veel omhoog na die byl te kyk.  Miskien sien ons die skaduwee net betyds voordat hy neerkletter.

Nie dat my onmiddelike ekonomiese toekoms my slapelose nagte gee nie; nee, daar blameer ek die karongeluk van gister voor.  Ander blog-verhaal, maar die crux van die saak is dat Volvo's wel verrassend sterk karre is.  Maar om terug te kom na my ekonomiese situasie.  Omdat dit 'n gedwonge ontslag is, kry ons ons volle salaris vir nog 'n paar maande.  Iets soos 9 maande.  Daarna kry ons nog UIF; 'n maand per jaar wat ons gewerk het.  Dit is dus redelik rooskleurig.  Al nadeel/voordeel is dat ons 'n solicitatieplicht het.  Ons moet vir werk aansoek doen: ten minste een per week. En dit is uiteraard nie 'n nadeel nie.  Dit hou mens op jou tone en vergroot jou kans om dan wel 'n werk in te palm.  

So, ja.  Ons wag nog ietwat ongeduldig vir byltjiesdag.  Ek swaai tussen twee uiterstes.  Aan die een hand, is veranderinge eng.  Ek weet nie of dit lekker gaan wees by die 'nuwe' werk na die reorganisasie nie.  Ek weet nie of hulle my gunsteling kollegas gaan wegbesuinig nie.  Maar ek wil uiteraard bly.  Aan die ander kant van die pendulum is die vrees dat ek gaan moet weggaan.  My werk bevat 'n ongesonde persentasie van my kennise- en vriendekring in Nederland.  Wat gaan ek met myself aanvang as ek hulle nie meer sien nie?  As hulle my wegstuur, is dit dan omdat ek nie goed genoeg werk nie?

En dit is wat reorganisasies met mens sy brein doen.  Daar is soveel onmag, soveel dinge buite mens se beheer, soveel what ifs en they couldn't possibly do that; could they? No, really, could they??

Oor 'n maand uiteraard 'n update.

Een ding weet ek wel.  As ek daar moet weggaan, pas ek wel 'n vakansie in voor ek weer aan die slag moet gaan.