Tuesday, December 9, 2008

London






Wat 'n heerlike, maar koue langnaweek! Ons het Donderdagoggend douvoordag al by die stasie gewag vir die internasionale trein België toe. In Brussels was die paspoortkontrole om op die Eurostar te klim amper so streng soos op vliegtuie, maar ten minste is ons bagasie nie geweeg nie. En kan daardie trein nou vir jou hardloop! Dit lyk of die karre geparkeer is langs jou en as 'n ander Eurostar van voor af verbyjaag, neem dit so bietjie minder as twee sekondes vir die twee om hallo en babaai te sê.

Ons was die naweek regte toeriste. Het foto's van Big Ben om dit te bewys. Ons het vir 'n spin op die oog gegaan, het op die dek van die toeristebus foto's geneem, het die boot al in die Teems af tot by Greenwich gevat en het Burger King geëet.

Tussendeur was ons aande vol kuier en lag. Ons het die Smiths, vir Kelly-hulle, Andy en Suzaan en hulle pragtige seuntjie gesien. Ons het saam met Catherine gaan suikderoordosis kry by 'n lekker roomysplek en het een môre eers na drie by die hotel aangesuiker nadat ons agtergekom het dat die nagbusse se skedules meer van 'n guidline is...

Daar was maar min geslaap, want ontbyt was van 7 - 9 en 9uur sluit daardie kombuisie onverbiddelik dig. So min as daar geslaap is, so veel is daar geëet en gestap. Ek dink ek het ewe veel gewig opgetel agv die spiere wat ek gebou het as die onwettige kalorië wat ek ingeneem het. Maar elke sekonde was die moeite werd.

Dit was heerlik om in 'n winkel in te stap en iets anders as plein of paprika chips te sien. Daar is 'n onbeskryfbare vreugde om tee met melk en suiker te kry sonder om spesifiek vir die laaste twee bestandele te vra. Daar is winkels groter as die corner cafe's wat hier as supermarkte deurgaan en die verskeidenheid het my amper tranerig gehad. Selfs die kleredrag is meer Suid-Afrikaans en ek het 'n tydjie in Marks en Spencers spandeer en verlang na Woolies.

Sondag het ek 32 geraak. Dis vir my 'n lelike getal, maar nie 'n sleg ouderdom nie. Ek het nie 'n idee wat hierdie jaar inhou nie, maar dan, wie het 'n idee wat die volgende dag inhou? Dalk is dit 'n jaar van reis, 'n jaar van kennis versamel, 'n jaar van vreugde. Mens kan net hoop.

No comments:

Post a Comment