Friday, September 12, 2008

9/11 in Europa

WC (water closet) is die standaard aanduiding in Euoropa (en Engeland) dat iewers daaragter 'n deur met 'n seuntjie of dogtertjie op is. Die knapie is Mannekenpis waarvan daar 'n standbeeldjie in Brussels rondstaan. Heel toepaslik dus vir Brussels se WC's...


Rods het my gister gevra of treinry vir my al sy novelty verloor het en ek het nee gesê. Daar is 'n vreugde om met openbare vervoer (wat werk) jou weg te vind. Om tyd te hê om te lees en jouself in die verbygaande landskap te verloor; of sommer net jouself in jouself. Dit was gister. Vandag voel ek ietwat anders oor treine. Daar is heelwat redes hiervoor. Die grootste is seker omdat ek nou hier in Den Haag voor my rekenaar sit en nie besig is om saam met die London-gebasseerde Smiths uit te eet nie.

Ek is gistermiddag inderhaas by die lab uit. Half vier. Om so vroeg te kon tjaila, moes ek 7uur al by die werk wees. Die son en ek het saam teen die werkstrap opgegaan. Ek het die van die trein in Den Haag sentraal gesnol vir die tremstop en net betyds en heel uitasem op die regte trem huis toe gespring. Hier ingehardloop het ek darem tyd gehad vir bietjie rus voor ons, ons rugsakke vol kameras en die groot blou tas hier uit is na Den Haag HS stasie.

Ons was 'n kwartier vroeg op HS. Wat 'n goeie ding was, want daar het 'n afkondinging ons vertel dat die internasionale trein nie vanmiddag op HS stop nie. Ons klim toe maar op die intercity, ry Rotterdam toe, verwissel peronne en klim op die pienk internasionale trein Brussels toe. Die intercity was verskriklik vol en Donderdag was 'n snikhete dag so die aroma was maar aan die ryp kant. Die pienk trein was nie veel beter nie, maar daar het ons ten minste sitplek gekry. Die sakkende son het reg in my oë geskyn, maar gelukkig is ek aan die lees aan Fragile things en het die groot hardeband boek, wat 'n heel effektiewe sonskerm maak.

Uiteindelik in Brussels was ek en Rods so bly dat ons ten spyte van die snaakse treinrooster wel 'n uur voor ons vertrek op die regte stasie is, dat ons besluit het om dit te vier met 'n heerlike pastagereg en Belgiese wafels. Belgiese wafels is lekker. Myne het deurdrenk in sjokoladesous saam met 'n skep hemelse roomys voor my beland. Sugar rush absolutely galore. Ek moet dalk regtig toets vir diabetes. Rods het my al gewaarsku that he married me for life; not just a few years, so ek moet seker een of ander tyd my skete uitsorteer. Nou daar is twee maniere om van 'n sugar rush ontslae te raak. Een is oefening. Vat 'n rukkie, maar heel effektief. Die ander een is om 'n groot genoeg skok te kry en dus so adrenalien op te gebruik wat op sy beurt weer die suiker aftakel. Ek het onwetend vir laasgenoemde geopt.

Volgens die website moet mens 'n halfuur voor die tyd by die Eurostar inboek. Amper soos by 'n lughawe. Jy gaan deur paspoortkontrole en alles. Behalwe dat ons toe nooit daar deur is nie. Daar was 'n brand in die Eurotonnel. Die tonnel wat vir baie kilometers onder die oseaan deurgaan en Engeland en Frankryk verbind. Die tonnel waardeur slegs treine mag ry. As jy daar wil deur, ry jy op 'n trein op en dié ry met jou op sy rug deur die tonnel. Veiliger so. Tot een van die chemikaliëlorries op een van die treine aan die brand geraak het. Toe is dit nie meer so veilig nie.

Dit was Donderdag so om en by 2uur. Kon hulle ons nie op die Den Haag stasie al vertel het nie... Die tonnel is nog steeds toe. En daar sit Eurostar met 2000 baie ongelukkige kliënte wat skielik gestrand is. Ons het 'n briefie by hulle gekry wat sê ons moet in 'n hotel inboek vir die nag. Hulle sal die koste dra. Maar ons moet self betaal. Hulle sal ons later vergoed. Die laaste trein Den Haag toe het toe reeds vertrek. Ons volg toe maar 'n baie vriendelik hotel-represent wat van die groot hoeha gehoor het en kanidate vir die hotel kom aas het, se raad en gaan bly in hulle hotel teen 'n kleinhuisie vol geld. Die een aand in die Brusselse hotel het ons - of teoreties dan vir Eurostar - meer gekos as ons booking in Engeland vir die hele naweek.

Die tonnel is steeds nie oop vir gebruik nie, so ons het dit oorweeg om die ferry of self 'n vliegtuig te vat, maar dit maak nie regtig sin nie. Alles is oorvol en daar is geen kans op die afslagpryse van lank voor die tyd boek nie. Bovendien is daar ander mense wat die plek op die vervoer dringender nodig het as ons.

Maar terwyl ons toe nou in Brussels was, het ons maar vandag gebruik om daar rond te loop. Ons het genoeg sjokolade gekoop om my dood daaraan 'n oordosis-selfmoord pleks van 'n ongeluk te maak en ons die deurdringende reën getrotseer tot naby 4uur vanmiddag. Die hotel was vriendelik genoeg om ons toe te laat om ons bagasie daar te stoor so ons hoef nie die logge tas saam te gesleep het nie. Daar is genoeg Hollandse presentjies daarin om 'n klein olifant vir 'n middag te voer. Mits die olifantjie drop, spekulaas en stroopwafels eet, natuurlik.

Op Brussels se stasie het ons 'n paar interessanthede opgemerk. Daar staan 'n klavier op 'n klein podium en die sit en speel homself. Daar kom klank uit die klavier en die note beweeg in en uit, maar dia pianis bly onsigbaar. Vanmiddag was daar 'n volle simfonieorkes. In die middel van die stasie. Met tjello's en viole, klarinette, groot keteldromme en allerhande musiekinstrumente waarvan ek nie die name ken nie. Ek het maar vir Rods probeer troos - hy voel vreeslik oor die naweek nie reg uitgewerk het nie - en hom vertel dis regtig gaaf van hom om al die moeite te doen om my na 'n simfoniekonsert te neem. Hy reken, alles in ag genome, is dit die duurste konsert waar hy nog ooit was. Ten minste is ek nie 'n goedkoop date nie...

Wel, nou is ons terug in Den Haag. London moet maar 'n paar weke wag. Ai.

No comments:

Post a Comment