Tuesday, September 30, 2008

Planne vir Parys

Die naweek gaan sommer 'n baaaie lang een wees. Ek het vrijdag en maandag af en gaan die meeste uit die naweek tap. Vrydag is 'n vakansiedag vir almal wat in Leiden werk, want omtrent 500 jaar gelede het Leiden getrou gebly aan Willem van Oranje en toegelaat om hulleself te laat uithonger deur die Spanjaarde. Dit is vir my die vreemdste gedagte om iets wat 'n halfmillenium terug gebeur het, te gedenk, maar nie vreemd genoeg dat ek wel sal gaan werk nie... So Vrydag gaan ek en Mom die feestelikheid gaan gade slaan. Die gebeurtenis gaan glo met stamppot, witbrood en haring gepaard.

Ook op die spyskaart vir Vrydag, is Alkmaar. Dis 'n dorpie noord van Amsterdam en hulle het elke Vrydag 'n kaasmark. Ek en ma gaan natuurlik om hulle kanale te besigtig...

Saterdag, so is die plan, vat ons die kar en ry deur drie lande om Parys toe te gaan vir die naweek. Dit gaan heeeerlik wees. Ons gaan die Eiffel toring beklouter - hopelik met die lift - die Notre Dame se binnekant besigtig, en Sondag oggend 'n rukkie stilsit in die majestieuse wit kerk op die heuwel waarvan ek die naam nie kan spel nie, maar wat sacred heart beteken. Ek wil Rods se rubber arm draai dat hy in die romantiese stad vir my en sy ma parfuum kry en ek sien myself in 'n rokkie aan die trippel op die mooi gesementte walle van die Seine. Dis ook nie te vergesog om iewers te gaan stilsit met 'n glasie wyn in die hand nie...

Die keer gaan ek weer die Louvre net van buite af besigtig, wetend dat die Mona Lisa geduldig sal wag. Eendag, wanneer een van die kunssinniger vriende kom kuier, sal ek saam met hulle 'n dag daar gaan deurbring en die skoonheid van eeue oor my laat stuif, maar dis 'n droom vir 'n anderdag.

Herfs


Herfs is die tyd wat geskep is na jou
met sy naaktheid en bitter verwyt,
want dis jou trots wat saam met die
dwarrelgoud val
wat in stilte vir botseisoen pleit...
Herfsbome snik oor hul koperverlies;
jy huil oor jou hart in jou hand,
maar na hierdie bloeityd, kry ook jy,
my herfsmens
'n bloeisel as ewigheidspand.

Sunday, September 28, 2008

The armpits of the universe


Ek straal seker negatiewe energie uit. Beide Rods en sy ma het my die laaste paar dae probeer oortuig dat ek die regte keuse gemaak het om Nederland toe te kom en dat ek nie vir ewig ongelukkig hier sal wees nie. Dit na ek lankal tot dieselfde gevolgtrekking gekom het en eintlik gedink het ek is vir nou heel ok hier...

Vandag se mededling was net te kosbaar om nie neer te pen nie. My skoonma het in Pretoria grootgeraak, vriende gemaak, daar getrou en haar kinders het net begin skoolgaan voor sy Bloem toe gedwing is. Dit het soos die einde van die aarde gevoel en sy moes van voor af settle en so aan. Ten spyte daarvan dat dit nog in dieselfde land was, was dit vir haar 'n groot aanpassing, so sy weet hoe ek hier moet voel. Om haar punt te illustreer, word ek toe die volgende juweeltjie meegedeel. 'Bloemfontein felt like the armpit of the universe. You know, an arsehole is at least good for something, but the armpits just sweat an stink...'

Party dae wonder ek oor my familie...

Windmills of someone else's mind

Een van Kinderdijk se reuse
Rods en Ma. Almal wat Nederland besoek word verplig om te poseer vir ten minste een windmeulfoto...
Herfs in Gouda
Kermis in Gouda
Ek het dit actually reggekry om op die grasse te fokus...

