Thursday, October 30, 2008

Hot head

Ek dink nie daar is soveel vrouens wat na hulleself in 'n spieël sal kyk en dink, sjoe I'm hot! Dalk moet ek noem dat Narcissis nie in my gemanifesteer het nie... Vannaand is Koopavond. Al die winkels is tot 9uur oop. Rods is vannaand in Rotterdam, so ek het 'n vrije avond nog daarby. Toe gaan sny ek maar my hare. Ja, ek weet, antiklimaks ne. Onder andere vra ek toe vir 'n masker. Die masker is vir die hare, nie vir my gesig nie... Deel van die masker se aksies, is dat dit vir 'n halfuur verhit moet word. So sit ek toe onder 'n vreemde hittebol en kyk hoe die stoom wat dit uitstuur al om my ore ontsnap. So, vir ten minste 'n halfuur, was ek hot. Mens moet dit eintlik elke dag van jouself kan sê.

Vriesland

Net noord van waar ek is, woon die Friese. Ek weet nie of dit is waar Frieskoeie ook vandaan kom nie, maar dis teoreties 'n goeie raaiskoot. Gisteroggend het ek by die woonstel uitgewandel en 'n byt in die lug opgemerk. Mens weet net wanneer die nag onder 0 grade gaan draai het. Mens weet dit net. Ek was dus nie heeltemal so verbaas toe ek sien dat al die karre in die straat behalwe die wat onder die bome geparkeer is, se voorruite heeltemal toegeys is nie. Ek het selfs met 'n bietjie leedvermaak toegekyk hoe een ou dit probeer afskraap het. Die res van gister het heel goed uitgedraai en dit was 'n lieflike sonnige dag - al het die kwik nooit hoër as 10 gegaan nie.
Vanoggend het ek die ys verwag en gevind. Tog te fraai. Oppad Leiden toe sien ek toe iets wat ek gister heeltemal gemis het oor ek toe sommer by die treindeur staan en koerant lees het terwyl ek wag om op die volgende stasie af te spring. Vandag het ek bo gesit met die goeie uitsig wat daarmee gepaard gaan. Tussen die streinspore en op die stawe was dit spierwit. Selfs van die gruis was bedek in 'n lagie watte. Die velde waarlangs die trein verbyhaas, is suiwerwit soos ysskaatsbane en die bome glimmer en skitter vol kristalle. Tussendeur wei die beeste rustig aan hulle grasroomysies en die ganse sit op die wal; vroegoggend vies vir die water. Waar die skape heen is, weet nugter, maar die perde by Voorschoten was vanoggend skoon baldadig. En oor alles, verbeel ek my daar bo uit die trein uit, hang daar 'n stilte so wit soos die winterland.
As 'n landskap binne een nag so kan versuiwer deur slegs 'n lagie ryp, kan ek nie wag vir die eerste sneeu om te val nie.

Sunday, October 26, 2008

Stop de tijd

Wat 'n dag! Gisteraand het ons tot laat gelê en TV kyk met die gevolg dat ek vandag eers - volgens die selfoon 11uur bygekom het. Die sangria mag iets daarmee uit te waai hê. Na ek gaan eet en stort en in die huis rondgedwaal het, het ek die rekenaar aangesit. My rekenaar vertel my toe dat dit vyf oor 11 is. Nou, ek is 'n vinnige meisie, maar...

Vandag het Nederland se daylightsavings afgeskakel of ingeskop. Weet nie presies hoe om dit werk nie. Wat ek wel weet, is dat die 'n ongelooflike lang dag was, dat dit skielik baie vroeër donker is as gister en dat daar op die oomblik drie tye in ons huis vertoon word. Die mikrogolf is nog op die ou tyd (selfde as SA); so ook my selfoon. Ons computers het die regte tyd iewers vandaan gevind en Rods se selfoon ook. Die muurklok in die kombuis het ons vanmiddag so naby drieuur reggestel en dié het net daar vasgehaak. So ek is in 'n huis vol vele tydzones. Dink ek moet gaan bad. En my tyd vat daarmee.

Saturday, October 25, 2008

Torschlusspanik

Torschlusspanik is 'n Duitse woord en vertaal na toe-hek-paniek. Die paniek wat jou oorweldig oor die geleenthede wat jy mis en gaan mis agv jou ouderdom. Dit word dikwels gebruik vir vrouens wie se biologiese klok begin dawer en hullself dus in huwelike en kinderskry instorm.

