Saturday, October 31, 2009

Petrikor

As iemand my weer vra wat ek van SA mis, gaan ek hulle vertel dis die gewone lysie: Biltong, turksvye, moerbeie (of is dit met 'n lang Griekse y?) braai, sonskyn, swem en petrikor. Petrikor is volgens Wikipedia nie net die reuk van reën op droë aarde nie (dink Karroo), maar ook dit wat in die ewe Griekse as die lang y se gode se are gevloei het. As die gode daardie reuk met hulle rondgedra het en soos Herculus gelyk het, verklaar dit vir my nou nogal heelwat.

Friday, October 30, 2009

Delft saam met James en Roderick

Rods en James voor Delft se skewe kerk

Kibbleling. Yum.

'n Aqua-fiets

Die oranje kar voor die oranje luike maak die prentjie net mooi perfek

Familiewapens bo die deur
Klein feetjie-dogtertjie op haar fietsie oppad

Klompe en klompe klompe

Waterbrug

Sonsondergang silhouette


James is 'n laerskoolvriend van Roderick. As my wiskunde reg is, ken hulle mekaar al drie dekades lank. Auch. Ek skat die is die jongste wat ons ooit weer gaan wees.

Herfs 2009


Herfs 2009

Die onskuldige passies het ek eers gemis
die skugter gewieg soggens vroeg
Die verleidelikheid saans het my oog ook ontgaan
maar vir eers was confetti genoeg

Tot die vurige vloed van haar arms afdruip
En die waarheid stort onstopbaar neer
Na die klimaks van hierdie ontkleedans
lê bewyse daaronder soos botter gesmeer

Friday, October 23, 2009

Notenjag

Die groen bome regs agter, is neubome
Die foto is nie heeltemal skeef nie. Ons het vandag agtergekom presies hoeveel opdraande daar in Nederland is.
'n Duidelik manlike engel
Nadeel van herfs

Nederlands vir neute is noten. Een van my medewerkers het my vertel hoe hulle elke herfs op 'n notenjag gaan. Want baie mense se bome hang oor die sypaadjies (stoepen) en munisipaliteite plant hele lanings vol van die goed. Gewapen met ons fietse gaan ons toe vandag op 'n ekspidisie. 2 (wat ek vermoed) Kastanjeeneute en omtrent 12km verder... Maar vandag was 'n pragtige redelik windstil sonnige dag. Om uit te kom was absoluut die moeite werd.

Ons het in die rigting van Madurodam verby die neutbome by Stadhoudersplantsoen waar die IND is, gery, tussen die natuurlike bos deur tot by die park daarnaby. Ons reis is deur Scheveninge voortgesit en ons het 'n welverdiende water langs die see sit en drink. Op ons terugreis het ons uitgevind dat, nes die supermarkte, ook Gamma (soos Builders Warehouse) nie steenkool vir braai aanhou nie, maar dat die liewe Shell garage hier naby ons huis dit wel in voorraad het. Ons beplan 'n braai vir Rods se verjaarsdag, sien.

Nou moet ek gaan huis skoonmaak. 'n Ou laarskool pel van Rods kom kuier more oggend vroeg-groeg al by ons, slaap die aand oor en gaan Sondagmiddag terug na sy hotel naby Schippol toe. Hy is hier vir 'n kursus en al wat hy van Nederland gesien het, is die 1 km van die lughawe tot by sy hotel toe. Shame. Nou gaan ons hom Den Haag en Delft gaan wys en as hy gelukkig is, ook 'n windmeul iewers. Maar nou, eers die huis regtrek.

Sunday, October 18, 2009

Rachid se verjaarsdagpartytjie

Malibu en sprite
Pina colada
Laté
Cranberry sap

Gisteraand was Rachid se verjaarsdagpartytjie. Nes Thinus s'n in Junie, was dié 'n multikulturele affêre. Met min of meer dieselfde mense ook. Ons het spesiaal nie fiets gery daarheen nie. In Nederland mag jy obviously nie jou kar bestuur wanneer jy bo die wettige alkohol limiet is nie. Maar, as hulle jou vang fietsry bo die limiet, vat hulle ook jou lisensie af. Jy is dan op die pad en dus 'n gevaar vir jouself en ander weg-gebruikers... Stap mag egter wel.

