Sunday, December 27, 2009

Kersfees 2009

Lanklaas kontaklense gedra, maar dan, wanneer ek dit die dag doen, is die effek net soveel groter.

Opgedress in my Kerstklere. Die rokkie het ek oorspronklik vir my pa se troue gemaak, maar later van plan verander. Vir Kersfees is dit egter absoluut ideaal.


It was the night before Christmas... and nothing happened. Behalwe dat ons albei op die bank aan die slaap geraak het en eers 8uur se kant bygekom het en toe 'n raap en skraap aandete gemaak het. Kersdag self was baie meer eventful. Ons het wel laat geslaap, maar toe huis skoongemaak, wel soortvan skoongemaak, hoender en sampioen gekook vir aandete en heerlik gerus en gelees en Band Hero gespeel voor ons uiteindelik digby 6uur die aand hier uitgewandel het na Thinus-hulle toe. Dis eers toe dat dinge ordentlik begin spoed kry het.

By Thinus-hulle was die huis verskriklik mooi versier in silwer en swart en in die ruite was daar engeltjies en sneeu. Rachid het 'n absolute oog vir decor. Die partytjie was rustig en uitgerek om die hele aand vol te maak. Ons het daar oorgeslaap en ek het so teen 2uur se kant toe die praatjies om politiek en geloof begin draai het, my uit die voete gemaak. Die laaste gaste is eers 5uur se kant daar weg.

Die 26ste - tweede Kerstdag - het ons eers amper 11uur die aand eers by die huis aangekom. Die feestelikhede het so teen middagete se kant hervat toe almal weer ontwaak het. It's the season for stuffing obviously. Ourselves mostly. Die voedsel was heerlik. Die geselskap selfs beter. En die verlange na 'n helder somerkersfees is genoeg gedemp om draaglik te wees.

Oor 5 dae land ons in SA.

Monday, December 21, 2009

Sneeu video

Dit is nie stil nie, nie skoon nie, nie gerusstellend nie.
Daardie vrede kom eers na die storm uitgewoed is
Eers wanneer die donskombers tot rus kom
en die laaste vlokkie sy juiste rusplaats gevind het



Kapsel


Dit was tyd vir 'n verandering. Highlights en lowlights.

Sneeu in Den Haag

Rods en Thinus in Den Haag

Die fiets-standbeeld by Eland straat

Selfs die private vervoer is ingesneeu

Mooi kontras.

Frosty

Tussen die karspore in die sneeu en die geparkeerde karre, loop die tremlyn. Yup, dis hoekom ek vandag by die huis moes bly. Absoluut geen publieke vervoer nie.

A one horse open sleigh?

Valkenboskade waar ons woon
Mr Snow

Dashing through the snow

Dit is Nederland, after all...

Kat voetspoortjies onder die boom in

Geen braai vandag nie

Uitsig by die sitkamer uit

Ek weet nie of iemand die kar gevandaliseer het en of die ou self sy sunroof oop vergeet het nie. Rods reken dis onmoontlik om 'n sunroof van buite af oop te maak. Ek reken die kar staan al vir meer as 'n week op dieselfde plek. Hoekom sal die eienaar net inklim om die sunroof oop te maak? Ek het hom probeer toeskuif en dit was nie heeltemal geluk nie, maar meeste van die dak is darem nou dig. Die sneeu op die sitplekke het vandag nog nie eens begin smelt nie.

Saturday, December 5, 2009

Winkelpop jeans


,
My sussie reken die enigste goed wat regtig goed lyk in very low cut jeans, is winkelpoppe. Want dit lyk amazing - tot jy die waag om te loop, sit of veral te hurk. Ek pas vir die eerste keer in bietjie meer as 'n jaar weer in myne, so vandag is ek net dankbaar. Vannaand gaan ek hulle seker wil vernietig. Maar vandag voel ek wonderlik.

Friday, December 4, 2009

Koeksisters

Bestandele (onder andere) en die deeg wat veronderstel was om onder 'n nat doekie te rus.

Rou koeksisters

Gevoorskoot en al. Nelle the Stepford wife. Met my vandag-geknipte-kapsel

Eindresultaat

Sunday, November 29, 2009

Bijou


My sussie het 'n fyn waarnemingsvermoë. So het sy my eendag daarop gewys dat as ek vir haar klere koop, ek my smaak ipv hare in ag neem. Dit stop my natuurlik nie om vir haar goed te wil koop nie. Die keer het ek besluit sy kort 'n pienk katoog-hangertjie. Hier is laasweek en vandag se aankope by die bijou (juweel) winkel. My eerste gevoel vertel my dat my sussie die linkerkantste hangertjie gaan verkies bo dié aan die regterkant. (Die swarte is my obsdian enetjie en is nie oop vir onderhandeling nie.) Maar my ware gut feeling vertel my dat, hoewel sy welkom is om beide pienk (roze) hangertjies te neem, al drie bijoutjies hier bo eintlik maar my smaak is.

