Tuesday, December 16, 2008

Stock taking

As student het ek en my woonstelmaatjie vir Studentwise gewerk. Ons het ons geld op die straathoeke verdien deur pamflette uit te deel en tot in die kleiner ure van die nag gewerk as kelners of by stock takings - wat ons verafrikaans het tot stokke tel. Nou is dit amper Kersfees; amper Nuwejaar. En ek tel die stokke van my lewe op en bou 'n huisie wat die wolf dalk maklik sal kan omblaas.

Miskien is dit net hierdie week, maar my moed en weerbaarheid is laag. Dit voel asof ek myself iewers langs die pad verloor het. My persoonlikheid het van ekstrovert na nugter weet wat verander. Wat is die Afrikaans vir confidence? Ek het in elk geval myne verloor en maak nie saak hoe ek daaroor dink nie, ek kan nie 'n konkrete rede vir die verandering vind nie. Ja, die taal is anders, maar ek kan myself verstaanbaar maak, maar tog swyg ek meestal. Dis nie hoe ek myself ken nie.

Hoe kan mens terselfdertyd so gelukkig en so ongelukkig wees? Ek sal dit nooit aan Rods kan doen om daarop aan te dring dat ons moet terug na waar die son skyn nie. Hy is sielsgelukkig hier en ek is gewoonlik heel tevrede om hierdie kans om in die vreemde te kan woon en werk te kan benut. Ons toer, ons beleef goed waarvan ek maar kon droom. Nou wie en wat wil ek nog hĂȘ om regtig gelukkig te wees? Of is ware geluk een van die dinge waarna mens streef, maar nooit werklik besit nie?

No comments:

Post a Comment