Monday, January 19, 2009

Knieserig

Vandag was 'n weird dag. Vandag was ook 'n baie, baie lang dag. Ek het gister (Sondag) bietjie later gelê as my gewone weeksdagse 6:10 en met 'n krapperige keel en 'n omgekrapte gemoed die dag deurgegaan. Dit was nader aan Valhala as Utopia, maar dit was seker ok.

Gisteraand toe my oë tranerig en my nut vir 'n tissue meer dringend raak, stel Rods voor dat ek 'n Med-Lemon drink. In die advertensies is daar of 'n sangoma wat dit vir mense ingee, of jy sien hoe die ma van die huis dit liefderik aan die siek man of kind gee. Ek herinner my 'n ou wat in so 'n ys-kombers toegewikkel was. Die punt is, die mense is almal in die bed. Ek maak toe my med-lemon en kom sit in die bed om ook die wonderkuur ten volle te benut. Dit was so 10uur.

Om net na twee het ek nou al die volle spektrum van waarom ek nie geslaap kry nie, deurgewerk. Dalk kry my voete te koud. Dus sokkies uit. Dalk is die verwarmer in die kamer aan. Opgestaan en gaan kyk. Nee, ook nie dit nie. Dalk is dit volmaan... paar berekeninge, nee, defnitief nie volmaan nie. Dalk donkermaan? Dalk worry ek oor iets. (Dit het 'n paar meriete.) Dalk is iemand vir wie ek lief is in die moeilikheid. (Ook moontlik, maar gewoonlik het my worries 'n gesiggie by.) Uiteindelik so net na twee gaan lees ek die pakkie. Med-Lemon het 50mg kaffeine in... Nou weet ek dat 50mg genoeg is om my heelnag wakker te hou.

Teen vieruur besluit ek as ek teen 5uur nog nie slaap nie, dan moet ek liewers opstaan, want niks is so 'n wonderlike kuur vir insomnia as die wete dat dit nou opstaantyd is nie. Die voordeel van so vroeg opstaan, is dat mens kan bad ipv stort. Daar is tyd vir al die goed wat mens gewoonlik in die oggend laat verbygaan oor jy net te haastig is.

Ek was vanoggend kwart oor 7 al by die werk en het hard en getrou gewerk. My reaksies is op die robot gesit en ek het konsentrasies gemeet en verdunninge gemaak, maar toe ek begin sequency analise doen, het ek agtergekom dat ek vandag vir die verkeerde pasiënte kanker gaan gee. My kop was geheel en al vol watte en ek het 'n tot-nou-toe onbekende kwaliteit van watte ontdek. Watte kan klop en pyn.

Oppad huis toe het ek met horisontale reën kennis gemaak. Jy hou jou sambreel reg voor jou - en jy moet styf vashou... Ten minste bly jou gesig droog, maar van net bo jou knieë ondertoe, drup teen die tyd dat jy by die trein aankom. Die eerste ding wat ek vanmiddag by die huis kom doen het, was om my ordentlik af te droog, pajamas aan te trek en styf teen die heater te gaan staan.

Soos dit gaan wanneer mens oormoeg is, was ek daarna heeltemal wakker. Ek en Rods had 'n heerlike ertjie en hamsop vir middagete genuttig en ek kom krul toe in die bed op. Vas beslote om met alles en almal te chat. Daardie voorneme het gehou tot my kop kussing geraak het. 'n Hele paar uur later voel ek nog knieserig en tam, maar nou sien ek ten minste weer kans vir die lewe. Maar ek het 'n baie beter insig in hoekom katte so graag doedoe.

No comments:

Post a Comment