Saturday, September 27, 2008

Delft en Brussels




Gister was my vrije vrijdag. (Klein lettertjie in Nederlands is reg gespel.) Ons is almal vroeg oggend Rotterdam toe. Daar moes Rods werk toe, so ek en ma het heerlik rondgeloop en onder andere gekyk hoe 'n brug oplig vir 'n boot om deur te kom. Dit bly vir my interessant. - al vermoed ek dat die ouens wat haastig oppad werk toe is, anders voel Van daar af is ons (eerste klas nogal!) Delft toe. Nou in Delft is daar baie te doen. Dis 'n pragtige dorpie. Maar die enigste rede hoekom ons uitlanders die eerste keer daarheen gaan, is die porseleinfabriek. Om daar uit te kom, ry mens met 'n bussie wat in delftblou-patrone geverf is. Die toergids was vreeslik geselserig en ons het geleer dat Delft eers Delf was, toe t'Delf en eers na dit Delft. By die Koningklijke Porselein Fabriek maak hulle soveel meer as net borde. Hulle maak ook hele insetsels vir mure en beelde vir katedrale. Dit is selfs mooier as die breekgoed. Daar is ook 'n meer as lewensgrootte weergawe van Rembrandt se Nagwag, tulpfase en soveel meer. Maar goeie magtag daardie fabriekswinkel is duur! Ek is jammer, maar 120 euro vir 'n koppie en pieringtjie wat soos speelgoed lyk, is bietjie erg.

Ma wou graag 'n souvenir hê, so ons is daarna in Delft se center in. Dis te pragtig. Ons is by 'n hele paar pragtige winkeltjies in waar ware Delft heelwat goedkoper is as by die fabriek, maar ek het iets heel anders gekry wat ek sommer baie lankal begeer het. Klompe. Maar nie die harde houtgoed wat mens net vir paperweights kan gebruik nie... o nee, die sagte fluffy pantofeltjies. Hulle is te cute vir woorde. Lekker gemaklik ook, mind you.

Vandag is ons België toe. Ons is bietjie later as beplan uit die huis uit, so ek het vandag 'n bol deurmekaar krulle gedra ipv my ietwat meer besadigde werkskapsel. Ten spyte van ons gehardloop vir die trem, was ons nie betyds by die stasie vir die internasionale trein nie, so pleks van knorrig wees, het ons in die mark gaan rondloop vir 'n ruk. Ek het dit baie geniet. Rods het vandag darem ook, want ons het poffertjies gekoop. (Hollandse pannekoekies)

Brussels was 'n stad van oordadigheid. Ons het geëet en gekoop. En dit was lekker. Al wat nie lekker was nie, was die soektog na 'n leerbaadjie. Hulle het 'n binnehuise vlooimark waar amper elke tweede stalletjie mooi mooi leerbaadjies verkoop. Ek soek enetjie wat tot op my knieë hang en wat mooi getailor is dat dit soos 'n rokkie lyk. Nadat selfs die 4XL vir my te klein was, het ek moed opgegee. Party dae is nie goed vir mens se ego nie. Ek dink die enigste een wat ok gevoel het, was Mannekenpis. Vir een of ander odd rede was die standbeeldjie vandag geklee. Ek het darem 'n hele boel van sy replikas gekry om stil te staan vir 'n foto.

Vannaand oppad terug huis toe, moes ons tremme wissel. By die tremhalte sien ek toe 'n kattie voor die karre inhol en fietse dodge. Ek gaan vang toe maar die gediertetjie en kry 'n pilhouertjie om sy nek. Die briefie binne-in was so styf opgerol dat ons eers gedink het dis 'n chip. Maar dit blyk toe die kat se naam is Sloerie en woon net om die hoek. Ek het Rods en Mom maar huis toe gestuur en gaan bode speel. Die meisie wat die deur oopgemaak het, was na my sin nie suitably dankbaar nie, maar ek het ten minste bietjie oefening ingekry terug huis toe.

En al die oefening en sukrose het my nou goed gaar.

Sunday, September 21, 2008

Mommyfied


Ons het die naweek 'n baie aangename verrassing gekry. Rods se ma het hier opgedaag! Sy en Thinus (en klink my elke liewe een van my Bloemfontein en Jhb-vriende) het gekonkel en saamgespan om ons 'n onvergeetlike naweek te besorg. Nou hoe vertrou mens jou vriende (en familie) weer na so 'n gejokkery hmmm? Toemaar, julle is almal vergewe.

Mom bly hier vir 'n maand. Ek het soveel planne en my langnaweke werk perfek uit. Ek het die volgende drie Vrydae vry, so dit gee ons soveel meer tyd vir kuier. Natuurlk het ek meer planne as net vir 'n maand, maar sy kom kuier weer in April en dan kan ons verder gaan. Daar is ook sprake van ander kuiers uit SA volgende jaar, so ek sien uit na 2009. Eintlik geniet ek op die oomblik September so veel dat ek nie regtig tyd het vir uitsien nie. Sal later in volgende maand wanneer ek aan leë nes sindroom begin ly onthou dat Casa Snow nie altyd leeg sal wees nie.

Ek is soooo bly sy is hier.