Selfvoldaan


Vandag het ons gaan shoppen. Dit was Koopzondag by In de Boogaard-"mall". In Nederland kry mens mos nie eintlik malls nie, maar In de Boogaard het 'n hele klomp winkeltjies bymekaar en al kry mens vier weergawes van presies dieselfde filiaal, gee ek nie om nie. Dit is naby genoeg aan 'n mall vir my. Ons het verbasend min gekoop. Rods het oorfone en ek het twee hangertjies gekry. (Dit sal seker die volgende blog wees.) Wat 'n heerlike manier om 'n reënerige naweek tot eind te bring.

Vannaand maak ek vir ons eend gaar. Hoe dit gaan proe, weet nugter, want die resep vra vir rooiwyn en by gebrek daaraan, het ek maar Cola light toegevoeg. Dis darem amper dieselfde kleur... Wish me luck... en vir Rods wat dit moet eet.

Dans met die rooi-strap rok



Ek het die naweek skielik 'n lus vir naaldwerk ontwikkel. (Ek kan seker Nederlands wees en sê ek het skielik so lus vir naai gevoel, maar my Afrikaanse wortels is nog te diep om daardie sin sommerso op die web los te laat.)

Sonder 'n patroon (of selfs vassteek-spelde of my overlocker... dis die volgende item op my wish list) het ek die grys rokkie uit velour gemaak. Die materiaal stik moeilik genoeg en om dit sonder spelde aan te durf, is 'n malligheid wat net iemand met Afrika in hulle are sal aandurf. Maar ek het. Al wat hy nou nog kort, is 'n soom en die rooi sequence-band onder die bors-lyn. Vir nou word hy eers gewas (sodat ek seker is die soom hang reg) en vir oulaas getuimeldroog. Na die sequence aan is, sal ek daardie luukse nie meer hê nie.

Ek is onbetaamlik trots op myself oor die stukkie lap wat vorm gekry het. Rare dinge wat mens se lewe sin en nut gee. Myne voel blykbaar soos fluweel.

Raaiselagtige beeld


Paulus van die Bybel het dalk in 'n dowwe spieël gekyk om sy raaselagtige beeld te sien. Hy moes net 'n klomp klein spieëls langs mekaar vasgom het vir dieselfde effek. Is dit nie raar hoe mens jouself sien nie? Hoe die beeld wat jy sien, verskil van dié wat andere sien. Hoe die spieëls wat ons vir onsself ophou altyd ons minste perfekte karakters aksentueer en die deugde verdwerg. En hoe dit soms nodig is, om, soos Sias Reyneke se Sproetjies te hoor Ek wens jy kon jou deur my oë sien.

Tuesday, November 24, 2009

Onweer


Regte herfsweer. Sondag in die stad het die hemele bo my oopgemaak en het ek 'n onverwagte koue stort ondergaan. Was nogal 'n belewenis.

Sunday, November 15, 2009

Sinterklaas in Den Haag


Middel November kom Sinterklaas op sy wit perd, Amerigo (of Slecht Weer Vandaag soos hy in Belgie bekend staan), in Nederland aan. Hy word vergesel deur 'n hele swerm swartpiete. Hulle oorspronklike werk was om die pepernootjies uit te deel aan die soet kinders en die stout kinders in hulle groot sakke te sit en terug te neem Spanje toe. (Wat 'n straf om in die olyfland te moet gaan woon...) Tot 'n paar jaar gelede het hulle ook roede (latte) saamgedra maar met die huidige angstigheid van ouers om hulle kinders teen alles en enigiets te beskerm, moet die roede maar gespaar en uit die oog bly.

Saterdag was heel feestlik. Die Sint is so net na 2 hier deur Segbroek waar ons woon en ons het middestad toe gevlug. Dit was nie noodwendig die beste gedagte nie. Sinterklaas se eindtog was naby die Bijenkorf. Die strate was vol feestelik geklede kinders en hulle moedelose ouers. Daar was orkeste, swartpiete, busse, nobiliteit op hulle perde en natuurlik die Sint met sy grote hoed en spierwit perd. In die winkel waar ek op daardie stadium was, het die verkoopspersoneel begin dans op maat van die musiek en die klante het lustig saamgesing. Dit was te pragtig vir woorde. 'n Nasietrots wat mens warm om die hart maak om 'n glimps van te sien. Ek sien skoon uit na middel Desember se Uittog van die Sint.

Sunday, November 8, 2009

Roderick se verjaarsdag


Vandag was die eerste dag in seker twee weke wat ons sonskyn gehad het. Die hele liewe dag lank. Dit was ook Rods se verjaarsdag. Ons het 'n regte Suid-Afrikaanse braai gehad. Met paptert, mengelslaai, aartappelslaai, boerewors, sosaties en steaks. Nagereg was 'n ewe Suid-Afrikaanse Peperment Crisptert. Ek dink Tracie-hulle was aangenaam verras met die Suidelike smake en Thinus en Riaan net dankbaar. Ek self was verras, maar net oor ek uitgevind het ek en Riaan deel 'n verjaarsdag.

