Friday, January 30, 2009

Sekelmaan


Vannaand oppad huis toe, was die maan so mooi. Dit was nog effens lig en die sekelmaan en 'n helder ster - wat ek reken Venus is, maar ek was nog nooit goed met astronomie of astrologie nie - het tussen die boomtakke vir my geloer. Bo in die woonstel het ek uitgevind dat maanfoto's nie so maklik is nie en dat die kamera minder vergewensgesind as die oog is. Maar dit is goed om te weet dat die maan en (van die) sterre darem nog sigbaar is in 'n ligbesoedelde Europa. So vir dié wat kom kuier, kan ek 'n blik van die son, maan en sterre belowe.

Obese




Ek is 32 jaar oud en het 'n BMI van amper dieselfde. Volgens BMI-kriteria, is ek dus obese. Wat is obese hoeka in Afrikaans? Om op die boonste grens van slegs oorgewig te staan te kom, moet ek 4kg verloor. Dit is haalbaar. Om by die boonste grens van Normaal te kom, moet ek 19kg verloor en om op die onderste grens van normaal te lande te kom, kan ek nog 36kg kwytraak voordat ek as maer geklassifiseer sal raak.

Kyk, ek het geen illusies oor die feit dat daar gedeeltes van my is, wat maar vir goed en ten goede kan wegkwyn nie. Oorgewig, ja. Defnitief. Maar obese?

Voëltjiebad



My oudste broer was nie altyd so gemoedelik soos wat hy deesdae is nie. En as daar nou een ding is wat hom van louwarm tot kookpunt kon bring, was dit as mens vir hom tee in 'n klein bekertjie (koppie) gee. Hy het tirades gelewer oor voëltjiepikkies - wat later van tyd voëltjiebadjies geraak het. So vind my ma toe eendag in Clicks 'n koppie en piering spesiaal vir hom. As ek reg onthou, het daardie beker 'n kapasiteit van 'n liter.

So werk hy daardie dag in die waenhuis en my ma stuur toe spesiaal vir Gesina daarheen met 'n halfvol koppetjie. Eddie gooi sy gewone tirade en Gesina vertel hom as hy nog wil hê, moet hy dit in die kombuis kom haal. Ek wens ek was daardie dag tuis. Hy het glo regtig probeer om die beker leeg te drink, maar helaas, op 'n stadium moes hy toegee dat hy sy versadigingspunt bereik het.

Gister het 'n hele swerm swart voëltjies hier op die dak naas ons woonstel kom bad. Dit was 'n gekwetter en gespeel in die yskoue bad. (Die bad was vanoggend weer spierwit vasgevries.) Van die bad na die boom en terug het die swerm gespeel en geduik en ek het sit en verlang na 'n kans om tee te drink saam met my boeties en sussie. Ek hoop net ek kry nie 'n voëltjiebadjie vol nie.

Tuesday, January 20, 2009

SARS

Ek is besig om te e-file. Dis 'n uitdagende besigheid. Eerstens moet jy jou login-naam onthou. 'n Jaar terug het ek RSnowdowne gekies. Dis maklik, dis eenvoudig, en ek behoort dit darem te kan onthou. In die ideale wêreld sou dit gewerk het, maar SARS het besluit dat ten spyte van die feit dat daar net 14 Snowdownes in die land is, ek 'n vier-nommer agtervoegsel benodig. Ek sou sommer my geboortedatum gekies het as dit my keuse was, maar hulle het self die agtervoegsel aangeheg.

Gisteraand delf ek deur die huis en deur al drie rekenaars tot ek uiteindelik op 'n cd vol dokumente afkom en wonder bo wonder is al die nodige inligting daar. Die jaar is 'n goeie jaar vir e-filing. My baas by Elite College het reeds alles van die IRP5 se inkomste afdeling ingevul en al wat ek moet byvoeg, is die mediese inligting en die pensioen-goed, want dit het ek nie deur die skool gedoen nie. Die mediese inligting was verbasend pynloos om te kry. Gebel en 3 minute later 'n email gekry. Nou wag ek nog net vir PPS om my inligting deur te stuur.

Maar ek het 'n onrusbarende tendens op die SARS website ontdek. Wanneer mens jou inligting save, save die rekenaar dit wel, maar maak jou dokument toe en moet jy alles weer van voor af oopmaak om in te vul. Vul jy wel alles tot aan die einde in, en probeer dan save, dan gooi die rekenaar jou uit, want jy het jou tydslimiet bereik. Daarna swets jy maar saggies, gaan maak tee en probeer vinniger tik die tweede keer.