Monday, September 15, 2008

Langenhoven se wyshede


My pa is 'n skilder (skildenaar/ skilderman). Dalk moet ek net sê dat my pa skilder. Vir dié wat my pa ken, sal dit 'n verassing wees, want deur slegs na sy kleredrag te kyk, kan al gesien word dat hy geen gevoel het vir watter kleure bymekaar pas nie. En dis nie oor hy artyfarty is nie. In Nederland, wanneer iemand verf (veral mure en plafonne) skilder hy. En so moet ek nou op my pa se oudag uitvind van sy verborge talente...

Dit moet seker nog in die Nederlandse wortels wees waar Langenhove se sêding oor waens vandaan kom. Wanneer jy 'n nuwe wa sien, prys die skilder. Wanneer jy 'n ou wa sien, prys die maker.

Friday, September 12, 2008

9/11 in Europa

WC (water closet) is die standaard aanduiding in Euoropa (en Engeland) dat iewers daaragter 'n deur met 'n seuntjie of dogtertjie op is. Die knapie is Mannekenpis waarvan daar 'n standbeeldjie in Brussels rondstaan. Heel toepaslik dus vir Brussels se WC's...


Rods het my gister gevra of treinry vir my al sy novelty verloor het en ek het nee gesê. Daar is 'n vreugde om met openbare vervoer (wat werk) jou weg te vind. Om tyd te hê om te lees en jouself in die verbygaande landskap te verloor; of sommer net jouself in jouself. Dit was gister. Vandag voel ek ietwat anders oor treine. Daar is heelwat redes hiervoor. Die grootste is seker omdat ek nou hier in Den Haag voor my rekenaar sit en nie besig is om saam met die London-gebasseerde Smiths uit te eet nie.

Ek is gistermiddag inderhaas by die lab uit. Half vier. Om so vroeg te kon tjaila, moes ek 7uur al by die werk wees. Die son en ek het saam teen die werkstrap opgegaan. Ek het die van die trein in Den Haag sentraal gesnol vir die tremstop en net betyds en heel uitasem op die regte trem huis toe gespring. Hier ingehardloop het ek darem tyd gehad vir bietjie rus voor ons, ons rugsakke vol kameras en die groot blou tas hier uit is na Den Haag HS stasie.

Ons was 'n kwartier vroeg op HS. Wat 'n goeie ding was, want daar het 'n afkondinging ons vertel dat die internasionale trein nie vanmiddag op HS stop nie. Ons klim toe maar op die intercity, ry Rotterdam toe, verwissel peronne en klim op die pienk internasionale trein Brussels toe. Die intercity was verskriklik vol en Donderdag was 'n snikhete dag so die aroma was maar aan die ryp kant. Die pienk trein was nie veel beter nie, maar daar het ons ten minste sitplek gekry. Die sakkende son het reg in my oë geskyn, maar gelukkig is ek aan die lees aan Fragile things en het die groot hardeband boek, wat 'n heel effektiewe sonskerm maak.

Uiteindelik in Brussels was ek en Rods so bly dat ons ten spyte van die snaakse treinrooster wel 'n uur voor ons vertrek op die regte stasie is, dat ons besluit het om dit te vier met 'n heerlike pastagereg en Belgiese wafels. Belgiese wafels is lekker. Myne het deurdrenk in sjokoladesous saam met 'n skep hemelse roomys voor my beland. Sugar rush absolutely galore. Ek moet dalk regtig toets vir diabetes. Rods het my al gewaarsku that he married me for life; not just a few years, so ek moet seker een of ander tyd my skete uitsorteer. Nou daar is twee maniere om van 'n sugar rush ontslae te raak. Een is oefening. Vat 'n rukkie, maar heel effektief. Die ander een is om 'n groot genoeg skok te kry en dus so adrenalien op te gebruik wat op sy beurt weer die suiker aftakel. Ek het onwetend vir laasgenoemde geopt.

Volgens die website moet mens 'n halfuur voor die tyd by die Eurostar inboek. Amper soos by 'n lughawe. Jy gaan deur paspoortkontrole en alles. Behalwe dat ons toe nooit daar deur is nie. Daar was 'n brand in die Eurotonnel. Die tonnel wat vir baie kilometers onder die oseaan deurgaan en Engeland en Frankryk verbind. Die tonnel waardeur slegs treine mag ry. As jy daar wil deur, ry jy op 'n trein op en dié ry met jou op sy rug deur die tonnel. Veiliger so. Tot een van die chemikaliëlorries op een van die treine aan die brand geraak het. Toe is dit nie meer so veilig nie.

