Wednesday, July 30, 2008

3477

Ek is besig om 'n probleem met Nederland op te doen. Dis nie die Nederlanders se skuld nie. Wel, dis nie net die Nederlanders se skuld nie. Gister het ons 'n pedometer gekry. Dit tel mens se treë. Julle sal natuurlik verstaan hoekom ek die ding vandag moes saamvat mark toe. Van ons huis tot by die gym, terug huis toe, die 33 en 'n derde trappies op en weer af, Van die huis tremhalte toe, die groot trek deur die mark se lang rye en terug huis toe, was 'n volle 3477 treë. Die masjientjie reken dis 2.24km. Ek moes my energie gespaar het.

Sien, die tog na die gym, was om te gaan aansluit. Ek en Rods is nou lede van Kneet se Gym tot einde Januarie 2009. Of so sê die kaartjie ten minste. Ek weet net nie of ek so lank aan die lewe sal bly nie. Gym is harde werk! regtig. Ek het gefietsen, gestap en geroei en dit was genoeg. Meer as genoeg.

Die martelkamers leef voort. En ek moes betaal om daar te in!

Thursday, July 24, 2008

Brrrrrr

Vandag was een van daardie perfekte dae. 27 Grade, blou lug en amper geen wind. Ons is saam met Thinus strand toe en het die hele middag daar gaan rondlê. Dit was so lekker. For the sace of decency het ek maar die keer my swemklere aangehad. Ek het selfs in die Noordsee gaan induik. Dit was brrrrr. Meeste van die tyd het ek net op my rug gedryf en die blou lug gekyk. Dis darem maar nie Suid-Afrika se lug-kleur nie. Maar dit was heerlik en op 'n so-koud-dat-jy-alle-gevoel-in-jou-ledemate-verloor manier nogal bevrydend. Hier is nie eintlik golwe nie, so mens kan seker vir ure so op jou rug ronddryf, maar ek was bang die see trek my in en gooi my in Ysland of, nog erger, Engeland uit.

Vannaand gaan ons eg Suid-Afrikaans wees en braai. Nie barbeque nie, braai. Ek beplan selfs braaibroodjies en slaai... See, son, slaai en braai. Wat 'n lekker dag.

Wednesday, July 23, 2008

Multitasking



Ek is seker Roderick het die dag wat hy die tripod gekoop het, gedink hoe dit hom sal help om mooier foto's te neem. Ek kan my selfs indink hoe hy hom beelde van landskappe, blomme, gediertes, mense, die see, die lug, die maan en nog meer helder en sonder die bewerigheid van 'n hand-gehoude kamera kon sien optower. Ek is ook redelik seker dat bogenoemde beelde nie daardie dag in sy kop aanwesig was nie... Mens moet twee X-chromosome hê om apparate ten volle te kan benut.

Woorde wat met D begin

D staan vir
Dierbaar, dankbaar, deugsaam, deurdagtig, donner, duiwel, deesdae, donkies, drek, duisternis, dadels, duwweltjies, deeglik, dosyne, dowwe, drellerig, drankies, doepa, demmit, doelbewus, dink, doelloos, dreunend, duisend en donderweer.

D staan ook vir diëet...

Tuesday, July 22, 2008

Nederlandse Duvetslope

Nederland is 'n mooi skoon land. Die mense word aangemoedig om hulle vullis in asblikke te gooi en hulle werwe mooi te hou. Behalwe vir netheid en orde, skep hulle ook 'n behae daarin om die klok te respekteer. Die treine kom meestal betyds by die stasies aan en die tremme word ten minste binne 'n minuut of twee verwag van die tyd wat op die haltes aangegee word. In die huise (en ek dink hier het Ikea 'n groot vinger in die sous) word elke denkbare oppervlakte benut as stoorplek. Ons het nou die dag 'n karton selfvou-weergawe van daardie suggestiewe dobbelsteentjies in die pos gekry. Die een blokkie het woorde soos Op de, Langs de, Onder de, Naas de en so aan en die ander een het woorde soos Bed, Kast, Bank, Tafel. Teoreties was dit om vir jou te wys waar in jou huis jy nog pakplek kan skep. Volgens die advertensie ten minste.

