Tuesday, June 17, 2008

Boererate


Die man wat my lewe deel, het my vanoggend baie skeef aangekyk, sy kop geskud en homself in die virtuele wêreld gaan versteek; daar waar dinge sin maak. Al wat gebeur het is dat ek my pantoffels gaan soek het, want ek het maagkrampe. Boereraat. Toe dink ek natuurlik die res van die oggend aan 'n hele swetterjoel ander rate wat oor die jare hulle weë tot in my geheue gevind het. Mooi daar gebly tot ek begin tik het. Toe vlug hulle weer.
  • Eet wortels. Dit gee jou krulhare (en laat jou in die nag sien...)
  • Eet pampoen, dit gee jou mooi rooi wange.
  • Popeyespiere kry mens net van spinasie...
  • Magnesium laat jou beter onthou. Eiers ook.
  • Malvablare werk vir tandpyn en oorpyn.
  • 'n Warm katvel help teen nierpyne. ('n Gewone kat werk ook as warmwaterbottel - mits jy die kat kan oortuig om lank stil te lê op die regte plek.)
  • Knoffel hou verkoue weg. (Op 'n indirekte manier. Jy ruik so sleg dit hou die mense met die viruse weg van jou af en jy bly dus gesond. Werk goed as diëet ook. Mense kom nie naby jou nie en op 'n afstand lyk jy maer)
  • Heuning en suurlemoensap werk vir 'n seer keel
  • Heuning en Turlingtons werk vir 'n maagseer
  • Moenie op 'n koue stoep sit nie; jy gaan aambeie kry.
  • Smeer botter aan 'n brandwond
  • Drink disprins as jy sonbrand het
  • Drink disprins as jy hartseer is
  • Drink ook disprins as jy iewers heen vlieg
  • Lê in 'n warm bad as jy sonbrand het (kry vir jou, jou wou mos...)
  • As jou maag ongesteld is, eet wit kos
Dan is daar natuurlik nog bygelowe ook wat te make het met sout oor jou linkerskouer en dat jy moet wegbly van swart katte, Vrydag die 13de en lere. Ek dink eye of newt en haaspote kom ook iewers in die lysie in.

Maar ek bly by my tried and trusted raad en raat:
  • Bid
  • Bad
  • Slaap
  • Tee
Meer kan ek nie gee nie. Meer is nie nodig nie.


No comments:

Post a Comment