Friday, January 30, 2009

Voëltjiebad



My oudste broer was nie altyd so gemoedelik soos wat hy deesdae is nie. En as daar nou een ding is wat hom van louwarm tot kookpunt kon bring, was dit as mens vir hom tee in 'n klein bekertjie (koppie) gee. Hy het tirades gelewer oor voëltjiepikkies - wat later van tyd voëltjiebadjies geraak het. So vind my ma toe eendag in Clicks 'n koppie en piering spesiaal vir hom. As ek reg onthou, het daardie beker 'n kapasiteit van 'n liter.

So werk hy daardie dag in die waenhuis en my ma stuur toe spesiaal vir Gesina daarheen met 'n halfvol koppetjie. Eddie gooi sy gewone tirade en Gesina vertel hom as hy nog wil hê, moet hy dit in die kombuis kom haal. Ek wens ek was daardie dag tuis. Hy het glo regtig probeer om die beker leeg te drink, maar helaas, op 'n stadium moes hy toegee dat hy sy versadigingspunt bereik het.

Gister het 'n hele swerm swart voëltjies hier op die dak naas ons woonstel kom bad. Dit was 'n gekwetter en gespeel in die yskoue bad. (Die bad was vanoggend weer spierwit vasgevries.) Van die bad na die boom en terug het die swerm gespeel en geduik en ek het sit en verlang na 'n kans om tee te drink saam met my boeties en sussie. Ek hoop net ek kry nie 'n voëltjiebadjie vol nie.

No comments:

Post a Comment