Nou my vraag is: In 'n land waar alles optimaal benut word, in 'n land met mense wat mooi netjies is, in 'n land waar die mense riviere vol skepe en bootjies oor paaie kan laat gaan... Hoekom het niemand nog daaraan gedink om drukkertjies of velcro of enigiets anders wat die duvet binne die sloop sal hou, aan die duvet-oortreksels te sit nie?

Saturday, July 19, 2008

Dragonlady




Ek is in '76, die Chinese jaar van die draak gebore. Ja tel maar terug en maak somme. Dis nogal skrikwekkend... Om een of ander rede het ek nog altyd van die oriental goed gehou; van die mooi teepotjies en sushi (hoewel dit Japanees is) tot die goedkoop vlooimark-klere. Ons het 'n nuwe duvet-oortreksel gekry. Die swarte met dit was soos rooi chinese geskribbel lyk op die foto. Ek dink dis passievol en stylvol. Laasjaar het ek ons slaapkamer in SA 'n mooi ligte grys geverf. Ewe opgewonde vir Johan daarvan vertel toe vertel hy my grys is passieloos en dull; ek moet liewer vir rooi gaan. Ek is toe baie gebelgd en vra hom nou watter kleur hulle kamermure dan is... Pers. Ek het nie dit konnotasie met hom gedeel nie, maar ek het gesmile en my mure grys gelos.

So soek ons toe huis in Nederland en die ene wat ons vat, het toe een rooi muur. Ek het dadelik aan Johan gedink, maar dis nie die tipe ding wat mens met jou eie man deel nie. Oh Honey, we have a scarlet passionate bedroom wall... It makes me think of Johan... Julle kan sien hoe dit heel verkeerd opgeneem kan raak. Die gordyne is ook rooi. Vir duvets, kies ons toe maar 'n grys&swart een met ekstra rooi kussingslope. Ekstra kussingslope; nie ekstra rooi nie. Dit het goed gewerk en lyk mooi in die kamer, maar mens wil darem ook spaar-beddegoed hê - soos bv vir wanneer jou ander in die was is - en vir wanneer mense kom kuier. So wanneer kom kuier julle hmmm? Vandaar die nuutse beddegoed. Kussings hier is snaaks. Hulle is amper vierkantig en dis die grootte kusingslope wat standaard saam met duvets kom. Ons het wel by Ikea twee (soos ons dit ken) gewone grootte kussings gekry, maar om enige ander kleur as wit slope vir hulle te kry, is 'n haas ondenkbare saak. Dis regtig tyd dat ek weer 'n naaimasjien kry.

Rods het nou die middag vir ons sushi gemaak. Ek dink dit het sommer baie goed uitgekom. Het defnitief baie lekker gesmaak. Salm hierso is goedkoop en maklik bekombaar. Ons het maar die gerookte salm gebruik vir die sushi. Rods gee nie om om rou goed te eet nie, maar ek het genetika geswot en eet niks wat ek dalk nog kan kloon nie.

Vanoggend is ons weer Ikea toe. Ikea is in Delft, wat beteken ons moet van tremme en/of busse verwissel om daar uit te kom. So is ons eers middestad toe hierso. na waar die tremlyne kruis. Ons het daar in 'n chinese supermark ingedwaal en hulle het amper alles wat ons ken. Die steam-buns, die snaakse groente, die Nissan-noodles, die chopsticks,die soy- en oyster sauce, die bamboo steamers, die Knorr-pakkies met die onverstaanbare instruksies... Dis lekker om te weet waar ek my proviant vir 'n interessante dinner party gaan kry.

