Sunday, December 21, 2008

Waar Dawid die wortels begrawe het

Waarom sou Dawid wortels wou begrawe? Wortelstokke verstaan ek uit 'n botaniese oogpunt; dié is immers ondergrondse stingels wat tot nuwe plante kan lei, maar wortels? Wortels?

Ek gaan einde Februarie/begin Maart bietjie Kaapstad toe vir net bietjie meer as 'n week. As ek poëties wil klink, kan ek vertel dis om my wortels te gaan opsoek, maar ek weet wat die waarde van 'n wortel is. Wortels word gebruik om te spaar vir die maer tye, die droë tye en die tye wanneer dinge nie noodwendig gaan soos wat jy dit sou wou hê nie. Wortels word ook gebruik om die maer tye en lywe bietjie aan te help. Daar is die wortel van alle kwaad, die vierkantswortel, die wortels wat mens moet gaan soek, dié wat sommer by Pick n Pay beskikbaar is, die witwortel, die ding wat jou tande aan jou kake heg, die wortels wat Dawid begrawe het en die goed wat wortel en tak uitgeroei moet raak.

Ek het dit miskien nie broodnodig om 'n draai in my geboorteland te gaan maak nie, maar ek het dit wortelnodig.

No comments:

Post a Comment