Thursday, June 4, 2009

Drie lande, Drie dae, Drie duisend kilo's

"From the moment your knuckles turn white, until the moment you regain conciousness, it is the
ride of your life..."

Saterdag is ons hier uit en in die kar in oppad na ons Duitsland-ekskursie. By die laaste stop in Nederland, het ons die kar vol diesel gestop en twee interessante studente ontmoet; Joost en Arno. Hulle het deelgeneem aan 'n lift-kompetisie van Nederland tot die Ruhr-gebied in Duitsland. Ek is redelik seker hulle het gewen. Hulle reken die Jaguar was die vinnigste en mees luukste rit wat hulle nog gehad het. Grand Tourismo voorwaar.

Naby Koblenz het ons die snaaksste radiostasie raakgeluister. Hulle speel bekende en ook goeie popsongs - maar meestal vertaal in Duits. So tussendeur is daar ook regte juwele. Ek het my besimpeld gelag toe She'll be coming around the mountain in Germaans oor die luidsprekers dawer.

Koblenz is die begin van die Kasteel-roete. Ok, tussen Bonn en Koblenz is daar twee kastele, maar tussen Koblenz en Mainz is daar tientalle. Koblenz het 'n lieflike vesting bo op een van die koppe en na ons 'n uur of so daar rondgeloop het, is ons al langs die Ryn (Rhein) af. Ons het ons vergaap aan al die kastele, burge, vestings en torings. Dit is 'n mooi stuk wêreld daardie.

Die aand het ons in Hirschberg oorgebly. Ons hotel was aan die einde van die dorpie en ons kamer het uitgekyk op die hotel se kruie en groentetuintjie, oor velde vol aarbeie en boorde vol kersies. Soos die voetgangers en fietsryers daar deur beweeg, word vruggies gepluk en geknibbel. Lyk vir my heeltemal te gesond; selfs vir Duitsers.

Sondag oggend het ons vroeg opgestaan en na 'n lekker ontbyt, het ons Heidelberg toe gery. Heidelberg van die Student Prince. (Nie die een by die Suikerbosrand nie - ook nie die een daar naby Gesina in Riversdal nie.) Heidelberg was spectacular. Ek het die foto's en poskaarte en yskasmagneet om dit te bewys.

Ons pad van daar af na Neuswanstein op die Duitsland/Oostenryk grens het bietjie langer geneem as wat ons gereken het, want daar was groot stukke autobahn wat met padwerke belemmer was. Ons moes selfs 'n stuk deur van die klein dorpies ry. Dit was pragtig en het ons gelei tot 'n dorpie Fussen. Die rivier daar is ligblou, poeierblou, turkooisblou en ietwat melkerig. Dit is oor die rivier direk uit 'n gletser (in Oostenryk) vloei en daar heelwat dolomiet in die gesteentes is.

Van daar is dit 'n paar minute na die Neuswanstein sprokieskasteel. Dit is 'n blog op sy eie. Oe dit was pragtig...

Ons is met sonsondergang uit Duitsland uit in Oostenryk uit. Die mis het in vlae oor die berge neergedaal . Ons het foto's van die turkoois waterval by Musau geneem en 'n paar kilo's verder oorkant die brandweerstasie in Pflach gestop. Dit was bietjie koud na my sin (ons het natgereën by die Sneeuwitjie-kasteel) so ek het binne in die kar gesit en 'n vinnige sketsie van die vreemde boombedekte berge en mis, die halfmaan, die skewedak-skuurtjie en die dennebome gemaak. Ek wens ek kon regtig teken.

Maandag het ons oppad Swartwoud toe by 'n autobahn-kerkie gestop. Dit was bietjie weird, want die kerkie was piramide-vormig en voor dit was iets wat soos 'n totem-paal gelyk het. Maar dit was 'n regte kerkie. Daar was selfs 'n slapende ou in een van die banke.

Die swartwoud was alles wat ek verwag het. Dit was groot en groots. Daar was dorpies die grootte van sikspense, 'n paar klein stadjies, genoeg bome om 'n paar arke te bou en genoeg koekoeklokke (uhren) om die tyd vir altyd te laat stilstaan. Ek het 'n regte swartwoudkoek in die swartwoud geëet en eers 2uur die volgende dag by die huis ingeloop. Dit het werk die volgende dag moeilik gemaak, maar boy oh boy dit was die moeite werd.

No comments:

Post a Comment