Saturday, June 27, 2009

Veteranedag 2009















Vrydag die 19de

Die 19de Junie is 'n vol dag op my kalender. Daar is drie verjaarsdae en een huweliksherdenking. Een van die verjaarsdae, is Thinus s'n, en synde hy nie ver van hier af bly nie, was dit die een wat ons toe gaan bywoon het. (Ons moes 'n partytjie in Noorweë bedank en nee sê vir een in Kaapstad - wel, ons sou moes nee sê as daar 'n partytjie was en ons genooi was.)

Thinus se partytjie was heel multikultureel. Daar was Spanjaarde, Marokane, 'n Engelse dame, Afrikaanse en Engelse Suid-Afrikaners, 'n Iraniër en natuurlik een regte Nederlander. Soos wat die aand later geword het en die vodka minder, het 'n gesing en 'n gedansery daar losgebars. Die belly dance met die klingelende muntstukke aan die belt was asemrowend mooi. Dat iemand musiek op slegs 'n trom kon maak, was ook 'n openbaring. Dat die Marokane, nes die swartes van SA ook in zulu kan jodel, was wel vir my 'n kultuurskok. Nou wonder ek wie dit by wie geleer het.

Ons is na 2 daar weg, doodmoeg, maar met genoeg moed om nog die pad huis toe aan te durf. Soms moet mens baie ver van jou geboorte-vasteland wegwees om die barre, wrede skoonheid daarvan eg te waardeer.

Dragon and treasure




Sunday, June 14, 2009

And all that Jazz

Die naweek was heel kultureel in Den Haag. Daar was die Jazz festival in die gragte by Bierkade, die opelug klasieke konserte op die plein en die drywende verhoog en paviljoene op die dam by die hof. Verder is ons vandag (Sondag) na die zwarte markt by Amsterdam. Dit is 'n massiewe vlooimark. Ek het heelwat minder gekoop as wat ek eintlik wou. Wanneer ek weer daarheen gaan, kry ek 'n hele stel Arabiese borde en dienborde. Vandag het ek die mooiste mooiste houtbak gekoop. Dit is van so 'n rooierige hout en seker so 50 - 60 cm in deursnee. Rachid het die prys vir my afgestry. Handige mannetjie om mee te neem.


Na 8 in die aand. Kyk hoe blou is die lug nog.

'n Anoreksiese kontrabas
So 'n instrument verg duidelik ernstige konsentrasie

Rods op die foon besig om sy ma in te lig waar ons ons bevind. Sy is 'n regte jazz fan en was dus verstaanbaar jaloers.

Verliefde paartjie met interessante skoene en sitgewoontes

Bierkade. Daar was spesifieke vasmeer-plekke vir die bote. 'n Boot vol musikante sal iewers vasmeer, vir so 'n kwartiertjie speel en dan verder vaar. Dit was 'n uitstekende sisteem.


Orkes op die water


Een van die jazz-figure by die vasmeerplekke

Een van die orkeste oppad na 'n nuwe bestemming.

Jazz was nie al wat aangegaan het nie. Op die plein was Vrydagaand 'n Spaanse tema. Hier is 'n flamingo-danseres op stelte. Saterdag het hulle daar 'n dirigent-klas vir die kinders aangebied. Later het al wat leef en beef op die plein arms geswaai soos wat hulle Vivaldi gedirigeer het. Die aanbieders het dit 'Lucht dirigeer' genoem.

Klassieke musiek is op die drywende vlotte bespeel. Vir ons wat nie kaartjies gehad het nie, was die musiek nog steeds hoorbaar, maar nie so duidelik of mooi soos reg voor die verhoog op die pawiljoene nie. Ons het hierdie hele proses Saterdag herhaal (die jazz, die plein en uiteindelik ook die stuk grond langs die drwyende verhoog) en terwyl ons vir ons vriende gewag het om by ons aan te sluit, het ek en Rods op die bankies daar naby gaan sit, ons boeke gelees en die musiek ingedrink. Musiek is mos nie net visueel nie.


Dit wat ek - nie heeltemal korrek nie - Kama-Sutra sandkastele noem.


Hierdie enetjie lyk onrusbarend soos die Nederlandse koningin. Ek dink dis die haarstyl.

Kyk die detail in die sand.


Sunday, June 7, 2009

Blou sketsie

Dit wat soos bolle rook lyk, is misbanke wat ingesak het tussen die berge. Wees gentle in kritiek - die is na 11 ure op die pad geskets. Met pen. Op 'n stukkie papier net bietjie groter as 'n vuurhoutjieboksie. Daardie skuurtjie met sy skewe dakkie was net te mooi vir woorde.

Kastele en vestings

Vesting Koblenz van onder gesien
Roderick in Vesting Kolenz



Lahneck Kasteel
Kasteel Marksburg

Boppard. 'n Ou Romeinse stad waarvan daar nog 11 10m hoë torings bestaan

Die vete-broers: Kasteel Sterrenberg en Liebenstein. Volgens legende het 'n wewenaar en sy twee seuns in Sterrenberg gewoon. Hy het 'n meisie gekry om hulle te help grootmaak, maar omdat sy baie jonk was, het albei broers op haar verlief geraak. Uiteindelik het sy die jongste gekies. Voor hulle egter kon trou, moes hy op 'n kruistog gaan. Toe hy uiteindelik terugkeer na sy getroue verloofde, was dit met 'n Griekse vrou aan sy sy. Sy broer was so kwaad (ek kan my indink... Hy was natuurlik die een wat dag in en dag uit moes hoor en sien hoe die meisie wat hy liefhet na 'n ander man verlang) dat hy in die naburige kasteel ingetrek het en die hoëmuur tussen die twee vestings gebou het.

Die een plek waar hulle egter sonder 'n muur moes klaarkom, was in die kerk. Daar het 'n swaardgeveg ontstaan. Die meisie het die twee probeer uitmekaarhou. Dit was nie heeltemal so slim nie, want sy is per ongeluk doodgesteek. In die daaropvolgende tweegeveg is beide broers toe ook oorlede. Legende vertel net dat die pa se hart hierdeur gebreek is. Ek wonder wat van die arme griekse vrou geraak het.

Kasteel Maus is deur 'n aartsbiskop laat bou en hy en sy familie (broers en so aan) het daar gewoon. Ongelukkig vir hom, was daar 'n baie ryk groep die Katzenelnbogers wat onmiddelik 'n groter en natuurlik mooier kasteel die Katz gebou het en sodoende die biskop se kasteel belaglik klein laat lyk het. Die biskop se burg is toe die Maus genoem. Arme man. Maar nou ja, as jy in die kerk-besigheid wil wees, is nederigheid seker 'n les wat nie opsioneel is nie.

Burg Maus
Ruine Rheinfels bo St Goar
Burg Maus
Panorama St Goar
St Goarhausen en Katz-kasteel
Kasteel Stahleck bo Bacharach. Die St Nicholas kerk is op die ou tol-bastion gebou.
Toring in Oberwesel. Oberwesel is die eerste dorpie in die Ryn waar kanonvuur tydens 'n oorlog gebruik is.
Burg Gutenfels bo die dorpie Kaub. Die area is bekend vir hulle wynbou.

Die Pfalz in die middel van die rivier by die dorpie Kaub. Dit was oorspronklik 'n tol-kasteel.

Kasteel Schönburg by Oberwezel