Saterdag het ek met tannie Martie (Willem se ma) gesels. Ons gesprekke begin altyd met "Hallo Nelle, hoe gaan dit? En is daar nog nie 'n baby oppad nie?" Gewoonlik antwoord ek dit polite met 'n verskoning dat ek darem nog baie jonk is vir kinders kry en dan gesels ons verder oor die alledaagse. Maar die keer besluit ek toe om die gesprek nou maar vir eens en altyd agter die rug te kry en ek vertel haar toe ek kan nie kinders kry nie en wil nie daaroor praat nie.

Nou meeste mense sou so verleë gewees het om so 'n antwoord te kry dat hulle sommer self die onderwerp sou verander. Helaas... Ek het vir amper 'n kwartier sit en luister na hoe ek dan maar iemand moet aanneem en dat ek wel vir die lief sou word. Dalk sommer een van my broer se kinders. Asof Eddie nou sy kinders sommer so goedsmoeds sou opgee... En kyk net na my keuse: Adam is op 'n jaar en 'n half uit die speelskooltjie geskors en Peter het op dieselfde ouderdom 'n oordosis pynstroop gedrink. Dalk moet ek wag en kyk hoe die derde enetjie uitdraai.

Nou het ek sit en dink oor die ouderdom en die geleenthede wat mens verbygaan. Maar daar word ook nuwe geleenthede gebore. Mens kan sê wat regtig op jou hart is en as jy oud genoeg is, sal niemand jou stilpraat nie. Ek kan nie wag nie...

Billy the book case

How to build 3 bookcases in lots of relatively easy steps

Nr 1. Kry dit teen die 33.33 trappies op tot bo in die sitkamer. Dis soos trofeejag; moeilik, maar nie ondoenbaar nie en dit help as jy iemand anders het wat onder dra.

Nr 2. Kry dit uit die bokse uit. Kyk vlugtig na die instruksies en tel die skroefies.

Nr 3. Kry hulp... Dra koeldrank aan en hou die kamera gereed.



Nr 4. Volg die instruksies al lyk die resultaat snaaks.

Nr 5. Pak al die boeke in die huis op een rak in die boekrak. Gebruik die ander twee boekrakke om een grote te maak. Spandeer 'n lang ruk om te wonder waarmee om hom vol te maak.

Jonathan Coulton sing 'n paar briljante liedjies. Daar is die een waar die zombie baie mooi sing dat al wat hy wil doen, is om jou breins te eet. Daar is ook een oor Ikea... Ons het vandag drie boekrakke gaan kry. Hier is 'n step-by-step weergawe van hoe hulle van (swaar!) plat boksies groei tot dit wat in die sitkamer uitgestal mag word. Nou nog net genoeg boeke kry om hulle te vul :)

Grys en grou


Soms is die eerlikheid van grys en grou
'n aanmaning om te onthou
dat nie alles in swart of wit bestaan nie

Sunday, October 19, 2008

Dress sense

Rods en sy ma dink daar is fout met my skoenesmaak, but when in Holland...

'n Stille naweek


Die laaste paar weke met Mom hier, was heerlik en stampvol. Ons het dit reggekry om 'n verkoue of twee, wandelinge op die strand (waar Mom se siekte dalk sy oorsprong gehad het), 'n hele paar Hollandse dorpies, Brussels, Paris, Amsterdam, 'n graad A verkoue vir my, Kinderdijk met al sy windmeule, die Haagse mark en wat nog alles in te prop. Na dit alles volg toe 'n minder lewendige week vandag sy Dinsdag weg is.

Rods was die week siekerig. Ek het my eerste vol werksweek in drie weke gehad en was dit nou vir jou 'n laaaang week. Dinsdag het ek vir my baas vir nog werk gevra. Ek moes dit dalk nie so entoesiasites gedoen het nie... Vrydagaand is ons Ikea toe vir 'n boekrak en 'n tafeltjie vir die naaimasjien. Ons het teruggekom met die tafeltjie en die gediertetjie hier bo. Ten minste eet hy nie baie nie... Praat van nie baie eet nie. Rods en Kirsti onderhandel oor 'n moontlikheid dat Bella en Donna na Mom toe kan gaan. Ek sê al die verkeerde en unjustifiable goed, so ek gaan my heeltmal van daardie onderhandelinge onttrek. En al waarop ek my verkeerde woorde kan blameer is pms. Dis vir my baie erg om foute te maak, veral foute wat ander mense seermaak. Ek skat op die ou end is dit maar net makliker om iemand anders as jouself te vergewe.