Dit was Donderdag so om en by 2uur. Kon hulle ons nie op die Den Haag stasie al vertel het nie... Die tonnel is nog steeds toe. En daar sit Eurostar met 2000 baie ongelukkige kliënte wat skielik gestrand is. Ons het 'n briefie by hulle gekry wat sê ons moet in 'n hotel inboek vir die nag. Hulle sal die koste dra. Maar ons moet self betaal. Hulle sal ons later vergoed. Die laaste trein Den Haag toe het toe reeds vertrek. Ons volg toe maar 'n baie vriendelik hotel-represent wat van die groot hoeha gehoor het en kanidate vir die hotel kom aas het, se raad en gaan bly in hulle hotel teen 'n kleinhuisie vol geld. Die een aand in die Brusselse hotel het ons - of teoreties dan vir Eurostar - meer gekos as ons booking in Engeland vir die hele naweek.

Die tonnel is steeds nie oop vir gebruik nie, so ons het dit oorweeg om die ferry of self 'n vliegtuig te vat, maar dit maak nie regtig sin nie. Alles is oorvol en daar is geen kans op die afslagpryse van lank voor die tyd boek nie. Bovendien is daar ander mense wat die plek op die vervoer dringender nodig het as ons.

Maar terwyl ons toe nou in Brussels was, het ons maar vandag gebruik om daar rond te loop. Ons het genoeg sjokolade gekoop om my dood daaraan 'n oordosis-selfmoord pleks van 'n ongeluk te maak en ons die deurdringende reën getrotseer tot naby 4uur vanmiddag. Die hotel was vriendelik genoeg om ons toe te laat om ons bagasie daar te stoor so ons hoef nie die logge tas saam te gesleep het nie. Daar is genoeg Hollandse presentjies daarin om 'n klein olifant vir 'n middag te voer. Mits die olifantjie drop, spekulaas en stroopwafels eet, natuurlik.

Op Brussels se stasie het ons 'n paar interessanthede opgemerk. Daar staan 'n klavier op 'n klein podium en die sit en speel homself. Daar kom klank uit die klavier en die note beweeg in en uit, maar dia pianis bly onsigbaar. Vanmiddag was daar 'n volle simfonieorkes. In die middel van die stasie. Met tjello's en viole, klarinette, groot keteldromme en allerhande musiekinstrumente waarvan ek nie die name ken nie. Ek het maar vir Rods probeer troos - hy voel vreeslik oor die naweek nie reg uitgewerk het nie - en hom vertel dis regtig gaaf van hom om al die moeite te doen om my na 'n simfoniekonsert te neem. Hy reken, alles in ag genome, is dit die duurste konsert waar hy nog ooit was. Ten minste is ek nie 'n goedkoop date nie...

Wel, nou is ons terug in Den Haag. London moet maar 'n paar weke wag. Ai.

Saturday, September 6, 2008

Amsterdam in a wink



Goeie magtag maar parkering in Nederland is duur! Ek het amper 'n hartaanval gekry toe ek sien dat die parkering 20x per 3 minute is. Maar Rods het my vertel hy sal dit kan betaal, so ons is na die groot blommemarkt toe. Pragtig! Ek is 'n Venus fly trap en 'n monkey cup ryker. Of armer, afhangende van hoe mens na die saak kyk.

Vir Rods het ek die interessantste kaktussie hier bo gekry. Die onderste helfte is gewone groen kaktus. Die boonste gedeelte is 'n obligate parasiet, want omdat dit pragtige kleure soos rooi en pienk en geel is, kan dit nie fotosinteer nie. Dit word al as klein bolletjies bo-op die ander kaktusse geënt. Daar vermenigvuldig en groei dit, maar die leeftyd is gewoonlik nie veel langer as 'n jaar nie en die truuk is om hulle betyds oor te ent na 'n nuwe kaktus.

Ons het vandag die rooiligdistrik misgeloop. Ons het wel die boekwinkels raakgeloop. Is ook in die torture museum in. Daar word allerhande pynlike en pynveroorsakende apparate (onder andere die iron maiden) uitgestal. Ek het deur alles gekyk en redelik gewalg daar uitgeloop. Nie net oor die goed uitgedink en ge- en misbruik is nie, maar oor die mens inherent nog niks verander het nie. Gee ons 'n kwart van 'n kans en amper enigeen wat glo dat hy die reg daartoe het of die kans het om iemand te martel en daarmee weg te kom, sal dit sonder enige gewetenswroeging doen. Die mens het nog niks verander nie. Ons beskaafdheid is maar 'n baie dun lagie veneer wat maklik afgegooi kan word.

Net die vorme van marteling het verander. Dit het ek terug by die kar uitgevind. Die parkering het amper 16 euro gekos...

Blou