Tuesday, January 20, 2009

SARS

Ek is besig om te e-file. Dis 'n uitdagende besigheid. Eerstens moet jy jou login-naam onthou. 'n Jaar terug het ek RSnowdowne gekies. Dis maklik, dis eenvoudig, en ek behoort dit darem te kan onthou. In die ideale wêreld sou dit gewerk het, maar SARS het besluit dat ten spyte van die feit dat daar net 14 Snowdownes in die land is, ek 'n vier-nommer agtervoegsel benodig. Ek sou sommer my geboortedatum gekies het as dit my keuse was, maar hulle het self die agtervoegsel aangeheg.

Gisteraand delf ek deur die huis en deur al drie rekenaars tot ek uiteindelik op 'n cd vol dokumente afkom en wonder bo wonder is al die nodige inligting daar. Die jaar is 'n goeie jaar vir e-filing. My baas by Elite College het reeds alles van die IRP5 se inkomste afdeling ingevul en al wat ek moet byvoeg, is die mediese inligting en die pensioen-goed, want dit het ek nie deur die skool gedoen nie. Die mediese inligting was verbasend pynloos om te kry. Gebel en 3 minute later 'n email gekry. Nou wag ek nog net vir PPS om my inligting deur te stuur.

Maar ek het 'n onrusbarende tendens op die SARS website ontdek. Wanneer mens jou inligting save, save die rekenaar dit wel, maar maak jou dokument toe en moet jy alles weer van voor af oopmaak om in te vul. Vul jy wel alles tot aan die einde in, en probeer dan save, dan gooi die rekenaar jou uit, want jy het jou tydslimiet bereik. Daarna swets jy maar saggies, gaan maak tee en probeer vinniger tik die tweede keer.

Die Nederlandse ekwivalent van SARS se advertensie sê Leuker (lekkerder) kan dat nie, makliker wel... Ek sal nog uitvind of dit die waarheid is.

No comments:

Post a Comment