Thursday, June 19, 2008

Niet vies


Vandag is 'n vol dag op ons kalender. By verjaarsdae is daar Thinus, Deneys en Catherine. Dis ook Ruby en Deneys se 10 jaar huweliksherdenking. Terwyl die twee Kapenaars oor die aardbol versprei is en Catherine iewers in Engeland is, is ons vannaand na Thinus toe. Dit was 'n heerlike aand! Rachid het vir ons kos gemaak en synde hy 'n kok van beroep is, kan ek aan 'n magdom woorde dink om die kos te beskryf.

Tracie is Engels, maar haar man Mark is Nederlands. Tracie verstaan nou al heelwat Nederlands, maar praat dit nie eintlik nie. Rachid is Morrokaans en praat ook Nederlands, maar nie Engels nie. So sit en beskryf Roderick en Tracie die kos en hulle put diep in die Engelse skatkis van byvoeglike naamwoorde in. Mark en Thinus vertaal so in die verbygaan.

"It's delicious," sê Tracy van die voorgereg. "Heerlik" vertaal Thinus. "Niet vies," vertaal Mark. Vies is as iets sleg is; niet vies dus as iets nie is nie. So deur die aand het ek heelwat woorde gehoor wat almal ekonomies deur Mark vertaal is. Nou weet ek dat "delicious, yummy, tasty, aromatic, succulent, marvelous, very good, orgasmic, spicy, soooo good, divine, beautiful, lekker en sweet" almal 'niet vies' is. Goed om te weet. Nou kan ek my lewe ordentlik en breedvoerig beskryf. Niet vies.

Ons moes hardloop om die laaste nr 12 nagtrem huis toe te vang, maar het dit gelukkig gemaak. Oppad gesien die maan is groot en geel. (Niet vies) Rods is gou hier uit om volmaanfoto's te gaan neem. Nou dat hy 'n tripod het, behoort dit baie mooi uit te kom. Ek lê natuurlik nou al vir twee aande wakker en hoop om nie vannaand weer luny te wees nie. Dit sal echt vies wees as ek weer moet wakkerlê...

No comments:

Post a Comment