Saturday, September 6, 2008

Amsterdam in a wink



Goeie magtag maar parkering in Nederland is duur! Ek het amper 'n hartaanval gekry toe ek sien dat die parkering 20x per 3 minute is. Maar Rods het my vertel hy sal dit kan betaal, so ons is na die groot blommemarkt toe. Pragtig! Ek is 'n Venus fly trap en 'n monkey cup ryker. Of armer, afhangende van hoe mens na die saak kyk.

Vir Rods het ek die interessantste kaktussie hier bo gekry. Die onderste helfte is gewone groen kaktus. Die boonste gedeelte is 'n obligate parasiet, want omdat dit pragtige kleure soos rooi en pienk en geel is, kan dit nie fotosinteer nie. Dit word al as klein bolletjies bo-op die ander kaktusse geënt. Daar vermenigvuldig en groei dit, maar die leeftyd is gewoonlik nie veel langer as 'n jaar nie en die truuk is om hulle betyds oor te ent na 'n nuwe kaktus.

Ons het vandag die rooiligdistrik misgeloop. Ons het wel die boekwinkels raakgeloop. Is ook in die torture museum in. Daar word allerhande pynlike en pynveroorsakende apparate (onder andere die iron maiden) uitgestal. Ek het deur alles gekyk en redelik gewalg daar uitgeloop. Nie net oor die goed uitgedink en ge- en misbruik is nie, maar oor die mens inherent nog niks verander het nie. Gee ons 'n kwart van 'n kans en amper enigeen wat glo dat hy die reg daartoe het of die kans het om iemand te martel en daarmee weg te kom, sal dit sonder enige gewetenswroeging doen. Die mens het nog niks verander nie. Ons beskaafdheid is maar 'n baie dun lagie veneer wat maklik afgegooi kan word.

Net die vorme van marteling het verander. Dit het ek terug by die kar uitgevind. Die parkering het amper 16 euro gekos...

No comments:

Post a Comment