By Delft aangekom, het ons van trem tot bus gevorder en toe begin reën dit. Die druppels teen die ruite van die bewegende bus het gelyk soos krapmerke van 'n ongelukkige gedierte. Gelukkig het die gedierte gewag tot ons veilig in Ikea is voor dit ordentlik emosioneel geraak het. Ons was nogal lank daar vandag. Het middagete geëet. Rods het sy gewone meatballs bestel, maar my rysgereg met salm was nie vandag op die menu nie, toe moes ek maar 'n salmsteak vat. Dit was absoluut divine. Ons het ook nie so baie gekoop vandag nie. Net 'n koffietafeltjie vir die sitkamer, 'n rooi polar fleece kombersie vir my, likeurglasies en 'n paar odds and ends.

Natuurlik het die reën net vir ons gewag om uit Ikea uit in die rigting van die busstop te gaan, voor dit neergedawer het. Rods het die verpakte koffietafel soos 'n dak bo sy kop gehou, maar ek moes die sak goed en die sambreel behartig. Die busstop voor Ikea het nie 'n halte nie en dit het geSOUS tot die bus om die draai kom. Toe hou dit op en die sonnetjie loer deur om te giggel vir al die nat mense. Teen die tyd dat ons in die bus geklim het, was die reënbui lankal vergete. So gaan dit maar. Ons is darem nou tuis en warm. Life is good.

Ek het 'n lysie gemaak. Dis wat ek doen. Lysies maak. Ons het mos nou alles wat ons nodig het, maar ek hoop nog op die volgende: (en hoop is geheel en al skaamteloos)
  • 'n TV meubel
  • 'n Boekrak
  • Twee sleeper couches
  • 'n Kasstel vir ons kamer
  • 'n Mooi chinese eetstelletjie
  • 'n Rekenaartafel met cd-rakke en plek vir die printer
  • mooi staanlampe
  • 'n 'dreser' meubel
  • 'n leerbaadjie wat soos 'n rokkie uitklok
  • vriende en familie wat kan kom kuier
  • en baie sjokolade
Soos ek gesê het, hoop is sonder skaamte...


Tuesday, July 15, 2008

Foto's van Antwerpen

Die groot katedraal. Kyk na die vierverdiepinggebou voor dit vir skaal.

Een van die kleiner deure van die katedraal. Ek is 1.65m lank.

Van al die dinge wat ek al op 'n fiets gesien het, vat die klavier die eerste plek.

Dit is die treinspoor. Mens moet jou hoed afhaal vir 'n nasie wat selfs 'n treinspoor so mooi kan maak. Die hele spoor lyk soos 'n kasteelmuur met brûe en toringtjies elke paar 100m.

Nee, ek weet ook nie. Dit lyk of 'n naakte prinses Leia 'n mieliestronk vir 'n bokkie gee.

Kyk na die detail op die geboue.

Die stasiegebou. Die Belge praat van die cathedraalstasie. Dis ongelukkig onder konstruksie van buite, so ons kon nie 'n mooi foto neem nie. Volgende keer.

Monday, July 14, 2008

Wat ons benodig

Uiteindelik. Ek dink ons het nou alles wat ons nodig het. Dit beteken natuurlik dat ons nog nie naastenby alles het wat ons wil hê nie, maar ten minste kan ons nou gemaklik op daardie dag wag. Terwyl ons wag, werk ek al die TV-reekse deur wat ek gemis het - en mis sodoende die huidiges. Tans kyk ons 'Angel'. Ja ek weet. Gooi maar klippe...