Ons was om twintig oor sewe by Thinus. Die laaste gaste het hier by 11uur se kant opgedaag. Intussen het Thinus verbasend suksesvol kroegman gespeel. Daar was Jihads (nogal snaaks, want Arabiere drink mos nie - mind you, die wat op die partytjie was, was nie so gesteld op die Koran nie, en hierdie drankie het nogal voorkeur gekry...) Pina coladas en onnugter weet wat nog alles. Meestal vodka, rum of malibu gebasseerd. Dat ek tot 2uur gehou het, is 'n absolute wonder.

Maar ek het die aand onskuldig begin met 'n surerige cranberrysappie. Daarna nog steeds in die onskuldige spektrum Thinus se baie grand koffiemasjien beveel om vir my 'n laté uit te spoeg. Ek was bietjie verras oor ek dit in 'n glas kry, maar dit was 'n lekker temperatuur en het nie bygevoeg tot nou-die-aand se blasie wat ek by die oond opgedoen het nie. Maar toe word ons dors...

1 Pina colada, drie Malibu en Sprite, 2 glase water en nog 'n cranberry sappie later, was dit 2uur. Intussen had ons sop en vleisbrood vir voorgereg. Met 'n ongelooflike hoofgereg van lamsvleis en pampoen, marrow gebak, aartappel gratin en aubergine en mince later, was poeding nog nie naastenby in sig nie.

Maar dit was 2uur en ek was moeg. Die Marokkane het gedans en simbale geslaan, Rods en die baster Italiaan-Engelsman het kopstukke sit en gesels. Ek het met een van die ander Suid-Afrikaners, Riaan, sit en klets. Hy moet nou Spaanse lesse neem, want sy ander helfte is Spaans en in die klompie jaar wat hy in Nederland is, het hy nog nie eens Nederlands geleer nie, so die Meditereinse (of is dit met 'n lang y?) taal kom maar moeilik aan.

Ek is nuuskierig wat toe vir poeding was. Gelukkig het Riaan aangebied om ons huistoe te bring. Net so oor die 3km is 'n entjie as mens lankal lus is vir slaap, so ek het mooi dankie gesê. Nou weet hy sommer waar ons bly. Hulle is uitgenooi vir Rods se verjaarsdagpartytjie oor 3 weke. Die gaan seker 'n braai wees. En poeding gaan defnitief opgedis wees voor 2uur.

Saturday, October 17, 2009

Herfshare


My kop is mos onder die indruk dat dit eintlik 'n boom is. Teen die spoed is ek bles voor ek 40 is. Die silwer randjie is dat tussen die uitval-hare ook silweres is.

Monday, October 12, 2009

Weird en Wonderful goeters uit de Bijenkorf




As die in die kinderafdeling was, het dit meer sin gemaak. Aan die ander hand (met die ander vingers) dalk is dit ons eie fout as ons onsself toelaat om te volwasse te raak om met die kombuisgoed te speel.

Bekers





Sonder die foto's hoe sou jy die beskryf? Die onderste engelbekertjies met die rubber vlerkies is nog maklik(erig), maar die ander wat lyk soos iets wat uit 'n roomysmasjien gegiet is, is ietwat meer van 'n uitdaging.

Matwas



Harde werk - veral synde die geel masjientjie nie mooi op die trappe pas nie. Dit help ook nie enorm dat hy off-center is nie. Maar boy oh boy hy haal vlekke uit ons matte uit wat ek vas geglo het daar sou bly tot Armageddon toe. Tnx Thinus. Die leen van die wasser is ten minste drie braaie werd.

Saturday, October 10, 2009

Herfs mymeringe


Wanneer die bome soos verlepte Afrikanerblommetjies lyk
En die strate in dik bruin tapyte gehul word
Wanneer die afgewaterde lug met wolkkomberse bedek word
en die hoeke met huilwind gevul word
Wanneer die byt in die lug vennyniger hap
en die baadjie gerits word tot bo
En die stewels en serpe hul buiging kom maak
dink ek aan liefde, hoop en glo
Liefde so breekbaar so teer, tog so sterk
Geloof wat jou selfs uit die hel uit kan trek
Maar hoop, sy's 'n helsim, 'n brute barbaar
en tog bly ek hoop op nog 'n voorjaar

One month into the diet


Na vier weke proe alles na wortels. Regtig!

Broodjie uit die oond


Ons eerste poging tot broodbak. Yum.

Saturday, October 3, 2009

Duurder bewakers van die raspers


Ons was vandag in die Bijenkorf; die baie duur winkel waar alles en nog wat te koop is. Dit is hulle Drie Dwase Dae. Lyk my geld koop nie noodwendig smaak nie. Aan die ander hand - smake verskil. En dwaasheid kom met 'n prys.