Saturday, September 27, 2008

Delft en Brussels




Gister was my vrije vrijdag. (Klein lettertjie in Nederlands is reg gespel.) Ons is almal vroeg oggend Rotterdam toe. Daar moes Rods werk toe, so ek en ma het heerlik rondgeloop en onder andere gekyk hoe 'n brug oplig vir 'n boot om deur te kom. Dit bly vir my interessant. - al vermoed ek dat die ouens wat haastig oppad werk toe is, anders voel Van daar af is ons (eerste klas nogal!) Delft toe. Nou in Delft is daar baie te doen. Dis 'n pragtige dorpie. Maar die enigste rede hoekom ons uitlanders die eerste keer daarheen gaan, is die porseleinfabriek. Om daar uit te kom, ry mens met 'n bussie wat in delftblou-patrone geverf is. Die toergids was vreeslik geselserig en ons het geleer dat Delft eers Delf was, toe t'Delf en eers na dit Delft. By die Koningklijke Porselein Fabriek maak hulle soveel meer as net borde. Hulle maak ook hele insetsels vir mure en beelde vir katedrale. Dit is selfs mooier as die breekgoed. Daar is ook 'n meer as lewensgrootte weergawe van Rembrandt se Nagwag, tulpfase en soveel meer. Maar goeie magtag daardie fabriekswinkel is duur! Ek is jammer, maar 120 euro vir 'n koppie en pieringtjie wat soos speelgoed lyk, is bietjie erg.

Ma wou graag 'n souvenir hê, so ons is daarna in Delft se center in. Dis te pragtig. Ons is by 'n hele paar pragtige winkeltjies in waar ware Delft heelwat goedkoper is as by die fabriek, maar ek het iets heel anders gekry wat ek sommer baie lankal begeer het. Klompe. Maar nie die harde houtgoed wat mens net vir paperweights kan gebruik nie... o nee, die sagte fluffy pantofeltjies. Hulle is te cute vir woorde. Lekker gemaklik ook, mind you.

Vandag is ons België toe. Ons is bietjie later as beplan uit die huis uit, so ek het vandag 'n bol deurmekaar krulle gedra ipv my ietwat meer besadigde werkskapsel. Ten spyte van ons gehardloop vir die trem, was ons nie betyds by die stasie vir die internasionale trein nie, so pleks van knorrig wees, het ons in die mark gaan rondloop vir 'n ruk. Ek het dit baie geniet. Rods het vandag darem ook, want ons het poffertjies gekoop. (Hollandse pannekoekies)

Brussels was 'n stad van oordadigheid. Ons het geëet en gekoop. En dit was lekker. Al wat nie lekker was nie, was die soektog na 'n leerbaadjie. Hulle het 'n binnehuise vlooimark waar amper elke tweede stalletjie mooi mooi leerbaadjies verkoop. Ek soek enetjie wat tot op my knieë hang en wat mooi getailor is dat dit soos 'n rokkie lyk. Nadat selfs die 4XL vir my te klein was, het ek moed opgegee. Party dae is nie goed vir mens se ego nie. Ek dink die enigste een wat ok gevoel het, was Mannekenpis. Vir een of ander odd rede was die standbeeldjie vandag geklee. Ek het darem 'n hele boel van sy replikas gekry om stil te staan vir 'n foto.

Vannaand oppad terug huis toe, moes ons tremme wissel. By die tremhalte sien ek toe 'n kattie voor die karre inhol en fietse dodge. Ek gaan vang toe maar die gediertetjie en kry 'n pilhouertjie om sy nek. Die briefie binne-in was so styf opgerol dat ons eers gedink het dis 'n chip. Maar dit blyk toe die kat se naam is Sloerie en woon net om die hoek. Ek het Rods en Mom maar huis toe gestuur en gaan bode speel. Die meisie wat die deur oopgemaak het, was na my sin nie suitably dankbaar nie, maar ek het ten minste bietjie oefening ingekry terug huis toe.

En al die oefening en sukrose het my nou goed gaar.

No comments:

Post a Comment