Wintersdagboek

Wintersdagboek

Hoe kaal staan die bome

En yler die gras

Hoe grou word ‘n kouer hemel gewas

As die najaar gedwee verval tot

Die grys onverbiddelike dae in mei


Hoe moeg van reis en droom was ek

Te veel het ek trotseer

‘n swerwerster verskiet tot niet

As vriendskap rus na jare bied


En Junie se swartryp was ‘n warm karos

En geraamtes van bome was ‘n landkaart wat bros

Teen die wolke versprei en ons vrae verklaar

Ja die winter was tydlose dae

Kosbare dae


In Julie se kaggel en vretende wind

is die somer se soelte in vriendskap gevind

Was die rooiwyn belee na ure se weef

Aan die drome wat more sou leef


Maar illusies en ambisies vrek

Soos die jare kom en gaan

Word drome ook soos bronsbeslaande skoene

Op ‘n rak geplaas


Vandag lê die winter veel dieper in my

Vandag lê die vlaktes kaler gewei

Maar augustus se winde wat troosteloos maal

Het die lente dalk iewers gaan haal

- Johan Horn

Sunday, July 13, 2008

Antwerpen


Ons het gister in Antwerp/ Antwerpen deurgebring. Dis die naaste groot Belgiese stad aan Nederland se kant. Die plan was om vroegoggend al op die trein te spring, maar 8:30 moes noodgedwonge 9:30 raak en ons moes nog steeds hardloop om op die oorvol trein te spring. Gelukkig het ons in Den Haag al opgeklim, want teen die tyd dat ons by Roosendal gekom het, was die trein heel vol en die mense moes staan tot in Antwerpen.

In Antwerpen aangekom, het ons die gewone roete (reguit na die eerste WC) gevolg voor ons die stad gaan explore het. Dis stad is, soos meeste Europese stede, oud. So oud dat die jare soos 'n gewigtige kleed daaraan kleef en klou en op jou neerdruk tot jou insignificance bietjie te duidelik begin raak. Die geboue is hoog en gedetaileerd. Rods belowe my foto's wat ek in 'n apparte blog sal post.

Dit is wat my die meeste van Antwerpen geraak het. In plaas van net 'n raised trein-paadjie bou, het hulle die moeite gedoen om die hele gedeelte soos 'n ou kasteelmuur te laat lyk. Daar is parapets en arches en allerhande ander woorde waarvan ek nie nou die mooi Afrikaanse weergawes kan onthou nie. En dis net die treinspoor!

Twee jaar terug toe ons deurgery het Brussels toe, het ek die toring van die Cathedraal van onse Vrouw gesien uitsteek. Ek wou toe al Antwerpen toe. Die katedraal is op die foto's, maar oor dit foto-size is, lyk dit klein en nie naastenby so hoog soos die meer as 100m wat dit in die werklike lewe is nie. Dit het selfs nog meer detail as die gewone geboue op straat wat al klaar versier is met beeldjies en carvings en goud-geplatteerde goedjies. Ek weet nie of dit die Franse invloed is nie, maar die geboue is absoluut amazing. In die katedraal is daar skilderye teen die mure en dak deur Rubens, maar in ons omwentelinge het ek gesien hy is eintlik in 'n ander kerk-grond begrawe. Dit was vir my bietjie odd.

Mens kan natuurlik nie België toe gaan sonder om hulle sjokolade te beproef nie. Dis dan waarvoor hulle beroemd is. Word of caution though. Moenie hulle suikerlose sjokolade probeer nie. Hulle haal eenvoudig die suiker uit, dan kry jy lekker bitter sjokolade. Mind you, haal 'lekker' uit daardie laaste sin uit. Ok, dit was seker nie so sleg nie, maar ek is nou al lankal op diëet en het uitgesien na 'n dag van oordadigheid en, above all, soetgoet. Ek moes toe maar my craving gaan blus deur lekker roomys en hot chocolate. Dit was ten minste die moeite werd.

Ons het vreeslik ver geloop gister en het gisteraand by Thinus gaan aandete eet. Ook dit was natuurlik lekker en ons het eers na 2 hier by die huis ingewandel. Wat beteken dat ek vanmiddag eers wakkergeraak het - voetseer, maar gelukkig. Ek moet regtig na my linkervoet laat kyk. Anderdag.


Monday, July 7, 2008

'n Liedjie vir jou

‘n Liedjie vir jou

Ek dink vanaand aan jou en aan die Wildekus se golwe.

Ek dink vanaand aan jou en aan die eindelose strand.

Ek dink aan rotskastele, watervalle na benede,

En beestepaadjies sukkel oor die rand.

