Wednesday, December 31, 2008

New year - met 'n Bang




"No more champagne," sing ABBA, "and the fireworks are through. Here we are, me and you, feeling lonesome; feeling blue..."

I wish.

In Nederland is vuurwerke (ook) illegal behalwe vir die vier uur om Nuwejaar. Dit het niemand verhoed om van de Kerst af so aan en af 'n geraas te maak nie. Vanoggend by die werk het ek gedink die Duitsers val ons weer in. Later toe ons rondgeloop het in Leiden, het ek gesien dis tienerseuns met klappers groter as sigare wat hulle met 'n allemintige lawaai op die grond neersmyt. Eintlik was die geraas 'n paar oomblike nadat dit neergemyt is. Klink soos 'n haelgeweer wat hier langs jou leeggemaak word. Dit was die begin...

Twee ure voor middernag het die klappers non-stop begin dawer. Middernag kon niemand mis nie. Die raserige maar boring klappers is gelukkig met mooi vuurwerke vervang toe die nuwe jaar opdaag. Maak nie saak in watter rigting ons kyk nie, die lug is steeds versier. Ons sukkel om in ons "klankdigte" huis 'n normale gesprek te hê en dit is nou al 'n uur na middernag...

Die foto's op dese blog is nie vreeslik artisties nie. Die bedoeling is kwantiteit, nie kwaliteit nie. Al drie is uit ons huis uit geneem. Ek is heeltemal te senuweeagtig om die ruite oop te maak en ons max vandag was -4, so, ja... Daar moet onthou word dat dié nie georganiseerd is nie. Elke vuurwerk word deur elke Jan Rap afgeskiet. Net Jan Rap. Sy maats is besig met hulle eie vuurhoutjies.

Wel, dis 'n Nuwe Jaar. 'n Nuwe begin en al die mooi goed wat mens op kaartjies lees. No more champagne and the fireworks are not quite through...

Sunday, December 21, 2008

Somerkersfees


Welkom, o stille nag van vrede,
onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis.
Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye vertel die ou verhaal.
Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Voel jy ook nou sy warm liefde as ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het – ons grootste Kersgeskenk.
Christus kom, Christus kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

- Koos du Plessis

Waar Dawid die wortels begrawe het

Waarom sou Dawid wortels wou begrawe? Wortelstokke verstaan ek uit 'n botaniese oogpunt; dié is immers ondergrondse stingels wat tot nuwe plante kan lei, maar wortels? Wortels?

Ek gaan einde Februarie/begin Maart bietjie Kaapstad toe vir net bietjie meer as 'n week. As ek poëties wil klink, kan ek vertel dis om my wortels te gaan opsoek, maar ek weet wat die waarde van 'n wortel is. Wortels word gebruik om te spaar vir die maer tye, die droë tye en die tye wanneer dinge nie noodwendig gaan soos wat jy dit sou wou hê nie. Wortels word ook gebruik om die maer tye en lywe bietjie aan te help. Daar is die wortel van alle kwaad, die vierkantswortel, die wortels wat mens moet gaan soek, dié wat sommer by Pick n Pay beskikbaar is, die witwortel, die ding wat jou tande aan jou kake heg, die wortels wat Dawid begrawe het en die goed wat wortel en tak uitgeroei moet raak.

Ek het dit miskien nie broodnodig om 'n draai in my geboorteland te gaan maak nie, maar ek het dit wortelnodig.

Tuesday, December 16, 2008

Stock taking

As student het ek en my woonstelmaatjie vir Studentwise gewerk. Ons het ons geld op die straathoeke verdien deur pamflette uit te deel en tot in die kleiner ure van die nag gewerk as kelners of by stock takings - wat ons verafrikaans het tot stokke tel. Nou is dit amper Kersfees; amper Nuwejaar. En ek tel die stokke van my lewe op en bou 'n huisie wat die wolf dalk maklik sal kan omblaas.

Miskien is dit net hierdie week, maar my moed en weerbaarheid is laag. Dit voel asof ek myself iewers langs die pad verloor het. My persoonlikheid het van ekstrovert na nugter weet wat verander. Wat is die Afrikaans vir confidence? Ek het in elk geval myne verloor en maak nie saak hoe ek daaroor dink nie, ek kan nie 'n konkrete rede vir die verandering vind nie. Ja, die taal is anders, maar ek kan myself verstaanbaar maak, maar tog swyg ek meestal. Dis nie hoe ek myself ken nie.

Hoe kan mens terselfdertyd so gelukkig en so ongelukkig wees? Ek sal dit nooit aan Rods kan doen om daarop aan te dring dat ons moet terug na waar die son skyn nie. Hy is sielsgelukkig hier en ek is gewoonlik heel tevrede om hierdie kans om in die vreemde te kan woon en werk te kan benut. Ons toer, ons beleef goed waarvan ek maar kon droom. Nou wie en wat wil ek nog hê om regtig gelukkig te wees? Of is ware geluk een van die dinge waarna mens streef, maar nooit werklik besit nie?

Sunday, December 14, 2008

Simfonie konsert




Dis bitter koud hier op die oomblik. Vandag se max was 'n volle 1 graad. Môre lyk nie veel beter nie. Vrydagaand was self nader aan Eskimoweer as wat ek gewoonlik van hou. Maar dit het ons nie gekeer om Dordrecht toe te gaan nie. Merel van my kantoor speel (tweede) viool in die Dordrechtse amateur simfonie orkes en toe sy met kaartjies by die werk opdaag, het ek sommer vinnig gekoop. Dis kos vir die siel.