Die Nederlandse ekwivalent van SARS se advertensie sê Leuker (lekkerder) kan dat nie, makliker wel... Ek sal nog uitvind of dit die waarheid is.

Monday, January 19, 2009

Knieserig

Vandag was 'n weird dag. Vandag was ook 'n baie, baie lang dag. Ek het gister (Sondag) bietjie later gelê as my gewone weeksdagse 6:10 en met 'n krapperige keel en 'n omgekrapte gemoed die dag deurgegaan. Dit was nader aan Valhala as Utopia, maar dit was seker ok.

Gisteraand toe my oë tranerig en my nut vir 'n tissue meer dringend raak, stel Rods voor dat ek 'n Med-Lemon drink. In die advertensies is daar of 'n sangoma wat dit vir mense ingee, of jy sien hoe die ma van die huis dit liefderik aan die siek man of kind gee. Ek herinner my 'n ou wat in so 'n ys-kombers toegewikkel was. Die punt is, die mense is almal in die bed. Ek maak toe my med-lemon en kom sit in die bed om ook die wonderkuur ten volle te benut. Dit was so 10uur.

Om net na twee het ek nou al die volle spektrum van waarom ek nie geslaap kry nie, deurgewerk. Dalk kry my voete te koud. Dus sokkies uit. Dalk is die verwarmer in die kamer aan. Opgestaan en gaan kyk. Nee, ook nie dit nie. Dalk is dit volmaan... paar berekeninge, nee, defnitief nie volmaan nie. Dalk donkermaan? Dalk worry ek oor iets. (Dit het 'n paar meriete.) Dalk is iemand vir wie ek lief is in die moeilikheid. (Ook moontlik, maar gewoonlik het my worries 'n gesiggie by.) Uiteindelik so net na twee gaan lees ek die pakkie. Med-Lemon het 50mg kaffeine in... Nou weet ek dat 50mg genoeg is om my heelnag wakker te hou.

Teen vieruur besluit ek as ek teen 5uur nog nie slaap nie, dan moet ek liewers opstaan, want niks is so 'n wonderlike kuur vir insomnia as die wete dat dit nou opstaantyd is nie. Die voordeel van so vroeg opstaan, is dat mens kan bad ipv stort. Daar is tyd vir al die goed wat mens gewoonlik in die oggend laat verbygaan oor jy net te haastig is.

Ek was vanoggend kwart oor 7 al by die werk en het hard en getrou gewerk. My reaksies is op die robot gesit en ek het konsentrasies gemeet en verdunninge gemaak, maar toe ek begin sequency analise doen, het ek agtergekom dat ek vandag vir die verkeerde pasiënte kanker gaan gee. My kop was geheel en al vol watte en ek het 'n tot-nou-toe onbekende kwaliteit van watte ontdek. Watte kan klop en pyn.

Oppad huis toe het ek met horisontale reën kennis gemaak. Jy hou jou sambreel reg voor jou - en jy moet styf vashou... Ten minste bly jou gesig droog, maar van net bo jou knieë ondertoe, drup teen die tyd dat jy by die trein aankom. Die eerste ding wat ek vanmiddag by die huis kom doen het, was om my ordentlik af te droog, pajamas aan te trek en styf teen die heater te gaan staan.

Soos dit gaan wanneer mens oormoeg is, was ek daarna heeltemal wakker. Ek en Rods had 'n heerlike ertjie en hamsop vir middagete genuttig en ek kom krul toe in die bed op. Vas beslote om met alles en almal te chat. Daardie voorneme het gehou tot my kop kussing geraak het. 'n Hele paar uur later voel ek nog knieserig en tam, maar nou sien ek ten minste weer kans vir die lewe. Maar ek het 'n baie beter insig in hoekom katte so graag doedoe.

Sunday, January 18, 2009

want my Mommy

Rods is al die hele week knieserig. Hoesserig, heserig. Ek het simpatie daarmee, maar redelik oppervlakkige simpatie. Mans word mos altyd in die oortreffende trap siek, so ek reken die vierkantswortel van hulle sigbare siekte uit, en handel daarvolgens. Vanoggend het ek egter met 'n krapperige keel en 'n ooreenstemmende gemoed ontwaak. Moenie eens daaraan dink om vir my jammer te voel nie. I've got that job covered. Maar die oomblik as die liggaamlike weerstand laag raak, volg die emosies dieselfde weg en dan wil ek my ma hê. Nou dadelik, asb.


