Thursday, October 30, 2008

Vriesland

Net noord van waar ek is, woon die Friese. Ek weet nie of dit is waar Frieskoeie ook vandaan kom nie, maar dis teoreties 'n goeie raaiskoot. Gisteroggend het ek by die woonstel uitgewandel en 'n byt in die lug opgemerk. Mens weet net wanneer die nag onder 0 grade gaan draai het. Mens weet dit net. Ek was dus nie heeltemal so verbaas toe ek sien dat al die karre in die straat behalwe die wat onder die bome geparkeer is, se voorruite heeltemal toegeys is nie. Ek het selfs met 'n bietjie leedvermaak toegekyk hoe een ou dit probeer afskraap het. Die res van gister het heel goed uitgedraai en dit was 'n lieflike sonnige dag - al het die kwik nooit hoër as 10 gegaan nie.
Vanoggend het ek die ys verwag en gevind. Tog te fraai. Oppad Leiden toe sien ek toe iets wat ek gister heeltemal gemis het oor ek toe sommer by die treindeur staan en koerant lees het terwyl ek wag om op die volgende stasie af te spring. Vandag het ek bo gesit met die goeie uitsig wat daarmee gepaard gaan. Tussen die streinspore en op die stawe was dit spierwit. Selfs van die gruis was bedek in 'n lagie watte. Die velde waarlangs die trein verbyhaas, is suiwerwit soos ysskaatsbane en die bome glimmer en skitter vol kristalle. Tussendeur wei die beeste rustig aan hulle grasroomysies en die ganse sit op die wal; vroegoggend vies vir die water. Waar die skape heen is, weet nugter, maar die perde by Voorschoten was vanoggend skoon baldadig. En oor alles, verbeel ek my daar bo uit die trein uit, hang daar 'n stilte so wit soos die winterland.
As 'n landskap binne een nag so kan versuiwer deur slegs 'n lagie ryp, kan ek nie wag vir die eerste sneeu om te val nie.

No comments:

Post a Comment