Monday, June 30, 2008

Sick and tired

Ek weet presies wanneer laas ek so goor gevoel het. Dit was na 'n kwart bottel tequila. Ek het die volgende dag in die letterlike sin gal gebraak. Geles. Eugh. Vandag se siekwees het nie so 'n glorious aanloop gehad nie. Ons is gister parkpop toe. Ek sal later foto's opsit. Was heerlik. Kwartmiljoen mense. Na die tyd by Thinus gekuier en dit was awesome. Net voor 12 huistoe gekom. Die res van die aand was... interessant en besig. Twee siekes in een huis is 'n resep vir interssantheid. Dis nou al weer amper 12uur die volgende aand en ek voel nou eers weer half mens; of halfmens. Dink ek gaan immodium by my lysie van rate sit, maar eers môre. Dink ek wil weer gaan omkap. Dink ek moet weer.

Friday, June 27, 2008

Onderhoud in 90 minute

Vandag het ek vir 'n onderhoud by die universiteit van Leiden gegaan. Dit was 'n goeie een. Of ek die werk gaan kry of nie, dit weet ek nie, maar ten minste het die onderhoud goedgegaan. Ek moes met een prof en twee doktors gesels en ons gesprek was 'n mengsel van Nederlands, Afrikaans en bietjie Engels. Die pos is vir 'n genetiese analis. Hulle was heel eerlik met my en het my vertel hulle sou eerder graag studente van hulle Universiteit wou aanstel as vir my. Dit begryp ek. Ding is, hulle het drie poste oop. As hulle hulle eie mense kon aanstel, het hulle al... So nou hou ek duimvas en bid vir 'n lekker werk. Ek dink die feit dat die onderhoud so lank geduur het, is hoop-wekkend. En daar is mos geloof, hoop en liefde. En hoop is die middelste een. Mooi toegevou tussen die ander twee.

Sunday, June 22, 2008

Kerk

Ek is vanoggend na die Betlehemkerk hier naby ons toe. Was redelik senuweeagtig oor wat se kerk dit is, want dit sê nie buite nie. Moet sê ek was verras en gelukkig toe ek uitvind dat dit 'n herformde kerk is. En wat is 'n Nederlandse Herformde kerk nou eintlik anders as 'n Nederduits Gereformeerde kerk? So ek is, na al my omswerwinge deur verskeie kerke en stede - ook halfpad oor die aardbol heen - terug in die NGK.

Vanoggend se diens was oor vergifnis. Vergifnis van alle sonde. Die wat klaar gedoen is, besig is en die wat nog kom. Die van daad, woord, denke en versuim. Dis 'n verskriklike klomp. Daarmee saam gooi die dominees toe die versie wat sê niks kan ons van God se liefde skei nie. Niks. Nie eens ons sonde nie. Ek sal dit graag in diepte wil bespreek met iemand wat baie tyd het.

Choo Thomas het 'n boek geskryf 'Die hemel is 'n werklikheid'. Ek is die week herinner daaraan dat die hel ook 'n werklikheid is en dat almal die ewige lewe kry, party kry dit net in die hel. 'n Ewigheid van pyn en smart - en dit hou nooit op nie. Dis 'n skrikwekkende gedagte vir my, want ek ken te veel mense wat nog nie hulle saak met God reggemaak het nie. Party dae is dit ek ook.

Saturday, June 21, 2008

Penny


Wat op hierdie lemoenronde aarde dink daardie swart katjie aan die linkerkant van die kanaal?

Die vensters van die siel

Die oë is die vensters van die siel; seker daarom dat dit soms nodig is om hulle ordentlik skoon te was. Om beter te kan sien, my kind.

Ek sit en wik en weeg oor 'n werk. Dis by 'n dagga-kwekery en synde die Nederland is, is dit heel wettig en kan ek my nou al die jaareindfunksies indink... Probleem is net, as ek nou die dag besluit om van werk te verander, hoe verklaar ek die paar jaar in die ... uhm... farmaseutiese bedryf? Dink ek moet nog 'n bietjie dink daaroor.

Foto's



Thursday, June 19, 2008

Niet vies


Vandag is 'n vol dag op ons kalender. By verjaarsdae is daar Thinus, Deneys en Catherine. Dis ook Ruby en Deneys se 10 jaar huweliksherdenking. Terwyl die twee Kapenaars oor die aardbol versprei is en Catherine iewers in Engeland is, is ons vannaand na Thinus toe. Dit was 'n heerlike aand! Rachid het vir ons kos gemaak en synde hy 'n kok van beroep is, kan ek aan 'n magdom woorde dink om die kos te beskryf.