Nou is die kombuis skoon(erig), die mense is weg en ek gaan 'n welverdiende bad gaan vat. As al die verjaarsdae soos vandag is, kan Rods maar enige dag weer sy geboortedag vier.

Monday, November 2, 2009

Howling at the moon



Terwyl ek volmaan nagte in elkgeval wakkerlê, kan ek net so wel kreatief wees. Die foto's is met die hand geneem (ja, ja ek weet, eintlik met die kamera, maar julle weet wat ek bedoel). Volmaan foto's blyk moeilik te wees. Die kamera weet nie waar om te fokus nie. Wanneer dit op die maan self fokus, is die foto te donker om die rande, maar overexposed in die middel. Op die wolke fokus hy net as die maan glad nie in die foto is nie. Ek is bewus van die feit dat daar settings op my kamera is, maar weet ook al van kleintyd af dat as mens aan goeters peuter, jy dit nie noodwendig in die regte orde terugsit nie en later werk niks meer nie. Mens kan seker maar dieselfde van die lewe ook sê.

The Halloween Party that Was Not


Ongelukkig is die partytjie gekanselleer nadat ons voorraad daarvoor gekoop het. Ek skat daar is altyd weer volgende jaar ook. En alles behalwe die pampoen is houdbaar. Die pampoen was miskien nie gekerf nie, maar hy was lekker.

Saturday, October 31, 2009

Petrikor

As iemand my weer vra wat ek van SA mis, gaan ek hulle vertel dis die gewone lysie: Biltong, turksvye, moerbeie (of is dit met 'n lang Griekse y?) braai, sonskyn, swem en petrikor. Petrikor is volgens Wikipedia nie net die reuk van reën op droë aarde nie (dink Karroo), maar ook dit wat in die ewe Griekse as die lang y se gode se are gevloei het. As die gode daardie reuk met hulle rondgedra het en soos Herculus gelyk het, verklaar dit vir my nou nogal heelwat.

Friday, October 30, 2009

Delft saam met James en Roderick

Rods en James voor Delft se skewe kerk

Kibbleling. Yum.

'n Aqua-fiets

Die oranje kar voor die oranje luike maak die prentjie net mooi perfek

Familiewapens bo die deur
Klein feetjie-dogtertjie op haar fietsie oppad

Klompe en klompe klompe

Waterbrug

Sonsondergang silhouette


James is 'n laerskoolvriend van Roderick. As my wiskunde reg is, ken hulle mekaar al drie dekades lank. Auch. Ek skat die is die jongste wat ons ooit weer gaan wees.

Herfs 2009


Herfs 2009

Die onskuldige passies het ek eers gemis
die skugter gewieg soggens vroeg
Die verleidelikheid saans het my oog ook ontgaan
maar vir eers was confetti genoeg

Tot die vurige vloed van haar arms afdruip
En die waarheid stort onstopbaar neer
Na die klimaks van hierdie ontkleedans
lê bewyse daaronder soos botter gesmeer

Friday, October 23, 2009

Notenjag

Die groen bome regs agter, is neubome
Die foto is nie heeltemal skeef nie. Ons het vandag agtergekom presies hoeveel opdraande daar in Nederland is.
'n Duidelik manlike engel
Nadeel van herfs

Nederlands vir neute is noten. Een van my medewerkers het my vertel hoe hulle elke herfs op 'n notenjag gaan. Want baie mense se bome hang oor die sypaadjies (stoepen) en munisipaliteite plant hele lanings vol van die goed. Gewapen met ons fietse gaan ons toe vandag op 'n ekspidisie. 2 (wat ek vermoed) Kastanjeeneute en omtrent 12km verder... Maar vandag was 'n pragtige redelik windstil sonnige dag. Om uit te kom was absoluut die moeite werd.

Ons het in die rigting van Madurodam verby die neutbome by Stadhoudersplantsoen waar die IND is, gery, tussen die natuurlike bos deur tot by die park daarnaby. Ons reis is deur Scheveninge voortgesit en ons het 'n welverdiende water langs die see sit en drink. Op ons terugreis het ons uitgevind dat, nes die supermarkte, ook Gamma (soos Builders Warehouse) nie steenkool vir braai aanhou nie, maar dat die liewe Shell garage hier naby ons huis dit wel in voorraad het. Ons beplan 'n braai vir Rods se verjaarsdag, sien.

Nou moet ek gaan huis skoonmaak. 'n Ou laarskool pel van Rods kom kuier more oggend vroeg-groeg al by ons, slaap die aand oor en gaan Sondagmiddag terug na sy hotel naby Schippol toe. Hy is hier vir 'n kursus en al wat hy van Nederland gesien het, is die 1 km van die lughawe tot by sy hotel toe. Shame. Nou gaan ons hom Den Haag en Delft gaan wys en as hy gelukkig is, ook 'n windmeul iewers. Maar nou, eers die huis regtrek.