Saturday, July 19, 2008

Dragonlady




Ek is in '76, die Chinese jaar van die draak gebore. Ja tel maar terug en maak somme. Dis nogal skrikwekkend... Om een of ander rede het ek nog altyd van die oriental goed gehou; van die mooi teepotjies en sushi (hoewel dit Japanees is) tot die goedkoop vlooimark-klere. Ons het 'n nuwe duvet-oortreksel gekry. Die swarte met dit was soos rooi chinese geskribbel lyk op die foto. Ek dink dis passievol en stylvol. Laasjaar het ek ons slaapkamer in SA 'n mooi ligte grys geverf. Ewe opgewonde vir Johan daarvan vertel toe vertel hy my grys is passieloos en dull; ek moet liewer vir rooi gaan. Ek is toe baie gebelgd en vra hom nou watter kleur hulle kamermure dan is... Pers. Ek het nie dit konnotasie met hom gedeel nie, maar ek het gesmile en my mure grys gelos.

So soek ons toe huis in Nederland en die ene wat ons vat, het toe een rooi muur. Ek het dadelik aan Johan gedink, maar dis nie die tipe ding wat mens met jou eie man deel nie. Oh Honey, we have a scarlet passionate bedroom wall... It makes me think of Johan... Julle kan sien hoe dit heel verkeerd opgeneem kan raak. Die gordyne is ook rooi. Vir duvets, kies ons toe maar 'n grys&swart een met ekstra rooi kussingslope. Ekstra kussingslope; nie ekstra rooi nie. Dit het goed gewerk en lyk mooi in die kamer, maar mens wil darem ook spaar-beddegoed hê - soos bv vir wanneer jou ander in die was is - en vir wanneer mense kom kuier. So wanneer kom kuier julle hmmm? Vandaar die nuutse beddegoed. Kussings hier is snaaks. Hulle is amper vierkantig en dis die grootte kusingslope wat standaard saam met duvets kom. Ons het wel by Ikea twee (soos ons dit ken) gewone grootte kussings gekry, maar om enige ander kleur as wit slope vir hulle te kry, is 'n haas ondenkbare saak. Dis regtig tyd dat ek weer 'n naaimasjien kry.

Rods het nou die middag vir ons sushi gemaak. Ek dink dit het sommer baie goed uitgekom. Het defnitief baie lekker gesmaak. Salm hierso is goedkoop en maklik bekombaar. Ons het maar die gerookte salm gebruik vir die sushi. Rods gee nie om om rou goed te eet nie, maar ek het genetika geswot en eet niks wat ek dalk nog kan kloon nie.

Vanoggend is ons weer Ikea toe. Ikea is in Delft, wat beteken ons moet van tremme en/of busse verwissel om daar uit te kom. So is ons eers middestad toe hierso. na waar die tremlyne kruis. Ons het daar in 'n chinese supermark ingedwaal en hulle het amper alles wat ons ken. Die steam-buns, die snaakse groente, die Nissan-noodles, die chopsticks,die soy- en oyster sauce, die bamboo steamers, die Knorr-pakkies met die onverstaanbare instruksies... Dis lekker om te weet waar ek my proviant vir 'n interessante dinner party gaan kry.

By Delft aangekom, het ons van trem tot bus gevorder en toe begin reën dit. Die druppels teen die ruite van die bewegende bus het gelyk soos krapmerke van 'n ongelukkige gedierte. Gelukkig het die gedierte gewag tot ons veilig in Ikea is voor dit ordentlik emosioneel geraak het. Ons was nogal lank daar vandag. Het middagete geëet. Rods het sy gewone meatballs bestel, maar my rysgereg met salm was nie vandag op die menu nie, toe moes ek maar 'n salmsteak vat. Dit was absoluut divine. Ons het ook nie so baie gekoop vandag nie. Net 'n koffietafeltjie vir die sitkamer, 'n rooi polar fleece kombersie vir my, likeurglasies en 'n paar odds and ends.

Natuurlik het die reën net vir ons gewag om uit Ikea uit in die rigting van die busstop te gaan, voor dit neergedawer het. Rods het die verpakte koffietafel soos 'n dak bo sy kop gehou, maar ek moes die sak goed en die sambreel behartig. Die busstop voor Ikea het nie 'n halte nie en dit het geSOUS tot die bus om die draai kom. Toe hou dit op en die sonnetjie loer deur om te giggel vir al die nat mense. Teen die tyd dat ons in die bus geklim het, was die reënbui lankal vergete. So gaan dit maar. Ons is darem nou tuis en warm. Life is good.

Ek het 'n lysie gemaak. Dis wat ek doen. Lysies maak. Ons het mos nou alles wat ons nodig het, maar ek hoop nog op die volgende: (en hoop is geheel en al skaamteloos)
  • 'n TV meubel
  • 'n Boekrak
  • Twee sleeper couches
  • 'n Kasstel vir ons kamer
  • 'n Mooi chinese eetstelletjie
  • 'n Rekenaartafel met cd-rakke en plek vir die printer
  • mooi staanlampe
  • 'n 'dreser' meubel
  • 'n leerbaadjie wat soos 'n rokkie uitklok
  • vriende en familie wat kan kom kuier
  • en baie sjokolade
Soos ek gesê het, hoop is sonder skaamte...


No comments:

Post a Comment