Tuesday, September 30, 2008

Planne vir Parys

Die naweek gaan sommer 'n baaaie lang een wees. Ek het vrijdag en maandag af en gaan die meeste uit die naweek tap. Vrydag is 'n vakansiedag vir almal wat in Leiden werk, want omtrent 500 jaar gelede het Leiden getrou gebly aan Willem van Oranje en toegelaat om hulleself te laat uithonger deur die Spanjaarde. Dit is vir my die vreemdste gedagte om iets wat 'n halfmillenium terug gebeur het, te gedenk, maar nie vreemd genoeg dat ek wel sal gaan werk nie... So Vrydag gaan ek en Mom die feestelikheid gaan gade slaan. Die gebeurtenis gaan glo met stamppot, witbrood en haring gepaard.

Ook op die spyskaart vir Vrydag, is Alkmaar. Dis 'n dorpie noord van Amsterdam en hulle het elke Vrydag 'n kaasmark. Ek en ma gaan natuurlik om hulle kanale te besigtig...

Saterdag, so is die plan, vat ons die kar en ry deur drie lande om Parys toe te gaan vir die naweek. Dit gaan heeeerlik wees. Ons gaan die Eiffel toring beklouter - hopelik met die lift - die Notre Dame se binnekant besigtig, en Sondag oggend 'n rukkie stilsit in die majestieuse wit kerk op die heuwel waarvan ek die naam nie kan spel nie, maar wat sacred heart beteken. Ek wil Rods se rubber arm draai dat hy in die romantiese stad vir my en sy ma parfuum kry en ek sien myself in 'n rokkie aan die trippel op die mooi gesementte walle van die Seine. Dis ook nie te vergesog om iewers te gaan stilsit met 'n glasie wyn in die hand nie...

Die keer gaan ek weer die Louvre net van buite af besigtig, wetend dat die Mona Lisa geduldig sal wag. Eendag, wanneer een van die kunssinniger vriende kom kuier, sal ek saam met hulle 'n dag daar gaan deurbring en die skoonheid van eeue oor my laat stuif, maar dis 'n droom vir 'n anderdag.

No comments:

Post a Comment