Tracie is Engels, maar haar man Mark is Nederlands. Tracie verstaan nou al heelwat Nederlands, maar praat dit nie eintlik nie. Rachid is Morrokaans en praat ook Nederlands, maar nie Engels nie. So sit en beskryf Roderick en Tracie die kos en hulle put diep in die Engelse skatkis van byvoeglike naamwoorde in. Mark en Thinus vertaal so in die verbygaan.

"It's delicious," sê Tracy van die voorgereg. "Heerlik" vertaal Thinus. "Niet vies," vertaal Mark. Vies is as iets sleg is; niet vies dus as iets nie is nie. So deur die aand het ek heelwat woorde gehoor wat almal ekonomies deur Mark vertaal is. Nou weet ek dat "delicious, yummy, tasty, aromatic, succulent, marvelous, very good, orgasmic, spicy, soooo good, divine, beautiful, lekker en sweet" almal 'niet vies' is. Goed om te weet. Nou kan ek my lewe ordentlik en breedvoerig beskryf. Niet vies.

Ons moes hardloop om die laaste nr 12 nagtrem huis toe te vang, maar het dit gelukkig gemaak. Oppad gesien die maan is groot en geel. (Niet vies) Rods is gou hier uit om volmaanfoto's te gaan neem. Nou dat hy 'n tripod het, behoort dit baie mooi uit te kom. Ek lê natuurlik nou al vir twee aande wakker en hoop om nie vannaand weer luny te wees nie. Dit sal echt vies wees as ek weer moet wakkerlê...

Reëndag


Son-blomme teen 'n reën agtergrond.

Wednesday, June 18, 2008

Om te laat gaan


Hoe rou is my siel voor die wêreld vandag?
Hoeveel koppies tee, hoeveel baddens, hoeveel disprins en hoeveel slaap
voor hy uiteindelik weer heel sal wees?
Hoeveel hoekoms, hoeveel hoe's en hoeveel selfverwyt
voor ek weer heel sal wees?
Hoe sterk dink jy is ek?
Hoe durf jy my hieraan onderwerp?
Hoe durf ek myself hieraan onderwerp?
Ek kan jou nie haat nie
en kan jou nie liefhê nie
en kan jou nie laat gaan nie.
Nie nou al nie.
Maar wanneer dan?
Dit is, afterall, makliker om iemand aan die dood as aan die lewe af te staan...

Tuesday, June 17, 2008

Boererate


Die man wat my lewe deel, het my vanoggend baie skeef aangekyk, sy kop geskud en homself in die virtuele wêreld gaan versteek; daar waar dinge sin maak. Al wat gebeur het is dat ek my pantoffels gaan soek het, want ek het maagkrampe. Boereraat. Toe dink ek natuurlik die res van die oggend aan 'n hele swetterjoel ander rate wat oor die jare hulle weë tot in my geheue gevind het. Mooi daar gebly tot ek begin tik het. Toe vlug hulle weer.
  • Eet wortels. Dit gee jou krulhare (en laat jou in die nag sien...)
  • Eet pampoen, dit gee jou mooi rooi wange.
  • Popeyespiere kry mens net van spinasie...
  • Magnesium laat jou beter onthou. Eiers ook.
  • Malvablare werk vir tandpyn en oorpyn.
  • 'n Warm katvel help teen nierpyne. ('n Gewone kat werk ook as warmwaterbottel - mits jy die kat kan oortuig om lank stil te lê op die regte plek.)
  • Knoffel hou verkoue weg. (Op 'n indirekte manier. Jy ruik so sleg dit hou die mense met die viruse weg van jou af en jy bly dus gesond. Werk goed as diëet ook. Mense kom nie naby jou nie en op 'n afstand lyk jy maer)
  • Heuning en suurlemoensap werk vir 'n seer keel
  • Heuning en Turlingtons werk vir 'n maagseer
  • Moenie op 'n koue stoep sit nie; jy gaan aambeie kry.
  • Smeer botter aan 'n brandwond
  • Drink disprins as jy sonbrand het
  • Drink disprins as jy hartseer is
  • Drink ook disprins as jy iewers heen vlieg
  • Lê in 'n warm bad as jy sonbrand het (kry vir jou, jou wou mos...)
  • As jou maag ongesteld is, eet wit kos
Dan is daar natuurlik nog bygelowe ook wat te make het met sout oor jou linkerskouer en dat jy moet wegbly van swart katte, Vrydag die 13de en lere. Ek dink eye of newt en haaspote kom ook iewers in die lysie in.

Maar ek bly by my tried and trusted raad en raat:
  • Bid
  • Bad
  • Slaap
  • Tee
Meer kan ek nie gee nie. Meer is nie nodig nie.