En, ek wens dat ek my liedjie vir jou kon sing.

En ek weet dat jy die woorde sou verstaan.

Ja, ek wens dat ek my liedjie vir jou kon sing,

En ek weet dit sou weer ‘n vonkel in jou oë bring.

Ek dink vanaand aan jou en aan die Visriviervallei.

Ek dink vanaand aan jou en aan sy kronkel-kronkel-kronkel.

Ek dink aan stroomversnellings, aan die koue winternagte

En kampvuuraande op die goudgeel sand.

Ek dink vanaand aan jou en aan die blou-blou Kaapse berge.

‘n Sprokiesland in bleekwit op ‘n helder sterligaand.

Ek dink aan waterpoele, wit proteas teen die hange.

Maar somtyds, vir ‘n oomblik, net aan jou.

- Jannie du Toit

Thursday, July 3, 2008

Witgoed


In die winkels word van kombuismasjiene as witgoed gepraat. Ons s'n het uiteindelik opgedaag!! Gister het die wasmasjien, tuimeldroër, yskas, mikrogolfoond en TV versigtig hier teen ons steil trappe opgeklim en in ons kombuisie tot ruste gekom. Op die foto is nog die blou cooler box wat ons tot nou toe as 'n yskassie gebruik het. Na alles uit hom in die yskas ingepak is, het dit maar verdwaald gelyk in die groot spasie. Niks soos witgoed om mens bietjie perspektief te gee nie. Ek dink nie ek was al ooit so bly om 'n wasmasjien te sien nie.

Deel van die werkersklas

Ek het werk gekry!!!! Vrydag se lang onderhoud was toe nie verniet nie. Maandag het hulle vir Juan-Marié gemail ivm met werksondervinding en geskiktheid vir labwerk en Dinsdag het hulle my gebel om my die baie goeie nuus mee te deel. Die werk is by die Leidense universiteit se mediese afdeling. Afdeling genetika. Soos ek dit verstaan, gaan ek saam met die groep wat op dermkanker navors, werk. Deel van die werk is hematologie vir die hospitaal. Ek kan nie wag nie. Al die blood and gore (and worse...)

Nog goeie nuus is dat Rods die 30% tax ruling gekry het. Dit beteken vir die volgende 10 jaar betaal hy 30% minder belasting as gewone Nederlanders. Dit beteken ook ons hoef nie die 2000+ euro elk op te dok vir bestuurslisensies nie. Hoef net ons s'n te gaan inhandig en omruil. Ek kan daarmee saamleef. Goed daarmee saamleef veral terwyl Zarina reken ek kan ook daarvoor aansoek doen...

Ek hoop Ingrid, wat vir 'n paar weke in Engeland is, kan oorpop vir 'n hallo en bietjie kaas. Ons sou daar gaan kuier het, maar Brian in York kan ons nie nou huisves nie. Dis jammer, want ek was lus vir vis en chips in die Shambles. Maar dalk sien ons haar nog en hom later die jaar. Ek hoop so.

Wat het nog als die week gebeur? My familie kuier lekker in die kalahari en eet seker elke dag biltong en lekker karnivoriese maaltye terwyl ek en Rods op Weigh Less kos eet wat, soos Rods se pa dit mooi gestel het, "That's not food. That's what food eats..." Maar so ver (en met die paar dae van maaggriep) het ons nou al 9kg verloor. Dis saam. Ek het al 4 verloor. Dis 8 pakke botter as mens so daaraan wil dink.

Tannie Max het geval en haar heup gebreek. Ek het baie geworry, want sy is nie meer 'n kind nie, maar sy is vroeër die week geopereer en Deneys sê dit gaan goed met haar. Ek dink dit gaan nou ekstra goed met haar terwyl hy die naweek Bloem toe. Ek is sommer nostalgies. Wil ook Bloem toe en my ma se kos gaan eet. Sy het 'n hoendergereg waarvan die gedagte my nou amper in trane het. Mens kan sien ek is op 'n diëet.