Sunday, February 22, 2009

Vier dae voor my vlug

Oor vier slapies vlieg ek Kaapstad toe vir 'n kort, broodnodige vakansietjie. Ek begin nou regtig opgewonde raak. Net jammer Rods kan die keer nie saamkom nie. Die foto is seker 7 gaar gelede net buite Steytlerville geneem.

Saturday, February 21, 2009

Granate


Volgens die mitologie het ons winter oor die meisie wat Hades ontvoer het, ses granaatpitte geëet het terwyl sy sy gevangene was. As ek reg onthou, was haar naam Ceres, maar dit kon haar ma ook wees. Ses maande van die jaar moet sy by hom deurbring, en dan sit en treur haar ma wie se werk dit is om die blommetjies te laat bloei so, dat sy skoon vergeet om haar werk te doen. Sodra sy haar dogter terug het, dan doen sy weer haar werk. Ek dink sy is bietjie deurmekaar. Pleks sy werk terwyl haar dogter onder in die hel sit en kuier met dié vir die ses maand 'n jaar wanneer sy wel die kans het...

Madri maak die mooiste juwele. Sover het ek al drie van haar skeppings. Die naweek het Thinus vir my 'n ring gegee wat sy vir my saamgestuur het. As ek na die kleur kyk, weet ek presies waarom dit granaatsteen genoem word. Ek is mal oor die ring. Dis so 'n lekker groot knuckle duster en dit pas perfek by die armbandjie en oorbelletjies wat ek reeds het. Armbandjie van Mom (oorspronklik uit Mexico), oorbelletjies self gekoop in Greenwich op my verjaarsdag laasjaar en nou 'n pragtige ring van Madri. Ek is voorwaar geseënd. Nie net het ek goeie vriende en mooi juwele nie, ek kon ook die granaat verslind.



Sunday, February 15, 2009

Valentynsdag in Brussels - foto's van Rods

Diabetes in piesangvorm
Goudvergulde geboue in die markplein in Brussels
Die onstagwekkend gedetaileerde stadsgebou van Brussels
Een van die kant (lace) winkeltjies op die plein

Deur met detail

Mannekinpis mooi opgedress vir die Chinese nuwe jaar
Sonsondergang

Dis verbysterend hoe twee mense met 'n kamera elk op dieselfde plek kan staan en na dieselfde ding kyk, maar tog twee (of in ons geval vele) heeltemal verskillende foto's kan neem. Dis ook handig om toegang tot albei stelle foto's te hê wanneer ek wil blog...

Nelle in Groningen


Kroeshare op 'n reëndag. Die tee was heerlik - al lyk die suiker bietjie weird.

My arms was twee dae na die tyd nog seer van klokke lui. Maar dit was lekker.

Trappe vir dwergies.

Goeters om in te pak


Ek vlieg vandag (Sondag) oor 11 dae. Verrassend genoeg het ek reeds al die presente gekoop wat moet saam. Al 15kg se presente. Laas toe ek in die Kaap gaan kuier het en 'n selfs groter hoeveelheid goed moes saamry, het Gesina hartloos, maar prakties, voorgestel dat ek in my bikini ry. Ek was geworry oor die koue, so sy het as raad 'n jas ook bygevoeg. As ek na die pakaas kyk, dink ek dat ek die keer dalk net haar raad sal moet volg...

Sien julle oor 11 dae. En as ek julle flash ... sorry, dis 'n uitvloeisel van my sussie se raad.

Sjokolade


70 euro se sjokolade

Saturday, February 14, 2009

Valentynsdag in Brussels

The Drug Opera

Komplimentêre ondrinkbare wyn saam met ons ete


Van die mooi seekos-displays in die toeriste eetstraat
Straatstalletjie wat die nodige teen die koue bied. Agter die stalletjie een van die menigte sjokoladewinkeltjies in Brussels
Yummy belgiese wafels - mens kan dié nie eet sonder om die voorkant van jou klere vol versiersuiker te mors nie

My Valentyn by een van die interssant versierde deure op die grote marktplein

België is bekend vir hulle sjokolade, wafels en kant. Dié lace-huisie is op die groot plein voor die stadsaal en het onder andere ook vir Victor Hugo gehuisves. Wonder of hy ook kantwerk gedoen het...