Dit was ysig daarso. Ons het sommer dadelik gery toe ek by die huis opgedaag het en was dus albei moeg en moeilik en redelik honger. Gelukkig was daar 'n restaurantjie by die teater en ons het daar nogal lekker geknibbel voor ons gaan orkes luister het. Soos dit met alle Nederlandse do's gaan, was daar 'n lang speech aan die begin. Eers deur die orkesleier en daarna deur die burgemeester. Die orkes is die jaar 125 jaar oud en ons het 'n lang relaas aangehoor oor die geskiedenis - soos dat die ouens in die oorlog op volmaannagte moes oefen agv 'n verpligte ligte-uit alle nagte. Voor al die gepratery het die hobo-speler opgestaan en almal het hulle instrumente ingestem. Rods weet ook nie waar die tradisie vandaan kom dat dit juis die hobospeler moet wees nie, maar ek is seker as ek oom Google vra, sal dié wel weet.

Die eerste stuk was nie so mooi nie en die mense het maar polite hande geklap. Die tweede stuk, was 'n stuk van Rachmaninov en is deur 'n solis (op die klavier) Eliane Rodriques gespeel. Sy was absoluut briljant. Die musiekstuk begin op dieselfde wysie as Celilne Dion se All by myself tot net voor die koortjie. Dit was amazing. Die klavierspeler het die interessantste skepping gedra. Dis 'n griekse rok met die twee los stukke wat voor afhang tot op die grond, maar in 'n diep en kleurvolle oranje wat van kleur verander soos sy beweeg. Die encore daarna, was heeltemal eg.

Na pouse het ons na die laaste twee stukke (beide deur Russiese komponiste) geluister. Die dirigent is 'n Rus wat seder 76 (my geboortejaar) al by die orkes betrokke is, so dis seker te verstane dat hy van Russiese musiek hou. Na afloop van die konsert het ons ons baadjies van die oorvol rakke gaan afhaal en huis gekry. Dis vir my die vreemdste gedagte. Omdat die vertrekke almal verwarm is, hang mens jou baadjie aan die kapstokke by die deur op en glo vas dat as jy 'n paar uur later dit gaan soek, dit steeds daar sal wees. En dit is. Ek dink ek het vertrou-issues wat ek saamdra. Mensbagasie. Maar ek dra ook ligte note en vreugde met my saam. En dié is lig.

Tuesday, December 9, 2008

Memories

2003 vs 2008 Nie veel het verander nie

2003 - Greenwich

2003
2008

Ons was in Maart 2003 in London. Vyf en 'n half jaar gelede. Time is fun when you're having flies...

London






Wat 'n heerlike, maar koue langnaweek! Ons het Donderdagoggend douvoordag al by die stasie gewag vir die internasionale trein België toe. In Brussels was die paspoortkontrole om op die Eurostar te klim amper so streng soos op vliegtuie, maar ten minste is ons bagasie nie geweeg nie. En kan daardie trein nou vir jou hardloop! Dit lyk of die karre geparkeer is langs jou en as 'n ander Eurostar van voor af verbyjaag, neem dit so bietjie minder as twee sekondes vir die twee om hallo en babaai te sê.

Ons was die naweek regte toeriste. Het foto's van Big Ben om dit te bewys. Ons het vir 'n spin op die oog gegaan, het op die dek van die toeristebus foto's geneem, het die boot al in die Teems af tot by Greenwich gevat en het Burger King geëet.

Tussendeur was ons aande vol kuier en lag. Ons het die Smiths, vir Kelly-hulle, Andy en Suzaan en hulle pragtige seuntjie gesien. Ons het saam met Catherine gaan suikderoordosis kry by 'n lekker roomysplek en het een môre eers na drie by die hotel aangesuiker nadat ons agtergekom het dat die nagbusse se skedules meer van 'n guidline is...

Daar was maar min geslaap, want ontbyt was van 7 - 9 en 9uur sluit daardie kombuisie onverbiddelik dig. So min as daar geslaap is, so veel is daar geëet en gestap. Ek dink ek het ewe veel gewig opgetel agv die spiere wat ek gebou het as die onwettige kalorië wat ek ingeneem het. Maar elke sekonde was die moeite werd.

Dit was heerlik om in 'n winkel in te stap en iets anders as plein of paprika chips te sien. Daar is 'n onbeskryfbare vreugde om tee met melk en suiker te kry sonder om spesifiek vir die laaste twee bestandele te vra. Daar is winkels groter as die corner cafe's wat hier as supermarkte deurgaan en die verskeidenheid het my amper tranerig gehad. Selfs die kleredrag is meer Suid-Afrikaans en ek het 'n tydjie in Marks en Spencers spandeer en verlang na Woolies.

Sondag het ek 32 geraak. Dis vir my 'n lelike getal, maar nie 'n sleg ouderdom nie. Ek het nie 'n idee wat hierdie jaar inhou nie, maar dan, wie het 'n idee wat die volgende dag inhou? Dalk is dit 'n jaar van reis, 'n jaar van kennis versamel, 'n jaar van vreugde. Mens kan net hoop.