Om die dag om te kry, het ek kwaliteittyd met die binnekant van die huis deurgebring. Eerstens het ek 'n pakkie opgemaak. Hoop daar is 'n paar glimlaggies in SA.

Die kershouer was 'n present van Thinus. Wanneer die kers binne aangesteek word, skitter die kamer in derduisende gerefrakteerde gekleurde liggies. Tog te fraai. Die sonskyn daarop is self vrolik.
Vroegoggend het dit gesous en het die wind nuwe landspoedrekords probeer opstel. Later vanmiddag het die son uitgekom, maar die wolke nie gewyk nie. Die voëls het uiteindelik kansgesien om ook hulle vlerke bietjie te rek. Die eindresultaat is iets wat Rods my verduidelik ek 'n HDR foto van sal moet neem. By gebrek aan geduld en wysheid, het ek maar net gepoint and shoot. Kyk hoe wit is die gebou teen die moerige grys lug.

Iewers, ' n dekade of meer gelede, het iemand 'n broeipaar of dalk selfs meer van 'n groen pappegaai-soort losgelaat. Deesdae sien mens hulle in swerms (troppe, kuddes) van tot 50 oral in Den Haag. Ek kry hulle nogal jammer in die wintermaande. Hulle is somer en winter lief daarvoor om in die boom oorkant die kanaal te gaan speel. Daar hop hulle van tak tot tak en maak 'n groot hoeveelheid geraas. Ek moet sê dat hulle makliker afneem in die winter wanneer hulle nie die kamoflering van die blare het nie. Die foto is op maksimum zoom geneem.

Wednesday, January 14, 2009

Pasmaats


Mens kan sien ek was 'n arm student. Na een van my groot universiteitsliefdes in eenrigtings uitgeloop het, het ek 'n hartroerende gediggie geskryf waarin ek hom vertel dat al word 'n paar sokkies in die was geskei, dit niks verander aan die feit dat hulle bymekaar hoort nie; selfs al word hulle later saam met 'n ander halwe paar gedra. As ek toe geld gehad het, sou ek van onderklerestelletjies ipv sokkies gepraat het...

Maar dit was dae van cross your heart and really hope to die as iemand jou daarin sou moes sien. Ek dink die helfte van my selfbeeldprobleme is Woolies se skuld. Daardie cross your hearts gee jou 'n soliede voorkoms, druk jou in rare vorms in en veroorsaak dat as die dag ietwat koud is - wat Bloem nou nogal in die winter word - dat jy 'n dim en bright het. Verskriklik. Dat ek daardie jare oorleef het, is net te bewys aan die feit dat ek nog hier tik. Skaamte is 'n verkriklike ding om aan te sterf en nog erger om aan te oorleef.

Gelukkig het ek die wonderwêreld van bedrade onderklere en die selfs wonderliker skat van kant en satyn ontdek. Die enigste ware liefde wat ek van my (laat) studentedae oorgehou het, is die liefde vir mooi onderklere. My selfvertroue het inderdaad met 'n paar sentimeter gegroei. En ek het ook wyser anderkant uitgewandel. Want nou weet ek ten minste dat daar baie opsies is wat perfek kan werk en as mens in die winkel 'n keuse kry van 'n bypassende volle broekie, high cut, bikini of g-string, hoeveel meer keuses kan mens nie in die lewe kry nie? Rods sal bly wees om te verneem dat ek hom nie as 'n halwe paar sien nie, maar as 'n perfekte pasmaat. Rods sal seker ook bly wees om te sien hoe my nuutste aankope lyk...


Monday, January 12, 2009

Duitsland - ysland

Bevrore rivier by Alken. Die rivier is omtrent 200 - 250m breed. Die ys was stuk-stuk gebroke en ons het gekyk hoe twee seuntjies daarop speel (en hoe een naby die kant deurgetrap het en vir sy moeite sy broek tot by sy knie natgekry het. Dit het ons natuurlik daarvan weerhou om dit ook te probeer. Mens kan darem uit ander se foute ook leer.