Interessante grafitti


Onder die katedraal is opgrawings gedoen en bouwerk uit die 11de eeu gevind.


Oppad terug kar toe, het ons by die katedraal ingeloop terwyl hulle besig was met hulle aandmis. Daar is iets onsagwekkends aan orrelmusiek in 'n katedraal. Ook iets rustig om op Valentynsdag in 'n huis van die Here in te gaan. Die Een wat eerste liefgehad het.

Saturday, February 7, 2009

Roderick in Groningen en Leeuwaarden

Vroegaand in Leeuwaarden
Die pannekoekskip. Hollandse savoury pannekoeke word met die vulsel in die deeg gebak en plat en rond bedien. My ham, sampioen en kaas pannekoek was absoluut heerlik, maar ryk genoeg om, as dit waar is dat jy is wat jy eet, my 'n miljoenêr te maak.

Nagfoto's is nog nie heeltemal my forté nie. Aan die regterkant van die grafstil water is die pannekoekskip. Links agter is 'n weird ronde geboutjie wat mens van 'n afstand af aan 'n sterrewag laat dink.

Oe dit was pret! Ons het die groningen Koster toring geklouter. Halfpad op kry mens die kans om die klok te lui. Eers trek mens hom met al jou gewig en krag af...

... dan hou jy styf vas ...
... en skielik is jy Tarzan


Silhoette van die tyd wat ongelukkig vir niemand wag nie

Een nadeel van torings klim, is as jy enigiets bo vyf voet vyf is, is daar groot gevaar om jou kop met elke liewe trappie te stamp. Die deurtjies is self vir dwergies gemaak.

Spoortjies om die oë, silwer in die baard. Priceless.

Die gebou langs die rooie, se naam is Groote Griet

Nou, beknopte, steil trappies. Daar is darem 'n tou vir balans.


Een van die mooi torings in Groningen.

Sunday, February 1, 2009

Jakkals en wolf

"Dagsê, dagsê al julle mooi kindertjies. Oom Dana het gehoor dat julle so soet was en nou gaan oom Dana vir julle 'n storie vertel. Die storie van Jakkals en Wolf."

Ai, those were the days. Vandag is ek gou stad toe. Tegnies om vir Rods alleentyd met sy boeke te gee, maar eintlik oor ek nou-die-dag my salaris gekry het, en my vingers jeuk om van dit uit te gee. Ek probeer dit regverdig deur presente vir die mense van my Kaapstad-besoekie te kry. Van dit is koopbaar, maar my oom soek, behalwe vir die hollandse vuurhoutjies (wat hier lucifers genoem word) ook drie klippies. Ek kan my net indink wat ek vir doane gaan vertel as hulle my daarna vra... Mevrou, wat wil jy met memory sticks, klippe, vuurhoutjies, magnete, koffie, hollandse dvd's tee, spekulaas en babaklere maak? Uhm.

Vandag was 'n dag vir die dinge wat geld kan koop. Oppad na die tremhalte toe, het dit begin sneeu. Dis nie regtig so raar hier nie. Wat wel ietwat vreemd was, was die blou lug en die sonskyn. As die reën val terwyl die sonnetjie skyn, noem ons dit Jakkals trou met wolf se vrou (Monkey's wedding). Wat sal die sneeu-weergawe daarvan wees?

Dis 'n oorweldigende gedagte om te dink ek gaan van -4 na +30. Dis 'n indrukwekkende gedagte om te dink wie ek almal daar in die paar dae in die hitte gaan sien. Maar dis 'n angswekkende gedagte om te dink dat ek hulle dan weer daar gaan moet los. Hoewel ek moet bieg, nie so skrikwekkend soos die vier kilo's wat nog moet verdwyn voor dan nie. 24 dae...