Sunday, November 15, 2009

Sinterklaas in Den Haag


Middel November kom Sinterklaas op sy wit perd, Amerigo (of Slecht Weer Vandaag soos hy in Belgie bekend staan), in Nederland aan. Hy word vergesel deur 'n hele swerm swartpiete. Hulle oorspronklike werk was om die pepernootjies uit te deel aan die soet kinders en die stout kinders in hulle groot sakke te sit en terug te neem Spanje toe. (Wat 'n straf om in die olyfland te moet gaan woon...) Tot 'n paar jaar gelede het hulle ook roede (latte) saamgedra maar met die huidige angstigheid van ouers om hulle kinders teen alles en enigiets te beskerm, moet die roede maar gespaar en uit die oog bly.

Saterdag was heel feestlik. Die Sint is so net na 2 hier deur Segbroek waar ons woon en ons het middestad toe gevlug. Dit was nie noodwendig die beste gedagte nie. Sinterklaas se eindtog was naby die Bijenkorf. Die strate was vol feestelik geklede kinders en hulle moedelose ouers. Daar was orkeste, swartpiete, busse, nobiliteit op hulle perde en natuurlik die Sint met sy grote hoed en spierwit perd. In die winkel waar ek op daardie stadium was, het die verkoopspersoneel begin dans op maat van die musiek en die klante het lustig saamgesing. Dit was te pragtig vir woorde. 'n Nasietrots wat mens warm om die hart maak om 'n glimps van te sien. Ek sien skoon uit na middel Desember se Uittog van die Sint.

No comments:

Post a Comment