Sunday, February 1, 2009

Jakkals en wolf

"Dagsê, dagsê al julle mooi kindertjies. Oom Dana het gehoor dat julle so soet was en nou gaan oom Dana vir julle 'n storie vertel. Die storie van Jakkals en Wolf."

Ai, those were the days. Vandag is ek gou stad toe. Tegnies om vir Rods alleentyd met sy boeke te gee, maar eintlik oor ek nou-die-dag my salaris gekry het, en my vingers jeuk om van dit uit te gee. Ek probeer dit regverdig deur presente vir die mense van my Kaapstad-besoekie te kry. Van dit is koopbaar, maar my oom soek, behalwe vir die hollandse vuurhoutjies (wat hier lucifers genoem word) ook drie klippies. Ek kan my net indink wat ek vir doane gaan vertel as hulle my daarna vra... Mevrou, wat wil jy met memory sticks, klippe, vuurhoutjies, magnete, koffie, hollandse dvd's tee, spekulaas en babaklere maak? Uhm.

Vandag was 'n dag vir die dinge wat geld kan koop. Oppad na die tremhalte toe, het dit begin sneeu. Dis nie regtig so raar hier nie. Wat wel ietwat vreemd was, was die blou lug en die sonskyn. As die reën val terwyl die sonnetjie skyn, noem ons dit Jakkals trou met wolf se vrou (Monkey's wedding). Wat sal die sneeu-weergawe daarvan wees?

Dis 'n oorweldigende gedagte om te dink ek gaan van -4 na +30. Dis 'n indrukwekkende gedagte om te dink wie ek almal daar in die paar dae in die hitte gaan sien. Maar dis 'n angswekkende gedagte om te dink dat ek hulle dan weer daar gaan moet los. Hoewel ek moet bieg, nie so skrikwekkend soos die vier kilo's wat nog moet verdwyn voor dan nie. 24 dae...

No comments:

Post a Comment