Dieselfde rivier in die rigting van die sonsondergang. Teen die tyd was dit al sterk skemer
Duitse pub
Uitkykpunt
Snow Angel


Een van die talle 10-huis dorpies wat oral in die sneeu gestrooi is.

Sonsondergang so omtrent kwart voor 5

Mr Snow



Net na die Luxembourg/ Bondsrepubliek van Duitsland grens

Die innerlike goedheid van die mens



In Maritza se kamer het 'n poster van Anne Frank gehang. Die presiese woorde het my jare gelede al ontgaan, maar dit kom daarop neer dat ten spyte van alles, sy steeds glo aan die innerlike goedheid van die mens. Ek dink my man is bietjie soos Anne Frank. Hy los sommer maklik goed waar ander mense dit sou kon wegdra, want, omdat hy so is, verwag hy van ander mense om ook eerlik te wees.

Ons is die naweek Luxembourg toe. Saterdagoggend is ons getas en geserp hier by die deur uit; om die sneeu te gaan aandruf net om by die kar agter te kom dat iemand oornag die klein ruitjie gebreek het, en met Rods se bril en Garmin fort is. Ergste van alles is dat dié in die cabio was en nie eens binne sig nie. Toe word ons trippie bietjie uitgestel. Ons was omtrent 'n uur by die polisiekantoor en 'n uur en 'n half by die kwikfit wat vir ons 'n plastiekruit ingesit het. Vir eers.

Dit help nie mens gooi klippe oor wie se skuld dit is nie. Al wat klippe aanrig, is om nog vensters te breek. En die vensters van die gemoed, verdra nie om met perspeks vervang te word nie. Miskien moet mens maar soos Anne glo in mense (en vergeet waar haar geloof haar laat opeindig het) of miskien moet mens katvoet deur die lewe loop. Die probleem van niemand vertrou nie, is dat mens dan soveel mis. Ek is nou baie lus om 'en soveel gespaar bly' in hakkies by te tik, maar die optimis in my weier. Want ten spyte daarvan dat ons 'n paar goed kwyt is, was die naweek 'n sukses. Rods het 'n nuwe bril en satnav en ek het 'n sak vol herinneringe - en die kans om 'n I told you so te laat verbygaan. Dan is die prys nie regtig so buitensporig nie. En dan bly glo mens maar in die innerlike goedheid van die mens.

Sunday, January 11, 2009

Waar die lyn tussen die horison en die lug vaag word

By die laaste petrolstasie in Nederland voor die Belgiese grens
Half-bevrore rivier in Liege

So wit soos sneeu, so rooi soos bloed en so swart soos ebbehout... Dalk het Sneeuwitjie se ma naby Maatricht gewoon.






Nog in Nederland het die sneeu al dik gelê. Die kinders het met slees teen die effense heuwels gespeel en ons het self soos kinders probeer speel. Die poedersneeu is egter glad nie geskik vir sneeumanne bou nie. Dit bly verkrummel maak nie saak hoe hard jy dit kompakteer nie. Dit is asof alle vog uit die sneeu verwyder is.

Luxembourg

Warm sjokolade teen die koue klimaat



Wie aan die een kant van die vallei afklim, moet aan die ander kant weer opklim.

'n Halfbevrore stroompie in die valei-tuin van Chatau Luxembourgh

Alle paaie lei iewers heen. Dié in die mistige sneeu maak net mooier foto's.


Vir diegene wat vir Rods ken, sal hierdie foto baie dinge verduidelik. As selfs hy opzip teen die koue, moet julle weet hoe verskriklik koud Sondag was. As julle dit nie kan uitfigure nie, kyk na die dashboard display bietjie laer af.
Luxembourg op 'n mistige Sondagoggend

brrrrrrrrrr (en dis al amper middag)
yskristalle teen die kar

Hilton Hotel Luxembourg. Ons het op die 10de vloer gebly.

Thursday, January 1, 2009

Oujaarsdag in Leiden

Die Naturalis gebou in 'n waas van mis en sneeu.
Die burg wat in die 11-honderds gebou is. In 2050 'n duisend jaar oud.
Een van die groot kanale begin toe-ys. Teen die spoed waarteen dit ys, behoort ons oor 'n week of twee te kan skaats daarop.
Rods durf een van die reeds-geyste kanale aan.
Kyk hoe fluffy lyk die sneeu
Bevrore riete
Bleshoender-spoortjies op die kanaal
Witgesneeude boom by die LUMC