Monday, June 16, 2008

Oor sokkies en eau de cologne

Wanneer mens in die Bybelse sin een word, wanneer die 'ek' met 'ons' vervang word, vervaag wat jy was tot 'n haas onsigbare vaag onthoude beeld. Dit het my amper drie maande van appart wees gekos om myself te herontdek. Met Rods in Holland, het ek vir nog 'n paar weke kos vir twee gemaak (nee, nou lieg ek, kos vir twee + die menigte wat defnitief een of ander tyd daar sal opdaag). Maar ek het nie grondboontjiebotter gekoop nie, want ek hou nie daarvan nie. Dit het nog 'n paar weke gevat voor die hi-fi redelik luidrugtig begin Hooked on Classics, Billy Joel, Steve Hofmeyr en Laurika Rauch blêr het. Wat my gedra het op die road trip Kaap toe en terug, was die vier Mp3-cds van my gunstelinge; die musiek wat Rods se wenkbroue laat lig. En ja, ek het saamgesing. Hard.

Wat my nou weer terugbring by die 'ons'. Wanneer mens lank genoeg in 'n verhouding is, doen mens allerhande dinge vir 'julle'. Jy klim die berg (en spring van hom af), kyk die fliek, luister die musiek en doen die dinge wat jy dink die ander een van hou. Vir hom. Vir haar. En wanneer jy eendag onvergenoeg is, peul dit in 'n rusie uit. Net sodat jy dan eers, jare later, kan uitvind dat die ander helfte ook nie daarvan gehou het nie, maar dit vir jou gedoen het...

Om so 'n rusie te vermy, vra ek toe vandag my ander helfte van ons 'ons' of hy darem van sokkies hou. Sien, ek hou van sokkies en sjokolade en blomme en lekkerruikgoed en sjokolade - het ek al sjokolade genoem?- en onderklere en uhm, ja... Nou waar was ek.? Sokkies. Ek gee vir Rods sokkies omdat ek daarvan hou - en omdat ek dit dra as hy nie kyk nie. Vir sy verjaarsdag en Kersfees kry hy darem ander presente :) Ek wou al vir hom van die lekkerruikgoed vir mans ook kry, maar hy het altyd nee gesê as ek wou koop. Nee sê is 'n gevaarlike besigheid, want ek sê soms nee, selfs vir sjokolade, maar dit beteken nie hy moenie oor 10 minute terugstap winkel toe en dit tog maar gaan kry nie.

So het ek en Rods toe vandag op ons stappie langs die see 'n TALK gehad. Oor goeters wat mens doen vir mekaar se part en presentjies en alles. Rods sê hy hou van sokkies; nie noodwendig so baie soos wat ek daarvan hou nie, maar ja, sokkies kan gaan. "En eau de cologne?" vra ek. "Kom ek stel dit so," sê my man, "ek hou meer van sokkies..."



Fraaie bloemen



Dis al middel Junie. Vandag is jeugdag in SA. Ek mis nogal al die vakansiedae. Die Nederlanders is maar suinig met tuisblydae; seker die dat hulle die wat hulle wel het so oordadig benut.

Ek het my ogies gefladder en nou het ons allerhande lewendige goedjies in die huis. Die soort wat water wil hê. Sover het ons twee kaktussies, 'n batflower, 'n brumeliad, 'n orgidie vir die badrand en 'n baberton-daisy. Ek het iewers gelees dat lg die enigste blom is wat na 'n dorp vernoem is.

Verder lyk dit asof die aankoop van 'n blompot 'n goeie belegging was. Is daardie thistles met hulle blou hartjies nie pragtig nie? Sover is Nederland 'n land van blomme, kaas en, helaas, nog geen werk nie. Maar een van die dae.

Sunday, June 8, 2008

Voetspore


Is daar iemand wat nog nie die gediggie van Voetspore gelees het nie? Ek het oor die jare dikwels die kaartjie ook saam met 'n present gekry en kan dit seker in verbatim opsê. "En daar waar jy net die een ry spore sien, is waar Ek jou gedra het, My kind..." Ek reken ek is al so baie in my lewe gedra ek weet nie regtig meer hoe om self te loop nie.

Maar dit nou klaar gesê, ek loop my bene stomp. Saterdag is ons Kijkduin toe. Tot by Westduinpark gestap. Oppad die mooiste drie swane (pa, ma en die ugly duckling) gesien. In Westduinpark het ons tot by die hoogste punt geklim, die kraaie besigtig en toe al die pad tot by Kijkduin op die strand geloop. Ek kom agter my linkervoet gee al meer probleme, veral as ek kaalvoet op die sagte sand loop. Rods reken ek het spesiale skoene nodig en moet so ver moontlik wegbly van enige operasie af. Ek dink nie hy is verkeerd nie, maar ek is nou eers 31 en wil nie regtig nou al ouantieskoene dra nie.

