Tuesday, July 22, 2008

Nederlandse Duvetslope

Nederland is 'n mooi skoon land. Die mense word aangemoedig om hulle vullis in asblikke te gooi en hulle werwe mooi te hou. Behalwe vir netheid en orde, skep hulle ook 'n behae daarin om die klok te respekteer. Die treine kom meestal betyds by die stasies aan en die tremme word ten minste binne 'n minuut of twee verwag van die tyd wat op die haltes aangegee word. In die huise (en ek dink hier het Ikea 'n groot vinger in die sous) word elke denkbare oppervlakte benut as stoorplek. Ons het nou die dag 'n karton selfvou-weergawe van daardie suggestiewe dobbelsteentjies in die pos gekry. Die een blokkie het woorde soos Op de, Langs de, Onder de, Naas de en so aan en die ander een het woorde soos Bed, Kast, Bank, Tafel. Teoreties was dit om vir jou te wys waar in jou huis jy nog pakplek kan skep. Volgens die advertensie ten minste.

Nou my vraag is: In 'n land waar alles optimaal benut word, in 'n land met mense wat mooi netjies is, in 'n land waar die mense riviere vol skepe en bootjies oor paaie kan laat gaan... Hoekom het niemand nog daaraan gedink om drukkertjies of velcro of enigiets anders wat die duvet binne die sloop sal hou, aan die duvet-oortreksels te sit nie?

No comments:

Post a Comment