Monday, October 6, 2008

French Toilets


Moenie dat die mooi kleurvolle prentjie julle mislei nie. Parys is pragtig. Dis 'n mooi wit stad. Wit sandsteen geboue en latertyd se mooi witgeverfde geboue. Die geboue is vol frilletjies en selfs die balkonne se reëlingtjies en stoepies het gedraaide ysterwerkies op om die mense daarvan te weerhou om kortpad te vat af sypaadjie toe. Daar is beeldjies en kuns net waar jy kyk. Dit is voorwaar 'n lieflike stad. Die vrouens trek oor die algemeen pragtig aan en selfs die toeriste lyk meer respektabel as in ander wêreldstede.

Maar die toilette... Die Hollanders het 'n mooi woord. Vies. Dit is erger as sleg of vuil. Dis vies. Ga, poe! Selfs die toilette in die hotelle is, wel, vies. Ek het gewoond geraak aan die Hollandse toilette waar mens sonder nagevolge jou agterent op kan neerplak as jy so voel. (Plaas jou bille op die toiletbrille...) Dis harde spierwerk - veral na 'n klomp ure se rondloop en trappe klim - maar regtig nodig om in die lug rond te hang bo die Franse eweknieë. Maar Rods se ma sê ons moenie kla nie. Dié in China is erger...

Flenterjies Paris uit Rods se lens





Sunday, October 5, 2008

Lost in France



Sacre Coeur bo op die heuwel. Daardie trappies lyk bedrieglik min op 'n foto.
Die Moulin Rouge is ietwat kleiner as wat mens van die fliek af verwag.

Oppad terug hotel toe na ons vir meer as 11 uur op ons voete was.

Rods reken dat sy vrou Soviet geraak het. Magtag, maar dit was koud.

Seker die bekendste straat in Parys
Reisgenote. Ook vir die lewenspad. Die Arc de triomph is massief. Dit staan verdiepings hoër as die geboue om hom en daar in 12 paaie wat in die sirkel om hom inloop. Chaos...


Sonsondergang heel bo van die Eiffeltoring af

Friday, October 3, 2008

Leiden en Alkmaar


Alkmaar is 'n kaas-dorpie. Hulle het elke Vrydag 'n groot opelug kaasmark. So vertel die Hollandse gidsboekie ons. Wat die gids ons nie vertel nie, is dat dit net tot einde September en ook net in die oggend gebeur. Ons het dus die mark gemis, maar die dorpie met sy ryk tradisies en goetertjies om te sien, het opgemaak daarvoor. Die 'balle' by die standbeeldjie, is eintlik kasies. Praat van kasies... In een van die kaaswinkels in Alkmaar.


Leiden is in 1574 ontset (bevry van die Spanjaarde). Dit word nog jaarliks gevier en ons wat in Leiden werk, het 'n pasella vakansiedaggie. Plaas van toe by die huis bly, is ek en Ma na die 'ontsettende fees' toe. Dit was defnitief die moeite werd.

Selfs die windmeule is feestelik


Die kermis het omtrent 50 rides gehad en die hele CBD is vir karre afgesluit en daar was soveel stalletjies dat ek omtrent nou uitgemark is - vir die week ten minste. Dit was net vandag verskriklik koud. Vannaand het ons gehoor dit sneeu liggies in Amsterdam. Toe maak sommer baie dinge skielik sin.

Maar wat 'n dag! Ons het in Leiden 'n ou in goudgeel klompe sien rondloop, het oppad Alkmaar toe in die trein die mooiste Nederlandse pophuisies langs die spoor gesien, het gesmile oor die klein dogtertjie wat met die groot hond loop en het 'n interessante gesprek met die man wat vlaai verkoop in Alkmaar gehad. Om een of ander rede is die winkelbase vreeslik vriendelik as hulle mense 'n gebrabbel van Engels en Afrikaans hoor praat. Vandag was heeeeerlik. Ek het geweet ek het vir ma gemis, maar nie besef ek het haar soveel gemis nie. Sy is nog net vir 'n week en 'n naweek hier, so ek gaan elke oomblik geniet.

Bedtyd