Monday, June 16, 2008

Oor sokkies en eau de cologne

Wanneer mens in die Bybelse sin een word, wanneer die 'ek' met 'ons' vervang word, vervaag wat jy was tot 'n haas onsigbare vaag onthoude beeld. Dit het my amper drie maande van appart wees gekos om myself te herontdek. Met Rods in Holland, het ek vir nog 'n paar weke kos vir twee gemaak (nee, nou lieg ek, kos vir twee + die menigte wat defnitief een of ander tyd daar sal opdaag). Maar ek het nie grondboontjiebotter gekoop nie, want ek hou nie daarvan nie. Dit het nog 'n paar weke gevat voor die hi-fi redelik luidrugtig begin Hooked on Classics, Billy Joel, Steve Hofmeyr en Laurika Rauch blêr het. Wat my gedra het op die road trip Kaap toe en terug, was die vier Mp3-cds van my gunstelinge; die musiek wat Rods se wenkbroue laat lig. En ja, ek het saamgesing. Hard.

Wat my nou weer terugbring by die 'ons'. Wanneer mens lank genoeg in 'n verhouding is, doen mens allerhande dinge vir 'julle'. Jy klim die berg (en spring van hom af), kyk die fliek, luister die musiek en doen die dinge wat jy dink die ander een van hou. Vir hom. Vir haar. En wanneer jy eendag onvergenoeg is, peul dit in 'n rusie uit. Net sodat jy dan eers, jare later, kan uitvind dat die ander helfte ook nie daarvan gehou het nie, maar dit vir jou gedoen het...

Om so 'n rusie te vermy, vra ek toe vandag my ander helfte van ons 'ons' of hy darem van sokkies hou. Sien, ek hou van sokkies en sjokolade en blomme en lekkerruikgoed en sjokolade - het ek al sjokolade genoem?- en onderklere en uhm, ja... Nou waar was ek.? Sokkies. Ek gee vir Rods sokkies omdat ek daarvan hou - en omdat ek dit dra as hy nie kyk nie. Vir sy verjaarsdag en Kersfees kry hy darem ander presente :) Ek wou al vir hom van die lekkerruikgoed vir mans ook kry, maar hy het altyd nee gesê as ek wou koop. Nee sê is 'n gevaarlike besigheid, want ek sê soms nee, selfs vir sjokolade, maar dit beteken nie hy moenie oor 10 minute terugstap winkel toe en dit tog maar gaan kry nie.

So het ek en Rods toe vandag op ons stappie langs die see 'n TALK gehad. Oor goeters wat mens doen vir mekaar se part en presentjies en alles. Rods sê hy hou van sokkies; nie noodwendig so baie soos wat ek daarvan hou nie, maar ja, sokkies kan gaan. "En eau de cologne?" vra ek. "Kom ek stel dit so," sê my man, "ek hou meer van sokkies..."



No comments:

Post a Comment