Ons het vandag na die 'kunswerk' naby Catz-straat gaan kyk waar die mini teen die kant van 'n gebou parkeer is (natuurlik weer ge-potifar). Daar is mooi strepe geverf soos op 'n regte pad en 'voila' daar sit die karretjie drie verdiepings die lug in. Kyk op my vorige blog vir 'n prentjie. As jy in Nederland 'n geregistreerde kunstenaar is en dit jou manier is van geld verdien, koop die staat glo 10% van jou kuns elke jaar. Dit help jou en as jy om een of ander rede rich en shameless word, het hulle darem 'n belegging gemaak. Dit veroorsaak natuurlik dat al wat parkie is, oorloop van weird en wonderful beeldjies (en sommige geboue karre teen die kante kry...) Ek dink dis tog te oulik. Moet een of ander tyd 'n folder op picassa sit van 'weird and wonderful statues'.

Die voetbalseisoen begin môre. Dit beteken dat Holland weereens oranje raak. Ons gaan die aand by Mark en Tracie braai en dan later sokker kyk. Ek dink ek gaan later wil huis toe kom :) Vir die laaste paar weke al sit mense vlaggies op en het elke winkel 'acties' (winskopies) op enigiets oranje. Dink die ergste vir my is die koeke wat met oranje versiersuiker versier is. Dit lyk net nie reg nie... Ag wel, ek hoop Holland wen. (teen wie hulle ook al môre speel...)




Rooi karre

Something old; something new...


... and something very weird

Wednesday, June 4, 2008

Onderhoud in 4 minute

Ek is vandag na my eerste onderhoud toe. Baie opgewonde gegaan. In 'n ander bui teruggekom, maar 'baie' feature ook in daardie bui. Die was net by die uitsendburo, so ek kan net dink hoe dit by die regte werke sal gaan. Telefonies het ek hulle vertel ek het nog nie die kredietkaart-grootte dingetjie wat dien as werks- en verblyfspermit nie, maar het die sticker in my paspoort wat dit verklaar. Het ook offisiële dokumente met 'n burgerservicenummer in. Daardie nommer kan jy slegs kry as jy 'n werkspermit het... Mooi, sê hulle, sien jou Woensdag 3uur.

Ek het 15:04 weer daar uitgewandel. Jammer, maar hulle kan nie stickers in die paspoort aanvaar nie en hulle eie departement se dokumente is nie offisiëel genoeg nie... Maar ek is welkom om hulle te kontak as ek eendag die klein kaartjie het... Dag

Tuesday, June 3, 2008

vakansies

Paragliding in Kaapstad


Niggies


Nou dat die waarskynlikheid op 'n werk al groter word, dwaal my gedagtes na die vakansies wat wag - en natuurlik die wat al verby is. Dié is die malste ding wat ek in 'n rukkie gedoen het. Het van 'n berg afgespring. Regtig. Ter wille van my pa se gesondheid het ek hom eers na die tyd vertel :) Tnx Heidi, dit was 'n dag in my lewe wat ek glad nie wil vergeet nie.

Monday, June 2, 2008

Ok, baai

Ek is een van baie kinders. Vier om presies te wees. Maar wat help al die familie jou as hulle nie met jou wil praat nie? Dis te laat om my pa te bel. Hy gaan slaap saam met die hoenders en staan saam met die koeie op. Terry Pratchet waarsku mens moet duidelik wees in jou beeldspraak, so dalk moet ek die herfraseer. Hy gaan slaap dieselfde tyd as die hoenders.... My kleinsus se foon hyl hyl hyl soos David Kramer se honne. Dit kan ek verstaan en vergewe. Jonk en besig. Maar my boeties; my liewe liewe boeties... Woon op die oomblik in dieselfde huis, so as ek daardie nommer bel, kan ek met albei praat, asook met my spaar-sussie en die twee kleintjies. Of so dag ek. Ek bel die nommer, hy lui so 'n paar keer en daar is antwoord! Oh joy, oh bliss. 'Hallo' sê ek en sit 'n glimlag in my stem. Hulle hoef nie te weet ek mis hulle so baie nie. "Ons het mense," sê die stem aan die ander kant. "Kan nie nou met jou praat nie. Ok, baai." Piiiiieeeep sê die telefoon in my oor.

Ek maak 'n internasionale oproep om hallo te sê... Dit gaan dwarsdeur Europa, seker onder die see langs Afrika af en kruip teen die land op al die pad tot by hulle - en hulle het nie tyd nie...
'...piep' sê my hart

Never blog when hungry, homesick or going piep

Sunday, June 1, 2008

Rooi rose

Love is the triumph of imagination over intelligence - HL Mencken



Clarity of mind means clarity of passion, too; this is why a great and clear mind loves ardently and sees distinctly what is loves - Blaise Pascal

Skadu's