Sunday, June 8, 2008

Voetspore


Is daar iemand wat nog nie die gediggie van Voetspore gelees het nie? Ek het oor die jare dikwels die kaartjie ook saam met 'n present gekry en kan dit seker in verbatim opsê. "En daar waar jy net die een ry spore sien, is waar Ek jou gedra het, My kind..." Ek reken ek is al so baie in my lewe gedra ek weet nie regtig meer hoe om self te loop nie.

Maar dit nou klaar gesê, ek loop my bene stomp. Saterdag is ons Kijkduin toe. Tot by Westduinpark gestap. Oppad die mooiste drie swane (pa, ma en die ugly duckling) gesien. In Westduinpark het ons tot by die hoogste punt geklim, die kraaie besigtig en toe al die pad tot by Kijkduin op die strand geloop. Ek kom agter my linkervoet gee al meer probleme, veral as ek kaalvoet op die sagte sand loop. Rods reken ek het spesiale skoene nodig en moet so ver moontlik wegbly van enige operasie af. Ek dink nie hy is verkeerd nie, maar ek is nou eers 31 en wil nie regtig nou al ouantieskoene dra nie.

Ons het vandag na die 'kunswerk' naby Catz-straat gaan kyk waar die mini teen die kant van 'n gebou parkeer is (natuurlik weer ge-potifar). Daar is mooi strepe geverf soos op 'n regte pad en 'voila' daar sit die karretjie drie verdiepings die lug in. Kyk op my vorige blog vir 'n prentjie. As jy in Nederland 'n geregistreerde kunstenaar is en dit jou manier is van geld verdien, koop die staat glo 10% van jou kuns elke jaar. Dit help jou en as jy om een of ander rede rich en shameless word, het hulle darem 'n belegging gemaak. Dit veroorsaak natuurlik dat al wat parkie is, oorloop van weird en wonderful beeldjies (en sommige geboue karre teen die kante kry...) Ek dink dis tog te oulik. Moet een of ander tyd 'n folder op picassa sit van 'weird and wonderful statues'.

Die voetbalseisoen begin môre. Dit beteken dat Holland weereens oranje raak. Ons gaan die aand by Mark en Tracie braai en dan later sokker kyk. Ek dink ek gaan later wil huis toe kom :) Vir die laaste paar weke al sit mense vlaggies op en het elke winkel 'acties' (winskopies) op enigiets oranje. Dink die ergste vir my is die koeke wat met oranje versiersuiker versier is. Dit lyk net nie reg nie... Ag wel, ek hoop Holland wen. (teen wie hulle ook al môre speel...)




No comments:

Post a Comment